News

Skoon Suidspruit wys gemeenskap se hart vir veilige omgewing

’n Skoon spruit is ’n goeie begin om nog 'n gedeelte van die Moot veiliger te maak, en wys waartoe ’n gemeenskap in staat is as hulle saamwerk met harte vol hoop en hande gereed vir diens.

’n Gees van samewerking, hoop en toewyding het onlangs die Suidspruit in die hart van die Moot verander in ’n omgewing om op trots te wees.

Dit is danksy die samewerking tussen gemeenskapslede, plaaslike organisasies soos Die Moot Projek en die organisasie sonder winsbejag iThemba Triumph Trolleys en sakeondernemings.

Die spruit en die oop gebied tussen 14de en 16de Laan, asook Beyers- en Haarhoffstrate, het by hierdie merkwaardige verandering baat gevind.

Ongeveer 50 vrywilligers, insluitend DB Landscaping, lede van iThemba Triumph Trolleys, BHL&J Dienste en toegewyde inwoners, het hul moue opgerol en met emmers, handskoene en ’n hele klomp entoesiasme die spruit aangepak.

Volgens projekleier, Rudolf van Dyk van Die Moot Projek, was die doel duidelik: “Takke van bome is gesnoei om die spruit oop en veilig te maak. Rommel in die spruit en op die walle is opgetel en in geel sakke gelaai vir verwydering deur die metro. Ons het tussen 450 en 500 sakke takke en vullisverwyder. Dis ’n massiewe poging!”

Die spruit is ongelukkig volgens talle inwoners deesdae ’n teiken vir onwettige rommelstorting, oop vure en selfs dwelm-aktiwiteite.

‘n Organisasie sonder winsbejag wat informele vullisherwinnaars bemagtig, iThemba Triumph Trolleys, het Die Moot Projek kom help om die Suidspruit skoon te maak. Foto: Verskaf

Hierdie aktiwiteite hou nie net ’n risiko vir veiligheid in nie, maar bedreig ook die ekologie van die gebied.

“Deur takke te snoei, word wegkruipplekke van misdadigers beperk en veiligheid vir die omgewing verbeter. ’n Skoon spruit beteken ’n veiliger en gesonder omgewing vir almal,” sê Van Dyk.

Organisasies soos DB Landscaping het die snoeiwerk hanteer, terwyl BHL&J Dienste nege trokvragte takke verwyder het.

iThemba Triumph Trolleys NPC het ’n span van 20 manne gestuur wat die spruit van binne af help skoonmaak het.

Kos en drinkgoed is met sorg voorberei deur gemeenskapslede. Die logistiek agter die verwydering van die geel sakke het ook glad verloop.

“Ons werk volgens die ‘broken window theory’,” verduidelik Van Dyk. “Klein, volhoubare stappe maak ’n groot verskil. As elkeen in sy eie omgewing begin, volg verbeteringe vanself. Ons sien elke dag hoe hierdie benadering die Moot verbeter.”

Vir hom en sy span is die ware bevrediging egter nie net in die skoon spruit en gebiede daarrondom nie, maar in die vreugde van die inwoners.

“Om te sien dat ons werk hoop en trots terug in die gemeenskap bring, laat mens goed voel,” sê hy.

Die span rus nie op hul louere nie. Die volgende fase van die projek tussen 16de en 18de Laan is reeds vir 16 Augustus beplan.

“Ek is ongelooflik trots op ons gemeenskap,” sê Van Dyk met opregte dankbaarheid. “Almal het met ’n positiewe gesindheid ingespring en sonder huiwering begin werk. Die soort samewerking is merkwaardig en elkeen kan hulself met trots op die skouer klop.”

LEES: Ackermann knows exactly what awaits him at Loftus Versfeld

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button