News

Minder skrootwerflisensies dalk oplossing vir kabeldiefstal

Skrootwerwe se rol by kabeldiefstal is 'n brandpunt wat nou deur rolspelers as prioriteit aangespreek word met minder lisensies, die toemaak van sulke werwe en strenger inspeksies oor nakoming.

Verskeie rolspelers wil saamstaan om die vloedgolf van kabeldiefstal in die Moot die hoof te bied aangesien talle huisgesinne, besighede en skole se werksaamhede ernstig hierdeur bedreig word.

Volgens adjunk-offisier Marinda Austin, woordvoerder van die Villeria-polisiekantoor, het die polisie ’n besluit geneem om die goedkeuring van lisensies vir skrootmetaalwinkels te beperk. Dit vorm deel van ’n strategie om kabeldiefstal en die onwettige handel in gesteelde koper te bekamp.

“Dit verhoed ook handelaars om onwettig te werk en beperk maniere vir gesteelde metaal om die mark te bereik. Hierdie beperking op die goedkeuring van skrootmetaallisensies het ten doel om as ’n afskrikmiddel te dien vir diegene wat die bedryf vir kriminele gewin wil uitbuit,” glo Austin.

Maandelikse vergaderings word deur die polisie met skrootmetaalhandelaars gehou om die belangrikheid daarvan te beklemtoon om nie gesteelde metaal te koop nie en om voldoening aan regulasies te verseker.

Hierdie platform word ook gebruik om handelaars op te voed oor die wetlike gevolge van handel in gesteelde koper en ander metale wat met infrastruktuurdiefstal verband hou.

“Sommige regulasies laat toe dat gesteelde koper met min oorsig deur skrootwerfeienaars herverkoop word. Dit is so belangrik dat tweedehandse winkels en skrootwerwe hand aan hand met wetstoepassers werk om die herverkoop van gesteelde koper te bekamp,” maan Austin.

Volgens haar is een van die oplossings wat reeds in plek is, is die instelling van gespesialiseerde polisie-eenhede.

 

Hierdie eenhede sal fokus op infrastruktuurverwante misdade saam met Eskom, Transnet, Prasa en ander rolspelers.

“Maandelikse nakomings-inspeksies word ook deur die polisie by skrootwerwe gedoen om kabeldiefstal te bekamp en om te verseker dat regulasies binne die skrootmetaalsektore nagekom word. Hierdie inspeksies word gedoen om die wettigheid van koper te verifieer, en behoorlike rekordhouding te verseker. Deur hierdie gereelde inspeksies poog owerhede om onwettige transaksies te voorkom, nakoming te versterk en aanspreeklikheid te verbeter,” verduidelik Austin.

Volgens haar is verdere oplossings vir die bekamping van kabeldiefstal die aanmelding deur die gemeenskap van verdagte aktiwiteite sowel as die installering van sekuriteitsmaatreëls deur sakelui en inwoners.

Sy sê dat werkloosheid en armoede dryf individue om kabels te steel en die plastiese omhulsels af te brand om vinnige geld te verdien.

“Dit is nie moontlik vir die polisie om alle infrastruktuur daagliks effektief te monitor vir 24-uur nie. Daarom is die gemeenskap en sekuriteitsmaatskappye so belangrik om die polisie by te staan om kabeldiefstal te voorkom,” glo Austin.

Sy wys daarop dat baie infrastruktuurterreine het nie behoorlike toesig en beskerming nie. Sulke terreine word maklike teikens.

Raadslid Mari Joubert

Raadslid Mari Joubert van die Vryheidsfront Plus sê besighede en inwoners word nadelig deur diefstal en vandalisme van infrastruktuur beïnvloed.

“Besighede is afhanklik van kliënte en wanneer hul krag af is, moet baie noodgedwonge hul deure vir ure lank sluit. Inwoners kan ook nie sonder elektrisiteit in hul huishoudings funksioneer nie. Daar is bejaardes wat op suurstof is en hul apparaat het beperkte batteryvermoë. Dit is onregverdig dat kinders met hul skoolwerk se voltooiing gestraf moet word weens kabeldiewe se misdadige optrede. Baie huishoudings kan nie kragopwekkers bekostig om ’n warm bord kos voor te berei nie,” sê Joubert.

