Natuurlike kos-leefstyl raak al hoe meer gewild
Die Wholefoods-mark in Pretoria-Oos het gegroei uit ’n eenvoudige idee vir suikervrye produkte en bied nou ’n verskeidenheid gesonde, natuurlike kosse. Gestig deur Karin Loots, fokus dit op ’n leefstyl in verskeie eetplantradisies. Dit ondersteun verskeie dieetbehoeftes en inspireer ook persoonlike aanpassings vir eet- en lewenstyle.
Van suikerlose roomys tot avokado-mayonnaise: Pretoria se Natuurlike kos-mark bied nou meer as net kos in die banting- of keto-dieettradisie.
Wat tien jaar gelede begin het met ’n eenvoudige idee vir suikervrye produkte, het gegroei tot ’n bruisende natuurlike kos-gemeenskap in Pretoria en dit alles danksy ’n radio-onderhoud en ’n boek genaamd The Real Meal Revolution.
Karin Loots, TV-regisseur van programme soos Slank, radio-produksieassistent, entrepreneur en stigter van die mark wat uit die idee gevloei het, vertel hoe dit alles begin het.

“Ek het ’n onderhoud met prof. Tim Noakes gehoor en my hele wêreld het verander,” vertel sy.
“Ek het die boek gekoop, en van daardie dag af is suiker en witbrood uit my huis verban.”
Loots en haar gesin het die lae-koolhidraat, gesonde vet-leefstyl dadelik omarm.
Maar daar was toe bittermin produkte beskikbaar vir mense wat só wou eet.
“Dis toe dat ek besluit het om ’n mark te begin waar mense suikervry en koolhidraatvrye produkte kon koop,” sê sy.
Die mark, toe nog bekend as die Bantingmark, het in Maart 2015 by die Pretoria Nasionale Botaniese Tuin afgeskop.
Vandag, tien jaar later, is dit ’n gevestigde instelling in Pretoria-oos én nou ook by die Boeremark sowel as die plaza by Menlyn Maine; nou onder die nuwe naam die Wholefoods-mark.
“Ons moes die naam verander, want die mark het saam met die mense gegroei. Dis nie meer net vir diabete of mense op keto nie. Ons sien nou inkopiegangers wat suiwel vermy, glutenvry eet of net ’n gesonder leefstyl wil volg.”
Wat die mark uniek maak, is sy streng keuringsproses.
“Geen produk word toegelaat as dit nie eers deur ons dieetkundige nagegaan is nie,” sê Karin. “Ons wil hê mense moet met vertroue kan koop, sonder om etikette te hoef ontleed.”
Die suksesverhale word nie net deur ywerige inkopiegangers vertel nie. Die stalletjiehouers glo ook daaraan om die gesonde eetstyle en -planne uit te leef.
Soos dié van Deon van der Merwe van Planet Carb, wat self 77kg in sewe maande verloor het op ’n lae-koolhidraat dieet.
“Ek het my hele familie saamgesleep op die nuwe manier om koolhidraatvry te eet, en vyf van ons het saam 185kg afgeskud in sewe maande,” vertel hy.
Van der Merwe het toe gesonde koolhidraatvrye pizzas begin ontwikkel en was met sy pizza-produkte onlangs selfs as ’n finalis in die wêreldwye Global Pizza Challenge aangewys.
Madel Viljoen van Waverley, wat haar avokadopeerboom in haar tuin gebruik om allerhande produkte te maak en ook van die vrugte op die mark verkoop, glo mens moet nuut dink.
Sy meng avokadopeer met jogurt, maak ’n avokadopeertert sowel as ’n gewilde avokado-mayonnaise. Sy verkoop ook heuning uit korwe wat in die Moot staan.
“Die boom is meer as 30 jaar oud. Dit is deel van die inspirasie vir ons meer natuurlike leefstyl,” sê sy.
Ook Gerrit en Laetitia Gerber van Pretoria-oos het hul passie vir ’n glutenvrye leefstyl in bakkeryprodukte omskep.

“Ons handelsmerk, Life is Bantingful, fokus op plaasvervangers wat werk. ’n Klapperkors vir kaaskoek is een van ons gunstelinge.”
Wat van diegene wat steeds hunker na ’n roomys op ’n warm dag?
Loots self het daardie probleem opgelos.
“Ek was een van daardie mense wat ’n twee-liter roomys maklik alleen kon opeet.
Ek moes iets doen! So het The Ice Creamery ontstaan met my eie suikerlose roomysprodukte.
“Om kos in die natuurlike produkte leefstyl te eet of daarnatoe oor te skakel, is nie ’n vinnige oplossing nie,” waarsku Karin.
“Dis ’n leefstyl. Jy moet jouself opvoed oor hoekom suiker en verwerkte kos so nadelig is. Begin klein. Verwyder alles op die rooi lys van die boek The Real Meal Revolution. Maak jou kaste leeg. En hou moed.”
Vir nuuskieriges is die Wholefoods-mark by Menlyn Maine elke laaste Saterdag (31 Mei) van die maand van 09:00 tot 13:00.
Die Banting mark is elke eerste Saterdag (3 Mei) van die maand by Pretoria Boeremark van 05:30 tot 09:30.

Karin Loots se wenke vir ’n suikerlose eetstyl:
Doen jou navorsing:
Verstaan die negatiewe gevolge van suiker en verwerkte kos. Lees betroubare bronne soos Real Meal Revolution.
Maak jou koskaste skoon:
Verwyder: suiker, meel, beskuit, blikkieskos met suiker, en speserye met bymiddels. Skep ’n versoekingsvrye kombuis.
Maak jou eie kos:
Sodoende weet jy presies wat jy eet. Leer kook uit resepteboeke soos Low Carb is Lekker deur Ine Reynierse.
Wees geduldig en hou moed:
Hierdie is ’n leefstylverandering, nie ’n kitsoplossing nie. Gee jouself tyd en wees konsekwent.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
