Helpende Hand en jagprojek bring vleis én hoop
Solidariteit Helpende Hand en die HelpJag-projek voorsien vleis en maaltye aan behoeftige kinders. Op Wêreldhongerdag het talle vrywilligers ingespring met die “Honger vir Hoop”-veldtog om weer hul hande te sterk.
Op Wêreldhongerdag op 28 Mei het Solidariteit Helpende Hand saam met Pretoria FM ’n landswye veldtog onder die tema “Honger vir Hoop” geloods.
Duisende mense het ingespring met donasies en fondsinsamelingspogings.
Daar is fondse vir sowat 15 000 borde kos ingesamel, met bydraes wat van regoor die wêreld ingestroom het: van individue wat R20 geskenk het, tot ondernemings wat R70 000 bygedra het.
Margole Riekert, hoof van projekte by Helpende Hand, sê die behoefte aan kosprojekte neem toe.
Die organisasie voed daagliks meer as 8 000 kleuters landwyd in gemeenskappe soos by hul sentrums in Pretoria-NNoord en Eastlynne in die Moot.
Die Kosblikkie-projek help ook al sedert 2009 om gesonde kos by kleuterskole te kry, maar sy beklemtoon finansiële hulp alleen is nie genoeg nie.
“Dis hoekom die organisasie HelpJag ontstaan het in 2018,” sê sy. “Dis prakties: jagters skenk vleis, ons verwerk dit en versprei dit aan skole, ouetehuise en tehuise vir gestremdes. Ons nasionale struktuur maak dit moontlik dat jy, of jou tyd, jou vaardighede of geld kan gee.”

Bakkies Botha, voormalige Springbok-rugbyspeler en ambassadeur van HelpJag, sê van die jagveld tot by die eettafel, wil hulle sorg vir diegene wat nie seker is oor waar die volgende bord kos vandaan kom nie. Die projek het sedert 2018 al meer as 220 ton vleis aan kosprojekte geskenk.
“HelpJag sit naby aan my hart,” sê hy met oortuiging. “Jare terug toe ek gevra is om te help, het ek besef ons kan as jagters ’n verskil maak. As wildboere sê kom skiet vir kosprojekte, vat ons hande met hulle en voorsien ons die logistieke. Maar die werk hou nie op in die jagveld nie. Ons verwerk die vleis self voordat dit na die projekte en sentrums gaan.”

Vir hom gaan die projek nie net oor vleis of jag nie, maar oor iets veel dieper: hoop.
“Elke kind het die reg om goed gevoed te word, glo ek,” sê Botha. “Kos gee hoop. Dit wys vir ’n kind hy is nie alleen nie. ’n Blesbok voed 13 kinders. ’n Gemsbok op sy beurt 33. HelpJag is vir my ’n manier om terug te gee. Kinders wat weet hulle gaan by die skool kos kry, gaan skool toe, leer, speel sport en kry hoop. Dis waaroor dit gaan: om hoop te bring waar daar nie is nie.”
Gerhard Pretorius, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, beaam dit: “Ons fokus nie net op fisieke honger nie, maar ook op geestelike honger,” sê hy. “Ons glo in opleiding en opvoeding en om die kind toe te rus om eendag sy eie honger aan te spreek.”
Helpende Hand se kosprojekte rus op ’n volhoubare model. Elke sentrum gaan deur ’n streng keuringsproses voordat hulle befondsing ontvang. Die sentrums koop self kos aan, wat vir meer beheer en verantwoordelikheid sorg.
“Een bord kos per dag maak ’n verskil,” sê Pretorius. “Om ’n bord te borg kos R20 en dis ’n vullende bord kos. Dit sluit ’n stysel soos rys of pasta in, ’n proteïen en ’n groente vir vitamiene.
“Vir ons is elke bord kos ’n hoogtepunt,” sê Pretorius. “Ons Helpende Hand-studente het selfs met ’n muntlegging R3 000 ingesamel.”
Die veldtog duur voort tot 7 Junie, Wêreldvoedselsekerheidsdag. Die publiek kan tot 7 Junie deel wees van hierdie inisiatief. Borg ’n bord kos vir net R20 by www.helpendehand.co.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