Vir Joubert is die ergste hiervan dat onskuldige mense die teiken van misdadigers geword het.

Sy meld dat die metro op elke klagte reageer, maar oorweldig is deur die aantal klagtes.

“Hierdie tendens kan nie langer voortgaan nie. Die enigste oplossing is die patrolering van paaie en substasies. Die metro het hiermee ’n spesifieke verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap van Tshwane. Dit is nou tyd om die private sektor in ’n veiligheidsplan in te sluit.”

Premier Panyaza Lesufi het in sy provinsiale rede op 24 Februarie vanjaar na die vermindering van kabeldiefstal as een van die provinsie se prioriteite uitgewys. Meer as ’n duisend skrootwerwe is reeds volgens Joubert gesluit.

“Maar dit is nie genoeg nie. Daar is steeds afsetgebiede vir koperkabels. Die oplossing is die metropolisie moet gereeld op sulke besighede toeslaan,” glo Joubert.

Metro-woordvoerder Lindela Mashigo sê die integriteit en werkverrigting van die elektrisiteitsverspreidingsnetwerk in die Moot word erg aangetas deur voortgesette diefstal en vandalisme.

Metro-woordvoerder Lindela Mashigo

“Die area ervaar tans ongekende vlakke van diefstal, veral wat koper, oorhoofse geleiers en huisverbindingskabels teiken,” beklemtoon Mashigo.

Volgens hom is diefstal van mediumspanningkabels vanaf Koedoespoort-substasie na die Waverley-omgewing onder die N1-hoofweg ook ’n uitdaging.

Tans is 80% van die oorhoofse geleiersnetwerk in die Moot-gebied steeds op koper gebaseer, wat dit ’n groot teiken vir diefstal maak.

Die metro het wel gebeurlikheidsplanne in plek om die inwoners van die Moot te help, verduidelik Mashigo.

“Gesteelde kopergebaseerde oorhoofse lyne word vervang met aluminiumgeleiers. Die stad se langtermynplan is om kopergeleiers met aluminium te vervang in gebiede met hoë diefstal, insluitend die Moot-gebied. Wanneer daar onderbrekings is, word wetstoepassers ook gevra om ekstra wetstoepassing te doen in hierdie areas om misdaad te voorkom.”

Hy beklemtoon dat die toenemende vlakke van diefstal die dringende behoefte aan talle alternatiewe oplossings noodsaak.

“Die inwerkingstelling van sulke oplossings moet gedoen word voordat die kabeldiefstal-situasie eskaleer tot katastrofiese vlakke. Verdere besprekings en strategiese ingrypings is dus deurlopend nodig om die elektrisiteitsinfrastruktuur te beveilig.”

Die polisie beplan ‘n strategie rondom skrootwerwe om kabeldiefstal te beperk.

In Februarie was daar onder meer die volgende aanmeldings van kabeldiefstal:

– In Koedoespoortstraat, het ’n onbekende aantal verdagtes kragkabels gesteel;
– In Codonialaan, het verdagtes kragkabels by pale H53 en H54 gesteel;
– By Nico Smitstraat en 29ste Laan het verdagtes het kragkabels by pale 20-21 gesteel;
– In Begemanstraat, het drie verdagtes kragkabels geknip en gevlug toe hulle die wag in die perseel sien;
– By Jacobsstraat en 15de Laan, is een verdagte betrap toe hy probeer het om kabels te steel;
– In Frederikastraat, het verdagtes kragkabels geknip maar nie met die kabels weggekom nie;
– In Pierneefstraat, is kabels by pale 14-15 gesteel;
– In Elandstraat, is kragkabels sowel as ’n kamera by ’n besigheidsperseel gesteel;
– In Cunninghamlaan en Frystraat, is kabels by paal 20 gesteel en ook by paal 33;
– Ook in Alice-, Trouw-, Pierneef-, Lavender- en Japonicastrate is kabels by pale gesteel of geknip;
– In 30ste Laan en Hertzogstraat, is drie verdagtes gesien wat kabels by paal 53-54 sny. Die verdagtes het gevlug in ’n voertuig wat soos ’n Ford Ranger-bakkie lyk.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button