Beweerde Mzansi Resorts-skandaal ontbloot ernstige vrae oor adjunkburgemeester
Ondersoeke gaan voort en druk neem toe op die Tshwane metro en die Noordwes Behuisingskorporasie. Dit rondom bewerings van geld verskuldig deur 'n maatskappy waarvan die adjunkburgemeester, Eugene Modise, die besturende direkteur is.
Die onlangse bewerings deur die DA rondom die adjunkburgemeester van Tshwane, raadslid Eugene Modise en sy maatskappy Mzansi Promotions and Exhibitions CC, het die kollig laat val op bestuur, verantwoordbaarheid en politieke voorreg in plaaslike regering op tweede en derde vlak.
Die DA het ’n groeiende finansiële omstredenheid blootgelê wat nie net miljoene rande in agterstallige huur en munisipale skuld behels nie, maar ook vrae laat ontstaan oor etiese optrede en beweerde moontlike politieke inmenging.
In die middelpunt van die saak is Mzansi Promotions and Exhibitions CC, ’n maatskappy wat aan Modise behoort en wat die hotel en oord op die voormalige Morula Sun-eiendom in Mabopane bedryf.
Die ooreenkoms tussen Mzanzi Promotions and Exhibitions CC en die Noordwes Behuisingskorporasie toon dat die maatskappy meer as R12.5-miljoen aan die korporasie skuld in agterstallige huur.
Verder is daar ook R21.7-miljoen na bewering indirek deur dieselfde maatskappy verskuldig aan die metro vir eiendomsbelasting, water en sanitasie: alles verbonde aan dieselfde eiendom.
Die eiendom en geboue was eertyds bekend as die Morula Sun en is deur die Sun International-hotelgroep aan die behuisingskorporasie geskenk toe die groep dit as ’n bate aan die korporasie oorgedra het.
Hoewel die munisipale rekening in die naam van die behuisingskorporasie geregistreer is, dui die huurooreenkoms aan dat Modise se maatskappy, saam met ’n onderverhuurder, Gold Rush (Pty) Ltd, verantwoordelik is vir die betaling van hierdie kostes.
Dokumente wat hierdie feite staaf is onlangs deur die behuisingskorporasie na ’n geskrewe navraag deur die DA se Johni Steenkamp in die Noordwes provinsiale wetgewer deur die korporasie beantwoord.
Volgens die DA plaas hierdie skuldlas, aangehelp deur nie-betaling, ’n direkte las op Tshwane-inwoners en dit belemmer die stad se finansiële herstel en dienslewering.
Jacqui Uys, DA-raadslid en woordvoerder oor finansies in Tshwane, sê: “Adjunkburgemeester Modise se uitstaande skuld aan die behuisingskorporasie keer dat hulle hul verpligtinge aan die metro kan nakom. Dit het ’n domino-effek op die stad se finansies en raak inwoners direk. Dit is onaanvaarbaar.”
Uys het verder verwys na dubbele standaarde in die toepassing van skuldinvordering: “Hoe is dit moontlik dat provinsiale instellings soos Weskoppies hul elektrisiteit verloor weens nie-betaling, maar Mzansi Resorts-hotel funksioneer steeds normaalweg? Dit lyk of daar ’n blatante verskil is in hoe skuld tussen individue en politieke-verbonde entiteite hanteer word.”
Tydens ’n onlangse finansiële oorsigkomiteevergadering in Tshwane, het die DA ook sy kommer uitgespreek oor die toenemende munisipale skuld van entiteite soos die behuisingskorporasie.
Stadsamptenare het volgens Uys bevestig dat die behuisingskorporasie nie hul eie skuld kan vereffen nie, juis omdat hul huurders soos Modise se Mzansi Promotion and Exhibitions CC nie hul huur betaal nie.
Sodra die stadsraad uit reses is beoog die DA om ’n formele versoek te rig vir ’n verslag oor die skuldinvorderingsprosesse teen Mzansi Resorts-hotel.
