Local newsSensitive Content

“Hulle het my kind vir dood gelos” – Ma ná grusame huisaanval

Rowers het die 14-jarige Luann Combrinck Maandag in sy huis oorval, met ’n tuingraaf aangerand en vir dood gelos.

Die ouers van 14-jarige Luann Combrinck, ’n graad 8-leerder van Hoërskool Overkruin, sê hulle is vasberade om te sorg dat die drie verdagtes wat hul seun Maandag by hul huis in Wonderboom aangerand en vir dood gelos het, agter tralies beland.

Volgens sy ma, Marisa Combrinck (47), het Luann Maandag omstreeks 13:45 van die skool af by die huis aangekom. Soos gewoonlik het hy deur die agterhekkie geloop wat hul erf met die skoolgronde verbind. Die agterdeur was oop en hy het reguit in die rowers vasgeloop.

Read the English version here.

“Hy het hulle dadelik gesien en probeer wegkom, maar hulle het hom van agter beetgekry en met ’n skerp voorwerp, vermoedelik ’n tuingraaf, oor die kop geslaan,” vertel sy. “Hy het sy bewussyn verloor en is net daar in ’n plas bloed vir dood gelos.”

Ontsnapping uit genade

Met wat sy ma beskryf as “net God se genade”, het Luann sy bewussyn herwin terwyl die rowers nog besig was om die huis leeg te dra. Hy het sy kans afgewag, opgespring, oor die agtermuur gespring en na die skoolgronde gehardloop.

“Dit is net die Here se krag wat hom die vermoë gegee het om dit te doen,” sê Marisa. Op die skool se terrein het mnr. Heinrich Enslin, sporthoof van Overkruin, hom erg bebloed aangetref en dadelik gehelp.

’n Toneel soos uit ’n rillerfliek

Marisa, wat net ná 13:20 van die huis af vertrek het om haar dogtertjie, Lika (10), by die skool te gaan haal, het kort daarna teruggekeer. By die huis het sy op ’n skokkende toneel afgekom.

“Ons motorhek was halfpad oop. Toe ek instap, was daar oral bloed – teen die mure, op die vloere, op die mat en teen die gordyne. Dit het regtig soos ’n moordtoneel uit ’n rillerfliek gelyk. Luann se bebloede skoolbaadjie het eenkant gelê. Ek het gedink my kind is dood,” sê sy.

Huis geplunder en tuinwerker aangerand

Die rowers het nie net Luann aangeval nie, maar ook die gesin se tuinwerker oorrompel en met kabelbinders vasgemaak. Hy is selfs met ’n skerp voorwerp in die gesig gesny.

“Die kabelbinders was so styf dat dit sy bloedtoevoer afgesny het. Hy het net verslae gesê hy weet nie waar Luann is nie,” vertel Marisa.

Intussen het die aanvallers verskeie items uit die huis gesteel, waaronder sportklere, tekkies, elektroniese toerusting soos die TV en mikrogolfoond, asook Marisa se juwele.

Hospitaalbehandeling en wonderbaarlike oorlewing

Luann is dadelik na ‘n Montana-hospitaal gejaag waar dokters sy kopwonde met meer as 30 krammetjies geheg het en ’n nood-CT-skandering gedoen het. Hoewel daar ligte bloeding op die brein was, is daar geen skedelfrakture gevind nie. Hy is later na die Groenkloof-hospitaal oorgeplaas vir verdere waarneming.

“Ons is ongelooflik dankbaar dat God sy hand oor ons kind gehou het. Hy kon dood gewees het, maar hy het die kans gekry om op te staan en te vlug. Vir daardie beskerming is ons net dankbaar,” sê Marisa.

“Hulle het hom vir dood gelos”

“Hulle het my kind vir dood gelos” – Ma ná grusame huisaanval
“Hulle het my kind vir dood gelos.” Foto: Verskaf

Marisa se woorde weerspieël die skok en woede van ’n ma wat skaars glo wat gebeur het.

