Dricus gee kabeldiefstal ‘n uitklophou
Dricus “Stillknocks” du Plessis (30) het tot die stryd toegetree om seker te maak die Voortrekkermonument kan vorentoe kabeldiefstal se gevolge baasraak en wel krag aan die waardevolle bewaring van veral dokumente in die Erfenissentrum, verskaf.
“Ek is nou vir twee jaar ’n beskermheer van ons Afrikaner-kultuur. Vir ander mense mag dit nie veel beteken nie, maar as ’n trotse Afrikaner beteken dit alles vir my,” sê Dricus “Stillknocks” du Plessis (30).
Du Plessis is ’n middelgewigwêreldkampioen in gemengde gevegskuns en trotse beskermheer van die Voortrekkermonument in Pretoria.
Hy het Saterdag, 29 Maart die kanon Susanna op die monument se Markplein onder luide applous van honderde opgewonde ondersteuners afgevuur.
Die monument, ’n graad 1-erfenisbaken, ondervind tans enorme druk op sy infrastruktuur, spesifiek wat kragvoorsiening betref oor veral kabeldiefstal, en Du Plessis het opnuut sy steun aan die bedryf van die monument gegee.

Ten spyte van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se begroting van R6.3-miljard, waarvan R2.8-miljard vir erfenisbewaring ge-oormerk is, ontvang die monument geen finansiële steun nie aangesien dit nie as ’n staatsinstelling nie maar as private onderneming, bedryf word.
Die bestuur sukkel veral om die terrein te onderhou as gevolg van hoë munisipale koste al is daar dikwels ’n gebrek aan basiese dienslewering.
Die monument se kragopwekker se onderhoud en brandstof is veral ’n reuse-uitgawe.
Die Erfenissentrum op die terrein, wat waardevolle argiefmateriaal huisves, loop veral gevaar weens onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening.
Om hulself volhoubaar te maak, het die bestuur die projek “Gee ons krag!” as ’n fondsinsamelingsprojek begin vir ’n beoogde sonkragstelsel van R7-miljoen.
“Vir my om vandag hier te wees, is ’n groot eer en ek staan bankvas agter die monument. Ek dink ook elkeen van julle is vandag hier omdat julle omgee vir ons geskiedenis en hierdie monument, wat dit verteenwoordig en wat dit vir ons beteken. Dít waarvoor ons hier staan, moet ons beskerm met alles wat ons in ons het.”
Die kanonskoot was nie net ’n skouspel nie – dit is ook ’n harde betoog teen onbetroubare kragvoorsiening, kabeldiefstal en swak dienslewering.
Du Plessis is van mening dat gemengde gevegskuns in Suid-Afrika op ’n glorieryke vooraand staan.
“Ons het vir die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrika ’n wêreldkampioen en ek is oortuig dat daar in die nabye toekoms weer ’n wêreldkampioen te voorskyn sal kom. Die sport is groter as ooit in ons land, veral omdat dit nou soveel blootstelling kry. Dit is lekker om soveel ontluikende talent onder die jeug te sien en hoeveel jongmense tot die sport toetree,” sê hy.
“Dricus is enig in sy soort en simboliseer iets wat moeilik is om in woorde uit te druk. Hy is met reg ’n eietydse en nederige rolmodel en rigtingwyser,” sê Dawid Brand, woordvoerder van die monument.
“Hy weerspieël die onwrikbare geloof en veggees wat so kenmerkend van Afrikaners is – nie ’n dors na konflik nie, maar ’n vasberadenheid om ’n kulturele landskap en erfenisskat te beskerm wat die moeite werd is om te verdedig. Sy steun, gewortel in ons geskiedenis maar tog vooruitstrewend, maak ’n reuseverskil.”
– Kliek hier om na die feestelike dag te kyk: https://www.facebook.com/watch/?v=682956617530870
– Klik hier om die “Gee ons krag”-veldtog te steun: https://vtm.org.za/gee-ons-krag-projek/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.


