Local newsNews

Swemmer se droomdag met Olimpiese held

In 'n hartroerende oomblik het die 14-jarige Sacha Willemse sy jeugheld, die Olimpiese gouemedaljewenner, Chad le Clos, ontmoet.

Die 14-jarige Sacha Willemse van Upington in die Noord-Kaap het onlangs sy sportheld, die Olimpiese goue medalje wenner Chad le Clos, ontmoet.

Hierdie onvergeetlike oomblik is moontlik gemaak deur Reach For A Dream, ’n stigting wat sedert 1988 kinders met lewensbedreigende siektes help om hul drome te verwesenlik.

Willemse, wat met ’n lewensbedreigende siekte saamleef, het geen idee gehad wat op hom wag toe sy ma hom na ’n mini-gholfbaan in Kaapstad geneem het nie.

Tot sy verbasing het Chad le Clos agter die bedieningstoonbank gestaan en gewag om die jong swemmer, wat lief is om kruipslag en vlinderslag te swem, te verras.

Le Clos is ’n Suid-Afrikaanse swemmer wat internasionale erkenning verwerf het vir sy uitstaande prestasies in die 200m- vlinderslag. Sy deurbraak het tydens die 2012 Olimpiese Spele in Londen plaasgevind, waar hy die 200m-vlinderslag gewen het en die legendariese Michael Phelps verslaan het.

Hy het ook ’n silwermedalje in die 100m-vlinderslag behaal. Le Clos het sy Olimpiese medalje-rekord in 2016 verbeter toe hy weer ’n silwermedalje in die 100m- en 200m-vlinderslag behaal het.

“Dit was só ’n verrassing,” sê Willemse.

Hulle het onmiddellik gekliek en ’n band gesmee. Na ’n rondte minigholf, het hulle saam middagete geniet.

Le Clos het vir Willemse oefentegnieke verduidelik, raad gegee oor hoe om gemotiveerd te bly te midde van uitdagings, en hom aangemoedig om sy droom na te jaag.

Willemse wil ook eendag ’n Olimpiese swemmer word.

Die dag is afgesluit met ’n onvergeetlike gebaar: Le Clos het ’n getekende boek, ’n amptelike SA-swempet, en die swembroek wat hy gedra het toe hy ’n wêreldrekord gebreek het, aan Sacha oorhandig.

Die swembroek is die enigste van sy soort in die wêreld.

Vir Willemse was hierdie droom baie meer as net ’n ontmoeting met ’n sportlegende.

“Dit gee my die idee my doelwitte is steeds haalbaar ten spyte van my siekte,” vertel Willemse.

Heidi Rowley, takbestuurder in die Wes-Kaap van die stigting, het hulle vergesel.

“Om Sacha se droom te verwesenlik, was ’n bevestiging hoekom ons doen wat ons by Reach For A Dream doen. Om die oomblik te aanskou toe Sacha besef sy held, Chad le Clos, staan reg voor hom, en iemand soos hy wil werklik in hom belê, was ongelooflik kragtig en emosioneel. Chad het vir Sacha mentorskap, motivering en herinneringe gegee wat vir ewig by hom sal bly. Dit was ’n inspirerende oomblik wat ons by die stigting sal koester.”

Sy verduidelik die verwesenliking van drome soos dié van Willemse word moontlik gemaak deur Reach For A Dream se nasionale inisiatiewe, insluitend Slipper Day, die stigting se grootste jaarlikse fondsinsameling, wat vanjaar op 30 Mei gehou word.

Suid-Afrikaners word aangemoedig om ’n Slipper Day-plakker vir R20 aan te skaf, hul pantoffels daardie dag te dra, en te help om drome vir kinders soos Willemse waar te maak.

Slipper Day-plakkers is tot 30 Mei beskikbaar by Wimpy, Dischem-apteke, Pick n Pay, Baby City, Toys R Us, Babies R Us, Krispy Kreme, Hush Puppies en The Crazy Store. Plakkers, tema-pantoffels en sokkies kan ook aanlyn gekoop word op reachforadream.org.za.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Reitumetse Mahope

Reitumetse Mahope is a seasoned journalist overseeing digital content at Rekord. With close to a decade of experience in field reporting, Mahope captures compelling stories that inform, educate, and inspire. His expertise spans from hard news to heartwarming features, making him a valuable asset to the team.
Back to top button