News

Pretoria-kindersterre skitter in klassieke blyspel

Regisseur Niel van Niekerk bring 'n bekende en geliefde musiekspel bekoorlik tot lewe met 'n dinamiese span wat Pretoria se kindersterre insluit en met passievolle visie.

Met die klanke van ensemble-repetisies wat deur die gange eggo en ’n regisseur wat letterlik saamdans, is dit duidelik: iets besonders is besig om op die musiekblyspeltoneel in Pretoria te gebeur.

The Wizard of Oz, ’n geliefde klassieke musiekblyspel, kry ’n splinternuwe Afrika-geïnspireerde baadjie onder die bekwame regie van veelsydige en passievolle regisseur, dr. Niel van Niekerk, en sal eerdaags op die planke in Pretoria-oos wees.

Maar wie is die man agter die opvoering deur Pretoria akteurs, kindersterre en kunstenaars van 10 tot 70 jaar oud?

Van Niekerk is nie net ’n regisseur nie. Hy is ook dramaturg, stemkunstenaar, opvoeder, entrepreneur en storieverteller in murg en been. Sy produksies is nie projekte nie. Elkeen is ’n laag-op-laag kreatiewe reis wat, volgens hom, met ’n ui vergelyk kan word.

“Dit het my werksmetode geword. Jy skep die buitelyne en agtergrond en soos tyd toelaat, werk ek na binne en voeg ek laag op laag by, soveel as wat tyd en begroting toelaat,” verduidelik hy.

Die sterre van die vertoning is die 16-jarige Monja du Plooy, ‘n graad 10-leerder van Die Hoërskool Menlopark (blou rok) en haar metgesel Toto in haar avonture, die sjarmante Isaaca Ko (wit uitrusting) ‘n graad 5- leerder van Hatfield Christian School.

Die filosofie van stadig en deeglik opbou lê aan die hart van sy sukses.

Of dit nou ’n diep dramateks is of ’n skitterende musiekblyspel, sy benadering is altyd dieselfde: deeglike karakterisering, aandag aan detail en sorgsame afwerking is ononderhandelbaar.

Van Niekerk skryf produksies soos Charlie and the Chocolate Factory met 90 akteurs, Vierdoop vir die ATKV-tienertoneel en Athol Fugard se The Road to Mecca onder meer agter sy naam.

Wanneer ’n regisseur soveel verskeidenheid hanteer, van hoërskoolkompetisies tot internasionale verhoogtekste, is dit natuurlik om te wonder: hoe kies hy wat om te doen?

“My passiewerke, soos ek dit noem, kom van verskeie elemente. Elke nuwe land se mense, kos, taal en kultuur stimuleer ’n nuwe element van menswees in my wat ek dan toepas in my keuses en skryfwerk,” vertel hyk.

Sy eie lewenspad, van plaaskind tot koshuiskind, dramastudent en opvoedkundige, verryk die karakters wat hy skep en kies. Self in die stukke wat hy self skryf, soos Wragtag, vloei persoonlike ervarings natuurlik in.

Die ensemble wat een van die tonele in The Wizard of Oz vertolk.

Toe Pretoria-akteur, Deirdré van Schalkwyk van Full House Theatre Productions, hom kontak, het hy dadelik regop gesit.

“Ek het net ja gesê,” lag hy. “Musiekblyspele is een van my gunstelinggenres want jy werk met elke element van teater. Ek voel soos ’n kind in ’n lekkergoedwinkel.”

Hy het ’n besonderse liefde vir teaterwerk met jongmense, iets wat uit elke sin straal wanneer hy hul werk beskryf.

“Tieners is kompleks. Hulle is bereid om te waag op die verhoog. Hulle is onverskrokke as hulle inkoop op jou konsep.”

Of dit in die vorm van skooltoneel, stemwerk of jeugteater is, hy glo vas daarin om ’n veilige ruimte te skep waar elkeen hul unieke self kan ontdek.

“Drama is nie kompeterend nie. Dit gee selfvertroue, eiewaarde, empatie en baie dissipline.

“Die heel swaarste vir my is om na openingsaand my stuk oftewel ‘baba’ oor te gee aan die verhoogbestuurder om dit deur die pylvak te neem. Ek val letterlik in ’n gat vir ’n week.”

Tog is daardie ‘baba’ altyd die resultaat van liefdevolle samewerking.

In Vierdoop en nou in The Wizard of Oz, is sy teenwoordigheid by elke aspek van die produksie duidelik: van kostuums, tot beligting asook die daaglikse kos en koffie vir die spelers.

Regisseur Niel van Niekerk en Pretoria se opkomende musiekblyspeler, Reinier van Zyl.

Sy agtergrond in radio en stemopleiding gee Van Niekerk ’n unieke voordeel as regisseur.

Vir hom is dit ’n lewensmissie om Afrikaanse en Suid-Afrikaanse verhale na die verhoog te bring, veral binne skole en jeugteater.

“Ons het nog nie eers begin om die elemente van ons ryke erfenis en opwindende, maar uitdagende toekoms aan te spreek nie,” sê hy passievol. “Tieners deins nie terug nie. Hulle werk deur al die lae van ons samelewing.”

Met Van Shalkwyk as die meesterlike Wicked Witch, Eranee de Beer as musiekregisseur en Natasja van Niekerk as choreograaf, vier die produksie kreatiwiteit op elke vlak.

Die sterre van die vertoning is die 16-jarige Monja du Plooy, ’n graad 10-leerder van Die Hoërskool Menlopark en haar metgesel Toto in haar avonture, die sjarmante Isaaca Ko, ’n graad 5-leerder van Hatfield Christian School.

“Ons jongste lid is tien en die oudste amper 70. En elkeen kry ’n ‘cameo’-oomblik,” sê Van Niekerk.

Met kreatiewe inkleur van Afrika-elemente, insiggewende subteks en ’n ensemble van professionele kaliber, beloof die produksie om oud en jonk te betower.

– The Wizard of Oz speel van 7 tot 17 Augustus by die Atterbury-teater in Pretoria-oos.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button