Pretoria-sangers gekies vir mentorskapprogram
Twee sangers van Pretoria het die kans om deur te dring na 'n volgende ronde in 'n kompetisie sodat hulle in ’n ATKV-Crescendo-produksie kan optree.

Ná ’n tydjie van wik en weeg is 22 finaliste aangewys uit vanjaar se inskrywings vir die ATKV-mentorskapprogram wat van 30 Maart tot 6 April in die Paarl gaan plaasvind.
Twee van hierdie finaliste is van Centurion, Pretoria. Daar is Vincent van As Jr. oftewel volgens sy verhoognaam Vanas Rain (39), ’n kreatiewe mens en winkelsentrumbestuurder en Lizl Simoes (23), ’n klavierjuffrou wat besig is met ’n meestersgraad in musiek.
Deelnemers kon hulle oorspronklike liedjies digitaal inskryf of persoonlike oudisies by ATKV-Crescendo se talentsoekers in die Tuinroete, Klein-Karoo, Weskus, Atlantis of Worcester doen.
Vanjaar is daar ook vir die eerste keer oudisies in Namibië gehou, wat twee finaliste opgelewer het.
Simoes vertel dat sy “vreeslik opgewonde is om ’n finalis te wees. Dit is ’n wonderlike geleentheid en groot voorreg om deel te wees van hierdie program!”

Haar geloof in God is haar eerste en grootste inspirasie.
“Ek sien Sy kreatiwiteit elke dag wanneer ek by die deur uitstap en Sy skepping aanskou. Ek kan nie anders as om Sy lof te besing nie,” vertel Simoes.
Sy beskryf haarself as hardwerkend, toegewyd, en hoopvol. Sy bewonder Bernice West omdat sy haar hele hart en geloof in haar musiek uitstort.
“Sy versprei vreugde en hoop regoor die land. Wat ’n voorbeeld!”
Van As se eerste gedagte toe hy hoor hy is ’n finalis was: “Is dit rêrig? Ek moes die e-pos ’n paar keer lees voordat dit ingesink het. Toe die realiteit my tref, het trane my oë gevul en dit vul steeds wanneer ek daaraan dink.”
Hy hou van Queen se musiek “met ’n tikkie Bon Jovi daarby. Beide se musiek is grensverskuiwend en vol emosie”.
Van As is op die outisme-spektrum en beleef emosies die diepste deur musiek.
“Of ek dit sing, skryf of hoor, ek ervaar musiek en my hoofinstrument is my stem,” vertel hy.
Radiopromotor en vervaardiger Gershwin Koen, wat saam met vorige Crescendo-finaliste Olga Leonard en Deon Meiring van Glaskas-faam die digitale inskrywings beoordeel het, vertel dat dit beslis nie ’n maklike taak was nie.
“Daar is soveel talent daar buite – inspirerende liedjieskrywers, pragtige melodieë en die mooiste stemme.”
Die program bring ’n uitsonderlike klomp kunstenaars bymekaar: Van ’n menslikehulpbronbeampte wat jare lank aan verhoogvrees gely het, ’n musiekprodusent van Walvisbaai, en ’n musikale hustler van Kroonstad, wat haar dae verdeel tussen sang, musiekteater én ’n unieke boerdery met varkies.
Mercia Eksteen, woordvoerder van die ATKV, sê die mentorskapprogram bestaan uit ses dae se intensiewe opleiding deur van die grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf.
“Daar word nie net musikale mentorskap in die vorm van melodie- en liriekontwikkeling gegee nie, maar deelnemers word ook touwys gemaak in onder andere handelsmerkontwikkeling, bemarking en entrepreneurskap,” verduidelik Eksteen.
“ATKV-Crescendo is nie ’n talentkompetisie nie,” verduidelik projekorganiseerder Morné van Staden wat die projek se benadering is.
“Ons filosofie is dat talent nie gegee is om teen mekaar te kompeteer nie, maar eerder om mekaar op te bou en te versterk. Die inhoud van die program is spesifiek daarop gemik om finaliste met die nodige kennis, vakmanskap, ingesteldheid en integriteit toe te rus sodat hulle hul musiekloopbaan sommer van die begin af suksesvol kan afskop.”
As deel van die week moet deelnemers soms opdragte voltooi soos om binne ’n uur hul eie liedjies te skryf.
Aan die einde van die week is daar ’n afsluitingskonsert waar finaliste ’n kans kry om hul oorspronklike liedjie met die ATKV-Crescendo-orkes uit te voer.
Uit hierdie 23 deelnemers word daar uiteindelik ’n paar finaliste gekies wat deur die res van 2025 nog mentorskapprogramme gaan bywoon en die geleentheid kry om in ATKV-Crescendo-produksies op te tree.
Van hierdie finaliste kry ook die kans om liedjies, albums en musiekvideo’s op te neem.
– Kliek hier om na Lizl Simoes te luister:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.