News

Nuwe enkelsnit vir Sonnekus maak reeds ‘n merk

Sonnekus se nuutste enkelsnit trap nog dieper spore in die Afrikaanse musiekbedryf.

As ’n mens iets van Zaan Sonnekus kan verwag, is dit rou emosie. En jou verwagting word nie teleurgestel nie: soos met sy nuwe enkelsnit “By Jou” wat pas vrygestel is.

Dis knap ’n jaar na sy vorige enkelsnit, “Die Kortste hier” wat ’n lighartige kykie na vriende in sy vriendekring was, waarvan hy die kortste is. Hierdie liedjie, net soos “By Jou”, is kommentaar op die plaaslike musiekbedryf en wat dit van ’n kunstenaar verg.

“By Jou” is ’n rou weergawe van passie, verlies en liefde, sy eerste onafhanklike vrystelling as onafhanklike kunstenaar.

“Jy verloor jouself in klanke, raak geïsoleerd en voor jy weet is jy alleen met jou kitaar en jou drome,” verduidelik hy. “Hierdie is ’n pleidooi aan haar, aan die liefde, dat sy net vir my moet wag, want ek maak hierdie musiek vir haar, vir ons.”

Gehore wat alternatiewe Afrikaanse musiek aanhang is al vertroud met Sonnekus se dinamiese vertonings waar hy ’n bondel “kitaardinamiet” is (soos Rekord se Elize Parker hom beskryf).

Sonnekus is ’n gebore kunstenaar, vanwaar sy naam (ontleen by skilder Paul Cezanne) iets soos ’n profesie was. Sy ma was ’n skilder en hy skilder ook (of het, toe hy nog tyd gekry het).

Hy het aan Afrikaans Hoër Seunskool gematrikuleer en met sy eerste kitaar en sy ervaring in die koor op skool, vroeg reeds begin sien dat sy digtersiel in musiek uitsing sal vind. Luister mooi na sy lirieke, dis fyn digkuns, nie net woorde nie.

So skryf hy in “By Jou”: “Ons almal bloei dieselfde hier, ons almal tref dieselfde muur”, wat dui op die opofferings en emosionele prys wat ’n kunstenaar betaal om sy kuns te beoefen. Die liedjie het al in die week na vrystelling Maroela Media se Afrikaanse Top-20 gehaal.

’n Wenner van die Aitsa-toekennings in 2023 vir sy liedjie “Monitor” (Alternatiewe Rock kategorie), tree hy oraloor op saam met die groot name in die genre, maar staan vir niemand terug nie. Dalk sal “By Jou” vanjaar in die Aitsas verskyn in die liedjieskrywer kategorie. Ons wag en kyk.

Kyk na ’n video van “By Jou”:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button