‘Straatsoldaat’ slaan nuwe rigting in
'n Banjo-legende in Suid-Afrikaanse musiek wat op die strate van Londen sy kuns geleer het by straatmusikante, sou na 'n loopbaan van 'n paar jaar haweloos by 'n verkeerslig in Centurion beland. Danksy talle barmhartige samaritane het hy sy geliefde banjo terug, maak hy 'n opname en hou hy eersdaags sy eerste eenmanvertoning.
Musikant JP Dix se verhaal is een van hoop, volharding en die krag van musiek en vriendskap.
Van die strate van Londen en Centurion tot die verhoë van Suid-Afrika, en van die dieptes van persoonlike verlies tot die hoogtes van hernieude sukses, is JP Dix oftewel Jacques Pienaar, ’n inspirasie vir almal wat glo in tweede kanse.
Nou bekend as JP vir sy vriende en bewonderaars, het hy sy vroeë jare by Laerskool Wierdapark en Hoërskool Eldoraigne as kunsinnige blondekop talle harte gesteel.
Hoewel hy na skool as ’n goudsmid opgelei is en gewerk het, het musiek altyd sy ware passie gebly.
“Musiek was altyd my hartklop,” sê JP. “Ek het geweet ek moet my hart volg.”
Met ’n droom in sy denim se sak, het JP na sy jare as goudsmid by ’n Pretoria-juwelier na Londen vertrek.
Daar het hy verskeie los werkies gehad as veiligheidswag en kelner. Hy het ook die bekende straatmusikant,Terry St Claire, by Covent Garden ontmoet.
“Hy was so vriendelik en het my gehelp om te leer kitaar speel.”
Hierdie ontmoeting het nie net ’n vriendskap gebring nie, maar ook ’n liefde om banjo te speel – ’n passie wat sy musiekreis verder sou vorm.
“Hoe kan ’n mens hartseer wees as jy ’n banjo hoor? Dit is instant happyness…”
Na twee jaar van los werkies en optredes op die strate in Londen, het hy teruggekeer na Suid-Afrika, vol liedjies en inspirasie.
“Terry het my nie net ’n kitaar gegee nie, maar ook die geloof dat ek iets besonders in my het,” onthou JP.
Terug in Suid-Afrika het hy begin optree in kroeë en het hy sy eie klanksisteem gekry.
In 2007 het die sanger Wynand Windpomp hom na die Klein Karoo Nasionale Kunstefees geneem, waar hy op verskeie verhoë opgetree het.
Dit was hier waar Jakkie Louw hom raakgesien het en hom genooi het om deel van sy orkes te wees. Wynand het voorgestel dat Jacques ’n verhoognaam aanneem en so is JP Dix gebore.
“Wynand het gesê: ‘Jy kan nie net Jacques Pienaar wees nie. Jy’s JP Dix!’”
Na vier jaar saam met Jakkie Louw, het JP saam met twee ander orkeslede, Jerry Grove en Johan Scheppel, ’n orkes gevorm, wat later bekend sou staan as The Dixie Hillbillys. Hulle het die land platgetoer en selfs ’n album in Freddie Nest se ateljee opgeneem.
In 2013 het tragedie JP se lewe getref toe sy vrou, Elize, haar lewe geneem het. Sy dogter, Kelly, is in pleegsorg geplaas, maar JP sien haar steeds gereeld.
Hierdie verlies het hom in ’n diep depressie gedompel, en alkohol het ’n ontsnappingsroete geword.
“Ek wou net wegkom van als en almal.”
Hy het vir ’n ruk by sy ouma, Stienie van der Walt, in Centurion gaan bly, maar die stryd met drank het hom uiteindelik haweloos op straat laat beland.
“Ek het vir vier tot vyf jaar ’n drankprobleem gehad en kon nie meer altyd bybly teen die vinnige pas van die musiekwêreld nie en het besprekings verloor,” erken JP eerlik.
Sy tweede huwelik het ook op die rotse beland.
Verlede jaar het JP op die hoek van Amberfieldstraat in Centurion soos gewoonlik gestaan en bedel, toe ’n ou vriend in die musiekbedryf, Waldo Lotz, verbygery het. Hy het hom gevra: “Wat maak iemand met so baie talent op straat?”
In hierdie tyd het JP bekend geword as die Tiktokker wat elke dag ’n TikTok-video onder “Straatsoldaat vir Jesus” opgelaai het.
Hy het meer as 6 000 aanhangers wat elke dag na sy getuienisvideo’s luister.
Hierdie ontmoeting het ’n keerpunt gebring. Die volgende oggend om 06:00 het hy, via Lotz, bekende media-beïnvloeder en musiekpromotor, Albert Bredenhann, ontmoet. Bredenhann het hom saam met ander borge gehelp om vir ses maande rehabilitasie vanaf Oktober verlede jaar in Hope Again Wellness Centre Potchefstroom te ondergaan.
Na rehabilitasie het Bredenhann vir JP sy geliefde banjo probeer terugkry.
’n Vorige loopbaanbestuurder het JP se Gibson Mastertone banjo by hom afgeneem om JP se skuld aan hom te delg.
Sanger en kitaarspeler Pieter Marcato kon die banjo vir R3 000 te koop kry, maar het dit na Covid weer aan n orkeslid van Uit die Bloute-orkes verkoop.
Hiervandaan het die banjo sy weg na Middelburg gevind en ’n nuwe eienaar gekry wat weer die banjo aan sy broer gegee het.
Bredenhann het die banjo opgespoor en teruggebring. Die eienaar, Lionel Pienaar, het dit ook gratis aan JP teruggegee.
“En hy het die koerierskoste na Pretoria betaal! Dit voel so lekker om haar weer in my hand te kan hou. Ek het destyds my naam daarop gegraveer. Dit was goed om die graveerde naam weer te kon sien.”
Hy het ook onlangs ’n kitaar by Adam Tas as geskenk gekry. Beide instrumente het simbole van JP se hernieude hoop en toewyding geword.
Sy loopbaan was vanjaar in Maart ryp vir vernuwing.
In April vanjaar het JP sy eerste optrede by die kuierplek Jan se Skuld in Montana gehad.
“Wat ’n emosionele aand! Ek sal Albert en almal wat my ondersteun nie genoeg kan bedank nie.”
Met ’n geborgde klanksisteem en ’n hernieude passie, is hy nou besig om sy eerste opname te maak en help ’n sangafrigter hom.
Sy eerste nuwe liedjie “Die Man op die Pad” wat hy in rehabilitasie geskryf het, sal middel van die jaar uitgereik word.
“Ek het gebid en wou verander in die rehabilitasiesentrum,” sê JP. “Jy moet dit in jou hê om te wil verander. Ek wou nie meer my lewe weggooi nie. Wat nou met my gebeur is ’n lewende getuienis van Jesus se werk in my lewe.”
– Kliek hier om na banjospel van JP Dix te luister:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



