Opwindende kragmeting laat oudleerders sweet
'n Rekordskare van meer as 7 000 het die derby tussen oudleerders van twee skole in die Moot bygewoon.
Die jaarlikse Rugby Derby in die Moot vir liefdadigheid deur oudleerders – HTS John Vorster Old Boys (Bull Dogs) versus die Oos-Moot Legends – was ’n aanskoulike wedstryd op 14 Maart.
Die skare van sowat 7 000 was telkens op hul voete op die paviljoene van Hoërskool Oos-Moot.
Die wedstryd van vier kwarte van 20 minute elk met rusbeurte van vyf minute elk tussenin, is deur die Oos-Moot Legends gewen met 24-15, al het die Bull Dogs ’n troefkaart in oud Blou Bul-speler Tian Schoeman gehad.
Schoeman het ook vooraf ’n paar skopwenke aan die huidige spanlede van die skole se spanne gegee en ’n informele skopkompetisie aangebied.
Die Oos-Moot Legends het die eerste punte aangeteken met ’n strafskop na die eerste vyf minute en het gou die pas aangegee met vinnige lopies so al met die kantlyn af en ’n paar netjiese breekslae deur veral spelers wat nog so onlangs soos 2023 vir die skole uitgedraf het.
Schoeman het telkens vir die Bull Dogs die kantlyn opgesoek en gevind.
Skeidsregter Ferdi Nienaber moes telkens die lynstane fyn dophou want dit was gou duidelik dit was hier en in die skrums waar die stryd beslis sou word deur veral ouer spelers wat weet hoe om die horlosie suksesvol terug te draai.
Nienaber is veral bekend as ’n knap skoleskeidsregter en word ook gereeld deur die Blou Bulle-unie ingespan.
Die eerste reserwe het binnne die eerste tien minute op die veld gekom toe een van die stutte van Oos-Moot Legends seergekry het.
Daar was egter meer as genoeg vars bene en vars asems om hom te vervang aangesien beide spanne op ’n stewige reserwebank kon staatmaak.
Dit was nie te lank nie of die Legends het oorgeduik vir hul eerste drie.
Die Oos-Moot Legends het in die stadium met goeie balbesit die meeste gebiedsvoordeel geniet, maar jy kon sien van die manne aan beide kante het so teen die einde van die kwart-speelbeurt swaar gekry.


Nadat die telling vir die Oos-Moot Legends na 17-0 gestyg het, het die Bull Dogs se eerste punte van ’n suksesvolle strafskop deur Schoeman gekom.
Die derde kwart van die wedstryd het ’n paar verspeelde kanse vir beide spanne ingehou, maar met talle nuwe spelers wat op die veld gekom het, het die spanne weer vlam gevat en die telling het gou tot 24-8 gestyg.
’n Goeie lynskop van Tian Schoeman het in die doodsnikke van die wedstryd vir ’n verdoelde drie gesorg wat die eindtelling op 24-15 tot stand gebring het.
Daar was wel ’n oomblik van onderbreking in die spel toe die sproeiers skielik aangegaan het nadat die Moot toe al ’n paar ure sonder water gelaat was. Vir sommige spelers was die blaaskansie welkom.
Verskeie oudspelers van beide skole het heerlik saam vooraf gekuier met hooggeplaastes in die rugby- en klub-unies.
James Young wat vanaf 1965 tot 1969 vir Oos-Moot uitgedraf het, sê: “Geleenthede soos die Derby plaas die pret terug in die spel”.


Hy onthou met genoegdoening dat hy deel was van die roemryke span wat Affies in 1969 met 3-0 geklop het.
Young was ook deel van die 1975/76 Noord-Transvaalspan saam met spanlede soos Christo Wagner en Moaner van Heerden en het ook verskeie rolle in rugbyadministrasie van klubs ingeneem.
“Hierdie ouens doen die regte ding met die derby. Mens moet met sport terugploeg wat jy geleer het.”
Fondse ingesamel met die aanbied van die kragmeting sal aan die sportorganisasie sonder winsbejag in Centurion, Bokgabane Sport, geskenk word. Die organisasie beywer dit om leerders met donasies te help om sport te kan beoefen.
Kliek hier om die goeie sportmanskap tussen die twee spanne te sien:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.


