News

ATKV-Applous: Pretoria Streeksfees vier jeugtalent en koorgees

Die ATKV-Applous 2025 Pretoria Streeksfees het van 15 tot 17 Mei by die NG Gemeente Skuilkrans plaasgevind, met meer as 90 skoolkore wat deelgeneem het. Die kompetisie, wat in 1978 gestig is, is die oudste en mees gesogte skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika.

Die ATKV-Applous 2025 Pretoria Streeksfees het van 15 tot 17 Mei by die NG Gemeente Skuilkrans in Pretoria plaasgevind, met ’n rekordgetal van meer as 90 inskrywings van skoolkore.

ATKV-Applous is Suid-Afrika se oudste en mees gesogte skoolkoorkompetisie, wat in 1978 gestig is. Sedert verlede jaar is die kompetisie ook oopgestel vir volwasse en streekskore in die nie-kompeterende afdeling.

Vanjaar het meer as 280 skole landswyd ingeskryf, wat meer as 20 000 leerders verteenwoordig.

Die beoordelingspan vir die Pretoria Streeksfees het bestaan uit vyf ervare beoordelaars: twee van die Kaap, een van Johannesburg en twee van Pretoria. Hulle het die optredes van die deelnemende kore beoordeel en die beste kore gekies om deur te gaan na die landswye finaal.

Die laaste twee weke van Mei vind daar nog streeksfeeste plaas, insluitend in Kaapstad, waar 41 kore deelneem. Die finaliste (die 40 topkore landswyd) sal teen 1 Junie bekendgemaak word na afloop van al die streeksfeeste.

Die Hoërskool Die Wilgers-koor onder leiding van Faye Prinsloo met begeleier Waldo Jones het liedjies soos “You say” gesing. Foto: Elize Parker

Die finaal sal van 30 Julie tot 2 Augustus in die ZK Matthews-saal by Unisa in Pretoria plaasvind.

Hier sal die topkore van regoor die land meeding om as die beste skoolkoor in Suid-Afrika aangewys te word.

Verskeie skole het deelgeneem, elk met ’n unieke program wat die rykdom van Suid-Afrikaanse musiek weerspieël het.

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria was van die kore wat die streeksfees afgeskop het met ’n program wat ’n mengsel van tradisionele en moderne Afrikaanse liedere ingesluit het. Onder leiding van koorleier Raine Pienaar en begeleier Gisela Scriba, het die koor liedere soos “Kuku nukku tuutassasi” en “Loflied van Debora” aangebied.

Loreto School Queenswood het ’n program aangebied wat die rykdom van tradisionele Afrika-musiek weerspieël het. Onder leiding van koorleier Mbuso Ndlovu en begeleier Magdalena de Vries, het die koor liedere soos “Tamati So” gesing.

Hoërskool Eldoraigne het met ’n program beïndruk wat ’n mengsel van tradisionele en moderne komposisies ingesluit het. Onder leiding van koorleier Franco Prinsloo en begeleier Ferdi Geyer het die koor besielende liedere soos “Antiphonal Gloria” aangebied.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool het met ’n indrukwekkende program onder leiding van koorleier AJ Maree en begeleier Gisela Scriba, die gehoor vasgevang gehou met as die hoogtepunt “Forever King!” deur Dan Forrest. Die koor het ook waarlik reg laat geskied aan die tradisionele “Inkunzi Isematholeni”. Die gebruik van verskeie instrumente, insluitend tjello, tamboryn en perkussie, het ’n unieke klank aan die opvoering gegee.

Laerskool Menlopark het die fees op 16 Mei afgeskop met ’n program wat “Sing alle volke loof die Here” ingesluit het, gevolg deur “This Shall Be for Music” en die voorgeskrewe “Katinkel Katonkel”. Laerskool Lynnwood het daarna opgetree met “Die lied van die wind“ en “Adoramus Te”.

Een liedjie wat talle hoërskoolkore geniet het om te sing en gevoelvol vertolk het was die “Dinge wat tieners haat”.

Uitsonderlike koorleiers het ook tydens die fees na vore getree soos Edwin Mitas van Hatfield Christian School wat gesorg het vir ’n deernisvolle vertolking van Coenie de Villiers se “Karoonag”. Mitas, wat ook twee volwasse kore afrig, glo geleenthede soos Applous “help skoolkore om hul repertoires te ontwikkel en só nooit eentonig as koor te wees nie”.

Hy glo dit help ook koorleiers om veelsydige verwerkings van melodieë en lirieke te doen.

Hy kom self van die Karoo en het dit geniet om sy koor met ’n ongewone verwerking van “Karoonag” te lei waarin veral ’n perkussie-instrument wat klink soos reën wat suis, gebruik is.

Bekende en gewilde koorleier van Pretoria, Attie Rossouw, het verskeie kore gelei soos Hoërskool Hoogland, Laerskool Danie Malan, Benoni High School, Hoërskool Akasia en Rietondale High School.

Rossouw, wat al saam met kore in die finale rondes van die kompetisie opgetree het, sê hy was weer opnuut verwonderd oor al die talent wanneer dit by koormusiek kom: van begeleiers, liedjieskrywers, solo-vertolkers, musikante tot koorlede.

“Musiek is die wenner in hierdie kompetisie en elke deelnemer ook.”

LEES: Wonderboom airport positioned as SA’s future cargo powerhouse

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button