Moord op bejaarde vrou ruk Moot-gemeenskap
Inligting van informante het op dieselfde dag wat 'n 81-jarige vrou in die Moot vermoor is, gelei tot die opsporing van die twee verdagtes, wat na bewering items van die oorledene by hulle gehad het.
Op 20 Junie het Jade-Lee Smit (23) en Lucas Mmonwa (36) in die landdroshof in Pretoria verskyn op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en huisbraak.
Smit en Mmonwa is in hegtenis geneem nadat gesteelde goedere glo in hul besit gevind is wat aan die oorlede 81-jarige Amanda Joyce behoort het.
Die saak is uitgestel om hul adresse te verifieer en vir ’n moontlike uitkenningsparade.
Volgens kaptein Johan van Dyk van die Pretoria Moot SAPD het die voorval op 17 Junie plaasgevind.
Hy verduidelik lede van die polisie het op ’n noodoproep gereageer ná ’n sekuriteitsbeampte deur ’n bekommerde maatskaplike werker van ’n plaaslike organisasie gekontak is.
Volgens Van Dyk het die werker gereeld vir Joyce, wat alleen gewoon het, bygestaan met huishoudelike take en kosvoorsiening.
“Op die oggend van die moord het die werker by Joyce se woning opgedaag, maar is deur ’n onbekende vrou met ’n vae verduideliking begroet,” bevestig Van Dyk.

Joyce was glo siek en het gerus ná medikasie, volgens die onbekende vrou in haar huis.
“Alhoewel die werker ongemaklik gevoel het, het sy vertrek maar wel die sekuriteitsdiens geskakel. Toe die polisie op die toneel aankom, was die voordeur gesluit, maar hulle het uiteindelik toegang via die agterdeur gekry,” vertel Van Dyk.
Binne die huis is bloedspore in die slaapkamer gevind en die liggaam van Joyce is in die badkamer ontdek, gedeeltelik onder water en met sigbare beserings.
Volgens hom het nooddienste haar op die toneel dood verklaar.
’n Intense ondersoek is onmiddellik van stapel gestuur.
Inligting van informante het later dieselfde aand gelei tot die opsporing van die twee verdagtes, wat na bewering items van die oorledene by hulle gehad het.
Verdere gesteelde goedere is later teruggevind op plekke waar dit vermoedelik verkoop is.

Binne 12 uur na die misdaad is die verdagtes in hegtenis geneem.
Majoor-generaal Samuel Thine het die speurderspan geprys vir hul vinnige optrede en professionele hantering van die saak.
Piet Thirion, voorsitter van die Moot GPF, sê: “Hierdie is ’n polisie-ondersoek en ek kan geen kommentaar daarop lewer nie. Die gemeenskap moet egter daarteen waak om hulle aan gerugte te steur en self gerugte te versprei. Die volle waarheid sal tydens hofsake na vore kom.”
Hy het verder gemeenskapslede gemaan om nie vreemdes op hul persele toe te laat of hul in gesprekke met onbekendes te begewe nie.
Intussen het die plaaslike gemeenskap hul hartseer en verlies gedeel.
Op die VLU Kilnerpark se Facebookblad is geskryf: “Hierdie boodskap is baie moeilik om te plaas. Ons het hierdie week ’n spesiale vriendin verloor, Amanda Joyce. Haar lig skyn nie meer op aarde nie, maar haar lig sal vir altyd in ons harte en gedagtes skyn. Rus in vrede Amanda, ons sal jou altyd mis.”
Die saak is tans uitgestel en verdere ondersoeke is aan die gang.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
