TV-program word oefenkampinstrukteur se reis na selfontdekking
Lelani Loots, 'n oefenkamp-instrukteur van Centurion, het aan kykNET se avontuurlike realiteitsprogram, Die Brug, deelgeneem om haarself fisies, emosioneel en strategies uit te daag. Sy was gemotiveer deur die unieke kombinasie van spanwerk, vertroue en kompetisie wat die program bied.

Lelani Loots (39) van Centurion se motivering om aan die TV-werklikheidsreeks Die Brug deel te neem, het ontstaan uit ’n begeerte om haarself fisies, emosioneel en strategies uit te daag.
Die fiksheidsinstrukteur het gesoek na ’n ervaring wat nie net haar uithouvermoë sou toets nie, maar ook haar karakter en leierskappotensiaal.
Die werklikheidsreeks se tweede seisoen speel af in die skadu’s van die Outeniqua-berge en die eerste episode is op 8 Mei op TV uitgesaa. Dit gaan oor ’n groep vreemdelinge wat ’n brug moet bou om ’n R1-miljoen skat te vind.
Haar hoop was om meer oor haarself te leer, veral hoe sy in stresvolle situasies funksioneer en hoe sy saam met ander mense werk onder druk.
As ’n lang, sterk vrou met ’n aktiewe leefstyl, het Loots se fisieke krag haar in staat gestel om uitdagings in die reeks aan te pak sonder om maklik moeg of ontmoedig te raak.
“Ek kon swaar materiale dra, lank werk sonder om op te gee, en fisiese uitdagings aanpak met selfvertroue.”
Dit was nie net haar liggaamlike krag wat haar gehelp het nie; haar geestelike veerkragtigheid was net so belangrik, meen sy.
Daar was oomblikke van spanning, frustrasie en onsekerheid, maar sy het probeer om kalm en gefokus te bly op die groter prentjie, en nie haar emosies haar denke te laat oorheers nie.
Loots erken dat sy soms ’n lae selfbeeld oor haar lengte gehad het.
“Ek het soms gevoel ek staan letterlik uit op maniere wat ongemaklik is,” verduidelik sy. Haar deelname aan Die Brug het haar perspektief hieroor verander.
“Vir die eerste keer het ek besef dat my lengte nie iets is om weg te steek nie, maar iets wat my ’n voordeel gee.”
Haar lengte het haar bemagtig om hoër te reik, sterker te staan, en ’n teenwoordigheid in die groep te hê.
Die ondersteuning van haar spanlede het haar selfbeeld versterk. Sy het besef dat sy nie kleiner hoef te wees om in te pas nie.
Loots en haar man, Wayne, is al agt jaar getroud en het besluit om nie kinders te hê nie. Volgens haar het hulle “’n ander pad van vervulling en groei gekies”.

Wayne is ongelooflik ondersteunend oor haar persoonlike drome en uitdagings.
“Van die begin af het hy my aangemoedig om deel te neem, omdat hy weet hoe belangrik dit vir my is om myself te toets, nuwe dinge aan te pak, en te groei as individu.”
Sy beskryf haar wederhelfte as haar veilige hawe en grootste aanmoediger, en dat hy haar gehelp het om met selfvertroue en moed aan die program deel te neem.
Een van haar redes om aan die program deel te neem, was om vir ’n slag net op haarself te fokus sonder die verantwoordelikhede, verwagtinge of afleidings van die alledaagse lewe.
“Wat ek nie besef het nie, is hóé nodig dit was nie.”
Die ervaring het haar geleer dat selfversorging nie lui of selfsugtig is nie, maar noodsaaklik.
Volgens haar het die feit om tyd vir haarself te neem, haar nie minder aan ander verbind nie; dit het haar net weer nader aan haarself gebring.
Sy het besef dat sy haarself dieselfde genade en motivering moet gee as wat sy aan ander gee.
Vir haar is die troos dat haar geesdrif en energie het egter mede-deelnemers laat lag, spanning gebreek, en dit makliker gemaak om met ander ’n verbintenis te vorm.
Daar was harde lesse: Sy moes ook leer om haarself soms terug te hou, om beter te luister, en om nie altyd impulsief op te tree nie.
Terug in die werklike lewe, is dit steeds as oefenkamp-instrukteur haar passie om vroue te help om te besef hoe sterk hulle is en om hulle aan te moedig om nie op te gee nie.
“Tydens die opnames het hierdie lesse regtig persoonlik geword.”
Daar was oomblikke waar sy uitgeput, emosioneel en onseker gevoel het, maar sy het haar eie woorde gehoor: “Jy is sterker as wat jy dink. Een tree op ’n slag. Asem in, hou aan beweeg.”
Sy erken dat sy soms die lewe vrees: nie altyd op ’n dramatiese manier nie, maar sy twyfel stilweg of sy genoeg is, of sy dit gaan maak, en of sy regtig kan vertrou op haarself.
“My deelname het my geleer dat ek sterker is as my vrese, en dat ek verdien om my plek in hierdie wêreld in te neem voluit en sonder verskoning.”
– Kliek hier om meer van die reeks te sien: https://www.dstv.com/kyknet/af-za/program/die-brug/seisoen/2/video’s/die-fout-die-brug/video
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.