Dogter langs sterfbed van skrywer van 300 romans
Die legendariese Afrikaanse skrywer, Schalkie van Wyk (84), is op 15 Maart oorlede ná ’n stryd met kanker.

Vriende en familie het op 21 Maart, die lewe van die legendariese Afrikaanse romanskrywer en oud-inwoner van Pretoria, Schalkie van Wyk (84), tydens ’n gedenkdiens by die Roodepoort Sentrum vir Bejaardes gevier.
Van Wyk, uit wie se pen sowat 300 romans sedert 1977 gevloei het, was vir die afgelope tien jaar ’n inwoner van die Tornadopark Sentrum in Roodepoort.
Sy is op 23 Januarie met kanker gediagnoseer.
Schalkie se dogter, Michelene-Philippe Aiton (49), wat vir die afgelope 20 jaar as ’n vryskut stemkunstenaar en akteur in London werk, het Vrydagoggend 14 Maart, in Johannesburg geland om by haar ma te wees.
Aiton was langs haar ma se sterfbed Saterdagoggend toe sy ’n paar ure later haar laaste asem uitblaas.
“So passievol soos sy oor haar skryfwerk en die karakters in haar boeke was, so passievol was sy teenoor die daaglikse mense om haar,” sê Aiton.
“Dit was haar missie om almal met wie sy te doen gekry het, as belangrik in haar oë te hanteer. Ons as familie en vriende, asook die duisende lesers wat oor jare heen hulself ingeleef het in haar stories, sal haar lewenslus en woorde mis.”
Louié Schalkie van Wyk (84) is op 24 Oktober 1940 in Bloemfontein gebore. Haar pa was Engels en haar ma Duits, maar laasgenoemde is oorlede toe sy vyf jaar oud was.

Daarna leer haar stiefma haar Afrikaans praat. Sy voltooi haar skoolloopbaan op Vredefort in die Vrystaat en verwerf haar B.A.-graad in tale by die Universtiteit van Pretoria.
Op 16-jarige ouderdom word haar eerste kleuterverhaal in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer. Op 21-jarige ouderdom word sy aangestel as redakteur van dié tydskrif.
In 1977 verskyn haar eerste roman, Die liefde oorwin, waarna nog sowat 300 boeke uit haar pen vloei soos onder andere Vlakte van verlore drome (1984), Alleen in die wind (1990) en Beminde vreemdeling (2011).


Sy het ook 12 radiovervolgverhale geskryf wat Voetspore van gister insluit.
Van Wyk was getroud met Aiton se pa, die skrywer, joernalis en radio-omroeper Mike Heine (76), wat in 2007 in sy slaap oorlede is.
Sowat 30 nabye vriende en familie het haar gedenkdiens by die Roodepoort Sentrum vir Bejaardes bygewoon.
Aiton vertel dit is juis so gedoen omdat haar ma iemand was wat “nooit enige erg aan groot gedoentes gehad het nie”.
“Tydens haar lang loopbaan as skrywer het sy ook met uitsondering mediaonderhoude toegestaan,” onthou sy. “Sy het altyd gesê die klem moet op haar skryfwerk en haar karakters val, en nie op haar as mens nie.”
Sy het altyd die Here bedank vir haar talent, sê Aiton.
Sy sê haar ma was ’n “uitsonderlike vrou wat lig en liefde aan almal wat sy ontmoet het, gebring het. Sy het die lewe voluit geniet en het haar aansteeklike lag met almal gedeel”.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.