Die party wil weet waarom die maatskappy steeds ongestoord sake doen, terwyl ander besighede afskakelings en invorderings-aksies in die gesig staar.

In reaksie op Rekord se navrae het Modise die beskuldigings as “politiese slenters” afgemaak en sy kritici beskuldig van politieke motiewe.
“Moet asseblief nie verwag dat ek die verhouding met die behuisingskorporasie sal besoedel as gevolg van politieke speletjies nie. Ons het die behuisingskorporasie verbaas met hoe ons die eiendom verbeter het. Ons het misdaad beperk en vandalisme gestop.”
Modise ontken dat sy maatskappy enige geld aan die korporasie skuld.
“Ons skuld nie die behuisingskorporasie nie,” sê Modise.
Volgens hom is die verlenging van die huurkontrak tussen sy maatskappy en die behuisingskorporasie tot April 2026 geregverdig op grond van die opgraderings en verbeterings aan die eiendom wat sy maatskappy self gefinansier het.
“Ons het die ooreenkoms aangegaan lank voordat ek ’n raadslid geword het, wat nog te sê adjunkburgemeester,” verduidelik Modise.
“Dit sou oneerlik wees om inligting nou te openbaar terwyl die saak steeds deur prokureurs hanteer word.”
Oor die beweerde skuld aan die metro deur Mzansi Promotion and Exhibitions CC, die maatskappy waarvan Modise die besturende direkteur is, sê hy dat sy maatskappy geen rekening met die metro het nie.
“Die skuld is vir entiteite wat die eiendom lank gelede gebruik het,” sê Modise.
Hy ontken dat daar volgens die diensleweringsooreenkoms tussen sy maatskappy en die behuisingskorporasie enige klousule is waarvolgens sy maatskappy onderneem om enige gedeelte van die munisipale koste verbonde aan die bedryf van Mzansi Resorts-hotel oftewel Morula Sun-hotel, te betaal.
“My maatskappy is verantwoordelik vir onderhoud aan tuine, sekuriteit en landskapargitektuur.”
Hy sê dat die ooreenkoms nie ’n ware weerspieëling is van sy maatskappy se verhouding met die behuisingskorporasie nie.
Hy het bevestig dat sy regspan tans met die behuisingskorporasie onderhandel rondom enige gelde en bepalings van die ooreenkoms sowel as fondse wat sy maatskappy aan verbetering en onderhoud belê het.
Die DA het die saak verwys na die Noordwes Wetgewer se Portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake.
Hulle eis dat beide Modise en die behuisingskorporasie voor die komitee verskyn om rekenskap te gee oor die “gerieflike reëling” tussen ’n ANC-politikus en ’n sukkelende provinsiale entiteit.
Die party het ’n duidelike standpunt: “Ons sal nie rus totdat elke sent wat deur adjunkburgemeester Modise geskuld word, betaal is nie, en dat die behuisingskorporasie rekenskap gee vir sy rol in hierdie ooreenkoms.”
Die uitvoerende hoof van die Noordwes Behuisingskorporasie, biskop Sello Mogodiri, het aan Rekord gesê dat die korporasie geen verhouding met die adjunkburgemeester van Tshwane, Eugene Modise, het nie.
“Oor die Morula Hotel wil ons net bevestig dat ons nie die vertroulike inligting van verpligtinge wat ons en gekontrakteerde partye met mekaar het, bekend maak nie. Ons kan wel meld dat daar tans ‘n litigasieproses tussen Mzansi Promotion and Exhibition en die Korporasie is en as sulks is die saak sub judice.”
Vrae is aan die Noordwes LUR vir Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake, Gaoage Oageng Molapisi, gestel maar antwoorde is nog nie tydens publikasie ontvang nie en sal met ontvangs bygewerk word.
* Neem asseblief kennis dat hierdie artikel gewysig is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
