Koorfees: ’n Musiekviering soos min!
Die Monumentale Koorfees 2025 het nie net die krag van musiek gevier nie, maar ook die gemeenskapsgees en die rykdom van die Afrikaanse liedjiekultuur.
Op 10 Mei het die Voortrekkermonument se Heldesaal weerklink met die klanke van hoop en samehorigheid tydens die derde jaarlikse Monumentale Koorfees.
Hierdie jaar was ekstra spesiaal, aangesien dit saamgeval het met die viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike landstaal.
Die fees het ’n indrukwekkende verskeidenheid van 12 kore ingesluit, van laerskool-junior-kore tot hoërskool-senior-kore, wat almal saamgekom het om hul liefde vir musiek en taal te deel.

Die program het verskeie hoogtepunte ingesluit soos die optrede van die Laerskool Garsfontein se Senior-koor, gevolg deur Laerskool Tygerpoort se Junior-koor, Rietondale High School se koor, Laerskool Lynnwood se Senior-koor, Laerskool Garsfontein se Junior-koor, en Hoërskool Montana se koor.

Hierdie kore het die gehoor aan’t sing gehad en die voete behoorlik laat jeuk.
Laerskool Elarduspark se Junior-koor, onder leiding van Hannelien de Bruin, het met trots deelgeneem aan die fees.
“Dit was ’n besonderse voorreg dat ons leerders in Afrikaans kon sing en deel wees van die 100-jaar feesvieringe van Afrikaans. Ons koor het geskitter en was ware staatmakers,” sê De Bruin.
Die bekende SingFonix-mans-ensemble, onder leiding van Riekie van Aswegen, het ’n warm atmosfeer geskep vir die optredes van Laerskool Wonderboom se senior- en junior-kore, Hoërskool Gerrit Maritz, die Magaliesberg Kinderkoor, en Laerskool Elarduspark se Junior-koor.

Die fees is afgesluit met ’n massakooropvoering saam met Sallas de Jager, Marie-Louise Pretorius, en John-Henry Opperman, drie lede van die geliefde groep Klopjag.
Hierdie opvoering het die gehoor op hul voete gehad en die saal met energie gevul.
In die lig van Afrikaans se 100-jarige bestaan as amptelike taal, het die kore Afrikaanse liedere deur die monument laat eggo, insluitend “Hillbrow” van Ralph John Rabie (Johannes Kerkorrel) en verwerk deur Pieter Bezuidenhout, “Môre oompie, môre tannie” ’n tradisionele Afrikaanse lied, en “Voshaarnooi” van Louis van Rensburg.

Hierdie gewilde keuses het die rykdom van Afrikaanse musiek beklemtoon.
Lieandri Ackermann, projekbeampte by die FAK, merk op: “Die Monumentale Koorfees is nie net ’n musiekfees nie; dit is ’n weerspieëling van die wonder van musiek.”
Sy beklemtoon hoe die fees oor die afgelope paar jaar een van dié geleenthede geword het wat elke musiekliefhebber op hul kalenders neerpen.
De Jager, die FAK se hoof van kultuurprojekte en seremoniemeester van die aand, bewonder die talent en passie van die jong sangers.
“Vir die FAK is die ontwikkeling van ons land se jeug ’n hartsaak. Daarom is dit spesiaal om hierdie fees met ouers, onderwysers, dirigente en ondersteuners te deel wat saam met ons die vlam in hierdie jongmense lewend hou.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
