Pretoria Sakekamer versoek toegang tot metro rekords oor forensiese ondersoeke
Die organisasie het toegang tot 384 munisipale gevalle versoek onder die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting om deursigtigheid in dissiplinêre en kriminele optredes te verseker.
Die Pretoria Sakekamer het ’n formele versoek ingedien om toegang tot 384 gevalle van munisipale rekords onder die Wet op die Bevordering tot Inligting (PAIA) te verkry.
Voorsitter Fergus Ferguson het aan Rekord gesê die versoek is om duidelikheid te kry oor ’n reeks hoëprofiel forensiese ondersoeke, dissiplinêre optredes en kriminele verwysings deur die metro leierskap en waaroor wyd berig is in die media.
Dit sluit in:
– 129 gevalle waarin dissiplinêre optrede aanbeveel is teen werknemers,
– 39 kriminele verwysings vir vervolging,
– 48 gevalle geïdentifiseer vir finansiële verhale,
– 67 afleggings,
– 31 finale skriftelike waarskuwings, en
– 70 gevalle verwys na die Finansiële Dissiplinêre Raad.
Hy verduidelik dat terwyl die organisasie alle pogings om gevolg- en etiese bestuur te bevorder, ondersteun, glo hul lede dat aanspreeklikheid deur deursigtigheid ondersteun moet word.
“Die publiek het die reg om te verstaan hoe hierdie syfers afgelei is, watter aksies geneem is en watter geskikte prosesse gevolg word.
“As verteenwoordigers van Pretoria se sakegemeenskap, is ons daartoe verbind om ’n kultuur van aanspreeklikheid, die oppergesag van die reg en skoon bestuur te bevorder,” sê Ferguson.
Hy sien hierdie PAIA-versoek as ’n konstruktiewe stap om te verseker dat die metro se openbare verklarings gekoppel word aan meetbare vordering en administratiewe integriteit.
Hy het versoek dat die rekords elektronies voorsien moet word en het onderneem om enige redelike herwinningsfooie te betaal.
Daar word verwag dat die metro binne 30 kalendardae sal reageer, soos deur die wet voorgeskryf.
“Ons bly hoopvol dat die Tshwane metro hierdie versoek met die dringendheid en erns wat dit verdien, sal hanteer en ons sien uit na verdere samewerking oor sake van bestuur en hervorming,” sê Ferguson.
Burgemeester dr. Nasiphi Moya het onlangs tydens ’n perskonferensie gesê dat haar administrasie voortaan stappe neem tot institusionele en etiese bestuur.
“Die stad het beduidende vordering gemaak om politieke toesig en prosesse te verskerp om te verseker dat die kwessies wat deur die Ouditeur-Generaal aangedui is, beslissend aangespreek word,” het Moya verduidelik.
Dit sluit 349 gevalle in waar dissiplinêre optrede teen beamptes aanbeveel is (op van 126 sedert Februarie) en 44 gevalle wat vir kriminele vervolging verwys is (op van 39), het sy gesê.
Meer as 900 gevalle is vir die eerste keer verwys na die Finansiële Dissiplinêre Raad (voorheen 70), en 85 beamptes is afgelê (voorheen 77).
Die redes vir hierdie afleggings wissel van seksuele teistering en verkragting tot bedrog en korrupsie, omkopery, diefstal en pligversuim.
Sy het genoem dat die ondersoeke rakende vyf beamptes oor hul wanbestuur van die Refilwe- en Caledonian-stadiums afgehandel is.
Die beamptes het briewe van voorneme om op te skort ontvang.
“Ter ondersteuning van ons strewe na beter bestuur, is addisonele hulpbronne aan Groepoudit en Risiko vir die 2025/26 konsepbegroting toegeken, waar R36-miljoen opsy gesit is vir forensiese ondersoeke in ons stryd teen korrupsie,” het Moya gesê.
LEES: Nóg ’n oorwinning oor Tuks wys Grizzlies kán saam met die groot honde blaf
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
