Zwartkop klop hul grootste teenstander, vestig hulself bo-aan punteleer
Hoërskool Zwartkop se eerste rugbyspan het die afgelope naweek groot veggees en karakter getoon toe hulle ’n rustyd-agterstand van 10 punte moes uitwis om met een van hul vernaamste teenstanders in die Noordvaal Cup se Plaat-liga af te reken.
Die eerste rugbyspan van Hoërskool Zwartkop is stééds onoorwonne, nadat hulle die afgelope naweek met een van hul grootste uitdagers in die Noordvaal Cup se Plaat-liga, Hoërskool Wesvalia van Klerksdorp, afgereken het.
Die Zwarries het op hul tuisveld in Centurion ’n taai wedstryd teen die Noordwesters met 28-21 gewen en is nou drie punte op die liga se punteleer voor hul twee grootste uitdagers, Wesvalia en HTS Middelburg, met die ekstra voordeel dat hulle ’n wedstryd minder gespeel het as dié twee spanne.
Saterdag se wedstryd was waarskynlik Zwartkop se grootste karaktertoets tot dusver vanjaar, nadat dit teen rustyd gelyk het of hulle afstuur op hul eerste nederlaag van die seisoen.
Nadat die Zwarries se losskakel, Tilon Baron, die eerste punte van die wedstryd via ’n stafdoel aangeteken het, het die besoekers grootliks die res van dié helfte oorheers. Die Zwarries het gesukkel om balbesit te verkry en as hulle darin geslaag het, het hulle té min daarmee gedoen òf dit weer afgestaan.
Die tuisspan se verdediging is tot die uiterste beproef en hulle was gelukkig om hul teenstanders tot ’n strafdrie en twee strafdoele te beperk, wat die rustyd telling op 3-13 in die besoekers se guns te staan gebring het.
Wat Zwartkop se afrigter, Dawid Gouws, ookal rustyd vir sy troepe te sê gehad het, het gewerk, want in die tweede skof het sake heel anders uitgespeel.

Bron: Noordvaal Cup
Nadat Wesvalia aanvanklik baie vroeg in dié helfte weer met hul aanvalle begin het en kort daarna die telling tot 3-16 laat groei het met ’n strafdoel, het die tuisspan die stang vasgebyt en begin met hul terugveg poging.
Dit was hul onbesonge held, binnesenter Dawid van Jaarsveld, wat eerste oor die doellyn is nadat die voorspelers die aanvoorwerk gedoen het met ’n dryfbeweging. Dié seun se werkverrigting is weekliks baie hoog en hy is goud werd vir sy span, veral met sy kraglopies waarmee hy gereeld oor die voordeellyn kom.
Die Zwarries het stadig maar seker hul stempel begin afdruk en toe heelagter Justin Julies in die hoek oor is, kon die tuisskare begin glo dat hulle span dit wéér sou doen.
Kort daarna het die groot slot, Logan Knott, vergoed vir sy geelkaart vroeër in die wedstryd met ’n stromram-drie.
Skielik was die druk op die besoekers en Baron het die gaping nog groter gemaak met twee strafdoele kort na mekaar, om die telling na 28-16 te laat groei.
Die span uit Klerksdorp het nie gaan lê nie en hard teruggevegg in die laaste drie minute om self weer te druk, wat aan hulle ’n bonuspunt verseker het vir die nederlaag met sewe punte of minder.
Ongelukkig vir Zwartkop word die liga nou onderbreek tot ná die Julie vakansie, wat beteken dat die volgende wedstryde eers op 26 Julie sal plaasvind. Hoewel al die spanne daardeur geraak word, is dit sekerlik nie ideaal as ’n span soos Zwartkop se momentum op hierdie manier verbreek word nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







