News

Moot-inwoners eis antwoorde

Inwoners eis dringende optrede van die metro oor voortdurende kragonderbrekings, stukkende straatligte, versuimde infrastruktuurherstelwerk en taxi’s wat reëls oortree. Hulle waarsku hul oorweeg om hul tariefbetalings te staak indien dienslewering nie verbeter nie.

Die gebrek aan dienslewering en reaksie van die metro gee inwoners van die Moot hoofbrekens.

Inwoners van veral wyke 52, 53, 54 en 84 sê hul geduld raak nou op.

Peter Meijer, raadslid van die Vryheidsfront Plus, het namens die gemeenskap ’n reeks dringende vrae en eise aan die stadsbestuur gerig in verband met kragonderbrekings, straatligte, ongereguleerde taxi-roetes en ’n gebrek aan kommunikasie van die metro se kant.

Meijer skryf in sy betoog: “Voortdurende onderbrekings in elektrisiteitsvoorsiening is nie meer ’n eenmalige geval nie, maar eerder ’n deurlopende ramp.”

Hy verwys na die spesiale raadsvergadering van 3 April, waar hy gevra het dat fondse vir infrastruktuurprojekte ook aan die Koedoespoort- en Blesbok-substasies toegewys word.

Hy bevestig daar is toe versekering gegee dat die nodige werk aan Koedoespoort teen einde April afgehandel sou wees en dat die Blesbok-substasie in Desember opgeknap sou wees soos beplan in die 2025/26-begroting.

“Dit blyk egter dat die probleme wat ons ondervind steeds verband hou met werk wat nie afgehandel is nie. Ek het dringend opklaring hieroor nodig maar ontvang dit nie.”

Moot-inwoners is gefrustreerd omdat aanmeldings deur die metro as gesluit en opgelos verklaar word sonder dat probleme opgelos is en hulle dan noodsaak om weer aanmeldings te maak.

’n Verdere probleem, volgens Meyer, is die gebrekkige werking van straatligte in die Moot.

“Ek het dié saak al by verskeie amptenare aangemeld, en verlede jaar is daar vordering gemaak toe die straatligte in Bergtuin en Breyerlaan herstel is. Maar die werklike probleem is nie die ligte self nie, maar die skakelaars wat dit moet aanskakel.”

Hy voeg by: “Tensy ek verkeerd bewys word, lyk dit of dit ’n doelbewuste poging is om op elektrisiteitsverbruik te bespaar ten einde aan die betalingsooreenkoms met Eskom te voldoen soos deur die hof bepaal.”

In die tussentyd leef inwoners letterlik in die donker. Veral strate soos 11de Laan was 11 dae sonder krag.

“Misdaad neem toe, en mense moet ekstra betaal vir privaat sekuriteitsdienste om hul omgewings veilig te hou,” sê Meyer.

Hy het die metro met sy oproep vir dienslewering ook herinner aan die sogenaamde 80/20-beginsel. “Wat het geword van die beginsel waarvolgens 20% van die inkomste wat in ’n wyk gehef word, aan daardie wyk se infrastruktuur en instandhouding bestee moet word?”

Hy het die stadsbestuur verseker dat die meerderheid inwoners in die betrokke wyke lojale belasting- en tariefbetalers en die basiese dienste moet ontvang soos vasgelê in die Grondwet.

Hy waarsku verder: “Terugvoer van die gemeenskap dui daarop dat hulle op die punt is om hul betalings aan die stad terug te hou, iets wat rampspoedige gevolge vir die stad se kontantvloei sal hê. Dit mag egter daartoe lei dat gemeenskappe self beheer neem om hul probleme op te los.”

Hy wys daarop dat inwoners reeds verskeie eise ingedien het vir verliese aan bederfbare produkte, spesifiek kos. “Ek wil weet hoe ver die metro is met die verwerking en uitbetaling van alle wettige eise,” sê hy.

Ten slotte het Meijer sy kommer uitgespreek oor minibustaxi’s wat woonbuurte in veral Waverley binnegaan het waar hulle nie veronderstel is om te wees nie. “Taxi’s dring die woongebiede binne deur van die vasgestelde roetes, wat ooreengekom is tussen die stad en die taxi-verenigings, af te wyk.”

Stukkende straatligte wat aangemeld word maar nie herstel word nie, is ‘n ernstige klagte wat telkens deur Moot-inwoners voor die deur van die metro gelê word.

Die gemeenskap wag nou op antwoorde én aksie. Hulle geduld raak min.

Een inwoner in 11de laan is moedeloos omdat oproepe om klagtes oor kragonderbrekings as “gesluit” aangetoon word by die metro sonder dat die probleme opgelos is. Talle inwoners kla dat dit soms die metrospanne net tien minute neem om herstelwerk te doen, maar die proses om die spanne in die buurt te kry kan dae neem.

“Ek ry sommer die strate deur en kyk of ek ’n span sien en vra hulle dan om na ons straat te kom nadat ek ’n klag oor ’n onderbreking ingesit het,” sê die inwoner.

“My oproep is toegemaak as ‘completed’ sonder dat enigiemand hier was. My krag is steeds af en ons gaan in ’n week in met ’n metro wat nie oortyd betaal nie. My beste hoop nou is om volgende week krag te hê,” sê die inwoner.

DA raadslid Anru Meyer sê die burgemeesterskomiteelid van Gemeenskapsveiligheid is genader oor antwoorde rakende die probleemareas wat op die department betrekking het.

“Ongelukkig het ons nie ’n plan van aksie gekry nie, maar het byvoorbeeld met die minibustaxi’s-probleem die antwoord gekry dat ander departmente verantwoordelik is vir onder andere die polisiëring van die bywette en nie die metropolisie nie. Ons plan is nou om Gauteng Verkeersafdeling te nader wat ’n stasie in die Moot het om hulp te verleen, veral op Nico Smithstraat, Stormvoëlrylaan asook CR Swartrylaan,” verduidelik Meyer.

Hy sê stukkende straatligte bly ’n omstrede brandpunt.

“Ek is wel dankbaar dat hulle hele paar straatligte in die Môregloed-area herstel het en ook sommiges in CR Swartrylaan. Groot gedeeltes van die Moot bly in die donker saans oor stukkende straatligte. Die metropolisie trek skouers op en beweer ’n tekort aan voertuie verhoed hulle om te help,” sê hy.

“Dis nou nadat hulle reeds addisionele voertuie ontvang het. Die beste oplossing om die probleem te addresseer is in die vorm van die registrasie van ’n Community Upliftment Project waar daar self herstelwerk gedoen word aangesien die huidige administrasie nie belangstelling toon om die Moot hiermee te help nie.”

Hy meld dat hy in sy begrotingsvoorstelle ook Koedoespoort-kragstasie se opgradering en Blesbok-kragstasie bygevoeg asook die medium-spanningskabelnetwerk wat vervang moet word saam die lae spannings-oorhoofse kabels. Hy het ook voorgestel dat lae spannings-oorhoofse lyne verander word om geïsoleerde kabelgeleiers te gebruik sowel as om te versoek dat alle kabels met aluminium vervang moet word.

Die metro is genader om kommentaar maar geen antwoorde is na ’n geruime tyd ontvang nie.

LEES: Zwartkop klop hul grootste teenstander, vestig hulself bo-aan punteleer

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button