News

Laerskool-beheerliggaam kap raad oor skoolhoof se ligte straf

Die beheerliggaam van Laerskool Mayville is ontevrede met Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders se ligte straf teen hul skoolhoof ná sy selferkende fisiese verhouding met ’n onderwyseres. Hulle meen die vonnis weerspieël nie die oortreding se erns of die skool se waardes nie.

Die beheerliggaam van Laerskool Mayville het hul ernstige kommer uitgespreek oor SARO se 17 Julie-beslissing om hul skoolhoof, Jacques Joubert, skuldig te bevind aan ’n ernstige oortreding van die etiese kode.

Joubert is deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) met ’n boete van een maand se salaris en ’n opgeskorte skorsing gestraf.

Dit nadat hy erken het dat hy ’n fisiese en intieme verhouding in die eerste ses maande van 2024 met ’n 24-jarige onderwyseres op die skoolterrein gehad het.

Hy mag hiervolgens SARO in sy pos as hoof bly mits hy nie binne tien jaar weer so ’n oortreding begaan nie.

Die beheerliggaam, wat die klagte oorspronklik by die raad aanhangig gemaak het teen beide opvoeders, is van mening dat die straf van die skoolhoof nie in verhouding staan tot die ernstigheid van die oortreding nie.

“Ons wil graag ons ernstige bekommernis en ontevredenheid uitspreek oor die hantering van die dissiplinêre proses rakende die saak by SARO. Volgens ons oordeel was die straf wat opgelê is nie in lyn met die ernstigheid van die oortreding nie, veral wanneer dit vergelyk word met ander hoofde se sake waar minder ernstige oortredings tot strawwer optrede gelei het,” het die beheerliggaam aan Rekord gesê.

Verder het die beheerliggaam aangedui dat hulle tot dusver geen amptelike uitslag ontvang het van die dissiplinêre verhoor van Joubert wat deur die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) gehou is nie.

“Ons is bewus van ’n verwysing na ’n uitspraak met betrekking tot ’n beweerde verhoor. Hierdie feite is egter tot op hede nie aan die beheerliggaam beskikbaar gestel nie. Ons versoek vriendelik maar dringend dat die uitslag van die departementele verhoor aan ons verskaf word.”

Die beheerliggaam beklemtoon dat Laerskool Mayville gebou is op vaste Christelike waardes en dat hul verwagtinge ten opsigte van leierskap en morele standaarde baie hoog is.

“In ’n gemeenskap soos ons s’n is dit van kardinale belang dat leiers en veral die skoolhoof ’n voorbeeld van integriteit, verantwoordbaarheid en geloofwaardigheid stel vir beide personeel en leerders,” lui die beheerliggaam se boodskap aan Rekord.

Hoewel hulle erken dat Joubert die geleentheid gegun is om sy saak in ’n regverdige proses te stel en dat hy skuldig gepleit het, meen die beheerliggaam die vonnis dra nie die nodige gewig om die waardes van die skoolgemeenskap te bevestig nie.

“Die uitspraak vanaf SARO stuur ’n ongunstige boodskap aan die skoolgemeenskap oor ons verwagtinge en waardes.”

Dems Nel, regshoof van SARO en regsverteenwoordiger van Joubert, het bevestig dat Joubert volledig aan beide dissiplinêre prosesse, by die departement en SARO, saamgewerk het.

“Joubert het van die begin af nooit gepoog om die aantygings te ontken nie en het ook erken dat hy ’n fout gemaak het. Hy het ook reeds om verskoning gevra in ’n openbare forum vir sy optrede aan die skool, die ouers en die gemeenskap,” sê Nel.

Nel sê verder: “Dit is belangrik om te let dat SARO nie Joubert se reg om as opvoeder te werk, ontneem het nie. Hy sal dus aanhou om sy passie as opvoeder uit te leef en alles in sy vermoë doen om die belange van die sowat 820 leerders van Laerskool Mayville, die 40 opvoeders en die gemeenskap te beskerm en te bevorder.”

Volgens Nel het Joubert ook skuldig gepleit by SARO en die boete aanvaar sonder om teen die besluit te appelleer.

“Hy het op geen stadium gepoog om sy werkgewer, die Gauteng Departement van Onderwys, teë te werk nie en het sy volle samewerking gegee tydens die proses. In lyn hiermee het Joubert skuldig gepleit tydens sy dissiplinêre verhoor en versagtende omstandighede ingedien. Die departementele proses is steeds aan die gang en ons wag tans op die uitkoms,” bevestig Nel.

Die onderwyseres in die saak, wat deur die beheerliggaam afgedank is ná ’n vorige tugverhoor, is ook deur SARO skuldig bevind aan ’n etiese oortreding, maar mag steeds as onderwyser praktiseer mits sy nie binne vyf jaar dieselfde oortreding begaan nie.

Die onderwyseres was ’n beheerliggaam-aanstelling en hoef dus nie deur die GDO ondersoek te word nie.

Haar verteenwoordiger het aangedui dat hulle beoog om teen dié bevinding te appelleer.

“Die onderwyseres beplan om te appelleer weens die onregverdige en inkonsekwente sanksie in vergelyking met die skoolhoof se ligter straf, en ernstige prosedurele tekortkominge van die proses,” het hy aan Rekord bevestig.

“Hierdie bevindings was gebaseer op ’n seksuele verhouding tussen twee volwassenes, haarself en die skoolhoof, wat wel op die skoolterrein plaasgevind het, maar geen leerder was betrokke nie.”

Die beheerliggaam sê dat die onderwyseres die geleentheid gegun is om haar saak in ’n billike dissiplinêre verhoor deur die beheerliggaam as haar werkgewer te stel.

“Haar straf was in lyn met die ernstigheid van haar oortreding in die werksplek,” lui hul siening hieroor.

Haar regsverteenwoordiger glo egter “sy is deur haar adjunkhoof beïnvloed en mislei om die verhoor te verlaat, en die verhoor het in haar afwesigheid voortgegaan met ’n onafhanklike voorsitter en die proses was gelei volgens die nodige wetgewing. Sy het berou getoon en die uitkoms aanvaar. Hierdie besware was wel by die onderwysdepartment sowel as by SARO aangemeld maar geen terugvoering is ontvang in hierdie verband nie.”

Hy het ook bevestig dat sy tans weer in diens in die onderwyssektor is, “toegewyd daaraan om haar loopbaan op ’n positiewe manier voort te bou”.

Hy het daarop gewys sy geensins finansieel baat by enige media-aangeleentheid soos op sosiale media beweer word nie. “Sy fokus op herstel, en om weer ’n positiewe bydrae te lewer in die onderwys-sektor.”

Die onderwyseres se gegewens word weerhou op versoek aangesien daar nog ’n formele appèlproses hangende is.

Intussen wag die skool en die beheerliggaam nog op die finale uitspraak van die departement, wat uiteindelik sal bepaal of Joubert in sy pos as skoolhoof mag aanbly.

Joubert, sowel as die GDO en SARO, is om kommentaar genader, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button