CrimeNews

Na trauma en bloed – nou fokus die gesin op genesing

Na ’n dag van geweld en trauma, bou die gesin nou aan genesing – met berading, versterkte sekuriteit en hoop.

Die grusame aanval wat ’n 14-jarige Wonderboom-seun en sy gesin se lewe op sy kop gekeer het, het diep wonde gelaat – maar nou fokus hulle op genesing, berading en veiligheid.

Na die verskriklike huisroof waarin die 14-jarige Luann en die gesin se tuinwerker onlangs aangeval is, fokus die gesin nou op genesing en veiligheid.

Volgens Luann se ma, Marisa Combrinck (47), gaan dit verrassend goed met hom.

“Luann doen emosioneel goed. Ons het veranderinge aangebring by die huis en dit bring vir ons rustigheid en maak dat hy regtig goed slaap,” het sy vertel.

Die gesin het ook bevestig dat hulle Maandag met professionele berading sal begin om die trauma te verwerk.

Die tuinwerker wat saam met Luann aangeval is, het volgens die gesin vinnig herstel.

Hy werk nie daagliks vir hulle nie, maar help by verskeie huise in die omgewing. Reeds die dag ná die voorval was hy terug by die werk, en kort daarna het hy ook weer by ’n ouer dame in die buurt uitgehelp.

“Hy het geen ernstige beserings opgedoen nie, buiten ’n ligte snytjie op sy voorkop,” het Luann se pa bevestig. “Ek het spesiaal na hom toe gestap toe ek hom in ’n tuin naby ons sien werk, net om seker te maak hy is reg.”

Vier gewapende rowers het op Maandagmiddag bu dié gesin se huis in Wonderboom toegeslaan.

Hulle het die motorhek oopgebreek en met ’n wit Toyota Hilux dubbelkajuit die erf binnegejaag.

Die tuinwerker is eerste oorval, met kabelbinders vasgemaak en met ’n tuinvurk oor die gesig geslaan.

Kort daarna het die 14-jarige seun van die huis ingekom.

“Hy het hulle dadelik gesien en probeer wegkom, maar hulle het hom van agter beetgekry en met ’n skerp voorwerp, vermoedelik ’n tuingraaf, oor die kop geslaan,” vertel sy. “Hy het sy bewussyn verloor en is net daar in ’n plas bloed vir dood gelos.”

Met wat sy ma beskryf as “net God se genade”, het Luann sy bewussyn herwin terwyl die rowers nog besig was om die huis leeg te dra. Hy het sy kans afgewag, opgespring, oor die agtermuur gespring en na die skoolgronde gehardloop.

“Dit is net die Here se krag wat hom die vermoë gegee het om dit te doen,” sê Marisa.

Op die skool se terrein het mnr. Heinrich Enslin, sporthoof van Overkruin, hom erg bebloed aangetref en dadelik gehelp.

Luann is dadelik na ‘n Montana-hospitaal gejaag waar dokters sy kopwonde met meer as 30 krammetjies geheg het en ’n nood-CT-skandering gedoen het.

Hoewel daar ligte bloeding op die brein was, is daar geen skedelfrakture gevind nie. Hy is later na die Groenkloof-hospitaal oorgeplaas vir verdere waarneming.

“Ons is ongelooflik dankbaar dat God sy hand oor ons kind gehou het. Hy kon dood gewees het, maar hy het die kans gekry om op te staan en te vlug. Vir daardie beskerming is ons net dankbaar,” sê Marisa.

“Hulle het hom vir dood gelos.”

In die chaos van die aanval het Luann steeds die klein sleutelhouer by hom gehad – weggesteek in die binnesak van sy skoolbaadjie.

Op dié sleutelhouer staan die woorde: “God saved you by his grace when you believed.” Vir sy ma was dit ’n aangrypende besef. “Dis asof daardie woorde hom beskerm het,” vertel sy.

Na trauma en bloed – nou fokus die gesin op genesing
Luann dra steeds sy sleutelhouer met die woorde “God saved you by his grace when you believed” in sy skoolbaadjie. Fotos: Verskaf

Die sleutelhouer het ’n simbool geword van hoop en beskerming, iets waaraan die gesin vasgryp te midde van die trauma.

Lees ook: “Hulle het my kind vir dood gelos” – Ma ná grusame huisaanval

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Corné van Zyl

Corné van Zyl is a seasoned journalist and currently a senior reporter at Rekord, with a wealth of experience across various media platforms. She began her career after studying journalism at the Tshwane University of Technology (TUT) and first honed her skills at Media24. Corné’s career took her to Beeld, Sondag newspaper, and the South African Press Association (SAPA), where she built a strong foundation in news reporting. In her free time, Corné enjoys spending time with her family outdoors, embracing life and creating lasting memories with her loved ones.
Back to top button