Omroeper maak haar hart oop met nuwe enkelsnit
Met "Die Deur" bewys Esté Gross dat musiek nie net gehoor moet word nie, maar diep gevoel moet word asook dat liefde, selfs in afwesigheid, altyd ’n oop deur agterlaat.
Met haar nuutste enkelsnit “Die Deur”, wys Esté Gross weer hoekom sy een van Pretoria se mees geliefde kunstenaars is.
Die lied is ’n sagte, eerlike en diep persoonlike huldeblyk aan haar oorlede ma, Hester van Rensburg, en is tegelyk ’n oop uitnodiging aan bewonderaars om hul eie betekenis daarin te vind.
“Ek het lank geskryf aan die liedjie, minwetende dat ek, wanneer ek eindelik die laaste reël van die lied sou skryf, eers werklik self die betekenis daarvan sal besef. Wanneer jy werklik iemand liefhet, bly die deur van liefde altyd oop.”
Die ervaring van verlies het haar nie net tot die lied gelei nie, maar het haar ook herinner aan liefde wat nie eindig nie.
“Al is my ma nie meer hier nie, bly haar nalatenskap van wedersydse liefde ewig. My ma was die eerste een wat my geleer het wat ’n tuiste werklik is. Dis om met ’n oop deur van aanvaarding te leef.”
Vir haar is die enkelsnit nie net ’n lied nie. Dis ’n kunswerk.
Soos haar ma, wat self ’n skilder, skrywer en kunstenaar was, glo sy daarin om ruimte te laat vir eie vertolking.
“Die wonderlike ding van hierde liedjie, is dat dit vir verskillende mense verskillende dinge kan beteken. Dit hang af van waar jy jouself tans in jou lewe bevind.”
Luisteraars het al laat weet die liedjie beteken vir elkeen iets anders: vir sommiges is dit ’n liefdesliedjie, vir ander ’n aanbiddingslied of ’n herinnering aan ’n ouer of ’n vriendskap. Vir talle gaan dit oor rou en verlies.
“Rou is ’n baie persoonlike ervaring. Dit is moeilik om jou hart so te deel, maar ook ’n voorreg en dit was deel van my heelwordproses.”
Hierdie openheid rondom moeilike emosies is belangrik vir haar: “Ek hoop dat elkeen dit op sy eie unieke manier sal ervaar en dat luisteraars dit hul eie sal maak.”
Die lied open met die reël: “Niemand weet waar die wind ons neem nie…”
Hierdie is ’n besinning wat eggo in Esté se eie reis met liefde en verlies.
“’n Bekende gesegde deur ’n wysgeer lui: ‘Alles van waarde is weerloos.’ Ek voel self die lewe is ook in sy wese geleen en onvoorspelbaar. Met verlies kom ook ’n gewaarwording om net nog meer die lewe en jou tyd hier op aarde na waarde te ag en te respekteer.”
In die musiekvideo bring Gross ’n stil huldeblyk aan haar ma met sonneblomme in die hoofrol. Dit was ma Hester se gunstelingblomme.
“Sy het ook talle stillewes en portrette van blomme geskilder. Die bank tussen die sonneblomme in die video is ook ’n stille huldeblyk aan haar werk.”

Gross se musiek, net soos haar ma se kuns, word deur eerlikheid gekenmerk.
“Die kernbeginsel van alle kuns wat ek by haar geleer het, is om eerlik te wees en om te skryf wat jy werklik voel en nie wat jy dink mense graag wil hoor nie. Dit is belangrik om getrou te bly aan jou boodskap en jouself.”
Hoewel sy reeds groot sukses behaal het met geestelike liedjies soos “Weerklink” en “Deur die Storm”, neem haar nuwe snit haar in ’n nuwe rigting.
“‘Die Deur’ is meer in die styl van die luisterlied en popliedjies. Dis ’n liefdeslied.”
Wat wag volgende op die musikale horison?
“Ek sien uit daarna om vanjaar nog ’n enkelsnit vry te stel,” verklap sy. “Maar ek sal eers later meer daaroor kan bekend maak.”
LEES: Mediese gemeenskap groet baanbreker
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
