Local newsNews

Rietondale-park word verfraai met muurkuns

'n Uitstaande kenmerk van die onlangse verfraaiing van die Rietondale-park aangrensend aan Soutpansbergweg is ‘n kleurvolle muurskildery vol vreugdevolle kleure. Die projek het ondersteuning ontvang van die Rietondale Huiseienaarsvereniging en plaaslike kontrakteurs, wat verseker dat die park nie net 'n ontspanningsarea is nie, maar 'n simbool van gemeenskapstrots en eenheid.

Die Moot Projek se Rietondale-span, onder leiding van koördineerders Ronel de Wet en Hetta Pieterse, het ’n kleurvolle verandering aan die Rietondale-park aan Soutpansbergweg bewerkstellig deur muurkuns.

Ander spanlede was mede-kunstenaars Janey Cox, Wim Myburgh en Mariska Reyneke sowel as Thys Pieterse.

Hierdie gemeenskapsinisiatief van die Mootprojek en die Rietondale Huiseienaarsvereniging, het die park omskep in ’n veilige en uitnodigende ruimte vir kinders en hul families.

Die Rietondale-span het ook met toewyding gewerk om die park se infrastruktuur te verbeter.

De Wet, afgetree na 40 jaar by Suid-Afrikaanse Reserwebank, is al 25 jaar lank woonagtig in Rietondale.
“Wat ons doen, is om die voorstelle van die Rietondale-gemeenskap te identifiseer en as ’n uitdaging aan te pak, soos die verf van minipadsirkels, spoedhobbels en infrastruktuur, sowel as die skoonhou, verfraaiing en grassny van ons park,” verduidelik sy.

Hierdie benadering verseker dat die gemeenskap se behoeftes en voorstelle sentraal staan in hul verbeteringsproses.

Van die lede van die kunsspan: Mariska Reyneke, Ronel de Wet, Wim Myburgh en Hetta Pieterse. Foto: Verskaf

Die speelarea het ook ’n broodnodige opgradering ondergaan.

“Ons het die speelarea voltooi met behulp van die Rietondale Huiseienaarsvereniging. Die Heksehoed-rondomtalieswaai en die swaaie was baie stukkend en gevaarlik vir die kinders se veiligheid. Ons wil dankie sê aan ons toegewyde kontrakteur, Diamond, wat die hele speelarea opgegradeer het. Dit was ’n groot verbetering en opheffing vir ons area,” sê De Wet.

Een van die mees opvallendste toevoegings tot die verfraaiing van die park is die kleurvolle muurkuns, ontwerp met kinders in gedagte.

Pieterse, ’n bekende uitgewer en kunstenaar, het die muurkunsprojek gelei.

“Muurkuns laat ’n gemeenskap deel voel van die verfraaiing van ’n buurt. Daarom is die muur ontwerp met kinders in gedagte, veral ten opsigte van die kleure,” verduidelik sy.

Thys en Hetta Pieterse was as ma-en-seunspan deel van die Rietondale-span wat ‘n park in die Moot met muurkuns verfraai het.

Die kleure is sorgvuldig gekies om te harmoniseer met bestaande elemente in die park, soos die blou stoele van die tennisbaan en die pienk en donkerblou van die padelbane.

Pieterse voeg by: “Ek wou hê dat, as kinders veral na die werk kyk, hulle gelukkig en vrolik moet voel. So is elke kleur en skakering dan ook uitgekies om met mekaar te harmonieer of kontrasteer en die kontraste moet lig en speels wees.”

Nog ’n interessante en kleurvolle toevoeging tot die speelarea is die eenbeentjie-hop blokke waar kinders weer kan leer om die balansspeletjie te speel.

De Wet verduidelik die sukses van die projek is te danke aan die samewerking van verskeie borge, individue en organisasies soos die Huiseienaarsvereniging.

Met hierdie transformasie van die Rietondale-park het Die Moot Projek nie net ‘n speelarea verbeter nie, maar ‘n ruimte geskep waar kinders veilig kan speel op springblokke, ouers kan ontspan, en die gemeenskap as geheel kan floreer.

Die span is ook tans besig met ’n voorbereidingsessie vir die skropsessie aan die einde van die maand op 31 Mei vanaf 7:00 tot 10:00 op die hoek van Parker- en Soutpanstrate by Ons Tuis.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button