News

TV-akteur glo toneelspel is ‘n ontdekkingsreis

Pretoria-oos akteur Jean Henry is nie net ’n talentvolle kunstenaar nie. Hy is ’n mens met insig, ywer, en ’n diepe waardering vir sy kuns.

In die TV-wêreld waar karakters dikwels vinnig kom en gaan, is dit ’n voorreg vir ’n akteur om ’n karakter oor verskeie seisoene te vertolk.

Vir akteur Jean Henry, wat die rol van Arno in die kykNET-reeks Diepe Waters vertolk, was so ’n geleentheid om terug te keer tot die reeks ’n loopbaanmylpaal.

Hy woon in Pretoria-oos, ’n area wat volgens hom sy identiteit gevorm het.

“Ek het hier groot geword en dis vir my lekker dat alles wat ek wil doen binne ’n tien-minute radius is.”

Om terug te keer tot die reeks, was ’n besluit wat hy nie ligtelik opgeneem het nie.

“Ek was verlig, maar ek wou ook weet in watter hoedanigheid en waarnatoe sy storielyn beweeg. Ek was nie geïnteresseerd om dieselfde storielyn weer te herhaal nie.”

Dié terugkeer was vir hom betekenisvol.

Nié net omdat dit sy loopbaan herbevestig het nie, maar ook omdat dit hom die kans gegee het om ’n meer volwasse Arno te vertolk.

“Ons almal kan genees,” sê hy. “Mens moet net bereid wees om te erken dat daar iets fout is. Die beste tyd om aandag daaraan te gee is nou.”

Wanneer hy terugdink oor die eerste optrede vier jaar gelede, was hy “net baie bly om ’n rol te kry en my voete te vind in die industrie”.

Sy nederige begin spreek boekdele van ’n jong akteur wat, soos sy karakter, aan die begin van sy pad gestaan het.

Arno was aanvanklik ‘’n verlore jong man sonder rigting wat op die verkeerde pad geloop het’.

Soos hy self as akteur ontwikkel het, het Arno ook op die skerm én in die harte van kykers gegroei.

Vir Henry is toneelspel nie net ’n kunsvorm nie, maar ’n beroep waarin professionaliteit voorop staan.

“As ’n akteur glo ek mens is ’n professionele persoon eerste en ’n akteur of kunstenaar tweede.”

Jean Henry, TV-akteur. Foto: Verskaf

Hierdie ingesteldheid, dat die grondslag van ’n suksesvolle akteur lê in basiese beginsels soos om betyds op te daag, respek teenoor ander te hê, en die teks deeglik te ken, wys op sy sin vir verantwoordelikheid.

Sy tegniese benadering tot toneelspel is duidelik in sy voorbereiding.

“Lees die teks 20-plus keer en weet wat aangaan in die reeks.”

Nie net roetine dryf sy toneelspel nie. Hy bring ook emosionele intelligensie en instink na elke toneel.

“Wees altyd oop vir verandering,” sê hy.

Dit is juis hierdie balans tussen voorbereiding en spontane reaksie wat sy werk laat uitstaan. Hieroor is hy baie vasberade.

“Ja, ek is verseker ’n vasberade mens en hou baie van uitdagings!”

Wat maak ’n karakter eg?

Volgens hom lê dit in die vrae wat hy aan die karakter stel: Wat is jou hoekom? Wat is jou doel in die lewe? Waarnatoe is jy op pad?

Deur hierdie vrae te beantwoord en die antwoorde te vind in die teks self, blaas hy lewe in die karakter. Sy toneelspel is dus ’n proses van ontdekking.

Hy erken dat sy eie lewenservaring sy werk verryk.

Tydens sy afwesigheid van die reeks het hy waardevolle insigte opgedoen: “Om verantwoordelikheid en druk te hê is ’n groot voorreg”.

Vir hom is die rol van Arno belangrik, maar dis nie waar sy drome eindig nie.

“’n Aksiereeks of films!” antwoord hy op die vraag oor toekomstige rolle.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button