“My hart is bitter seer dat hulle my kind vir dood gelos het. Rowers moet vat wat hulle wil vat, ek kan die items vervang, maar dit is nie nodig om ’n lewe te neem vir ’n TV of ’n rekenaarskerm nie. As jy nie eens respek het vir die lewe van ’n kind nie, dan hoort jy nie in die samelewing nie.”

Die polisie in die Tshwane-distrik ondersoek die voorval wat Maandag, tussen 14:00 en 14:35 in Bosveldstraat, Wonderboom, plaasgevind het.

Volgens polisie woordvoerder, Kaptein Johan van Dyk, het vier verdagtes die motorhek met geweld oopgebreek en met ’n wit Toyota Hilux dubbelkajuit-bakkie in die erf ingery.

“Hulle het my kind vir dood gelos” – Ma ná grusame huisaanval
Die vier verdagtes het met ’n wit Toyota Hilux dubbelkajuit-bakkie in die erf ingery. Foto: Verskaf

Die tuinwerker, wat agter die huis besig was, is deur drie mans — gewapen met ’n bylsteel — gekonfronteer.

“Hulle het hom dadelik gevra of daar enige kluise in die huis is, sy hande met kabelbinders vasgemaak en hom met die bylsteel oor die gesig geslaan. Hy is daarna gedwing om in die kombuis op die grond te lê.”

Van Dyk sê terwyl die rooftog aan die gang was, het die huiseienaar se 14-jarige seun die huis binnegekom.

Hy is ook met kabelbinders vasgemaak en hard oor die kop geslaan, wat ernstige bloeding veroorsaak het.

“Die verdagtes het daarna elektroniese toestelle bymekaar gemaak en dit op die bakkie gelaai. Die seun kon daarin slaag om te ontsnap en in die rigting van die skool hardloop. Die verdagtes het toe van die toneel gevlug.”

Paul Visser van die Pretoria ICE Gemeenskapsnetwerk het die volgende veiligheidwenke vir gesinne en huiseienaars.

By die huis:

  • Maak seker alle hekke, deure en vensters is stewig gesluit met betroubare slotte.
  • Installeer sekuriteitsligte buite jou huis wat deur beweging geaktiveer word.
  • Hou jou erf skoon en snoei bome of bosse wat wegkruipplek vir rowers kan bied.
  • Gebruik alarmstelsels en betrek jou plaaslike buurtwag of sekuriteitsmaatskappy.
    Leer jou kinders om nooit vir vreemdelinge oop te maak nie.

Wanneer jy by die huis aankom of weggaan:

  • Kyk altyd eers rond voordat jy by jou huis instap.
  • Vermy roetine – verander jou aankoms- en vertrektye as dit moontlik is.
  • Wees ekstra versigtig wanneer jy alleen is of saam met kinders by die huis inkom.
  • Hou jou selfoon byderhand om hulp vinnig te kan ontbied.

Indien jy inbrekers in die huis teëkom:

  • Moenie teenstand bied as jou lewe in gevaar is nie – jou veiligheid is belangriker as jou besittings.
  • Probeer kalm bly en onthou om so gou as moontlik hulp te ontbied.
  • As jy kan ontsnap sonder om jouself of ander in gevaar te stel, doen dit onmiddellik.

Vir kinders:

  • Leer jou kinders om onmiddellik na ’n buurman, skool of veilige plek te hardloop as iets verkeerd lyk.
  • Maak seker hulle ken jou selfoonnommer en ’n nooddienste-nommer uit hul kop.

“Ek wil die gemeenskap, die GPF en AfriForum bedank vir hul ondersteuning gedurende die voorval toe ons dit die nodigste gehad het,” het Luann se ma gesê.

Lees ook: Metro vat Kleinfontein hof toe oor ‘ongeldige’ soneringsaansoek

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Corné van Zyl

Corné van Zyl is a seasoned journalist and currently a senior reporter at Rekord, with a wealth of experience across various media platforms. She began her career after studying journalism at the Tshwane University of Technology (TUT) and first honed her skills at Media24. Corné’s career took her to Beeld, Sondag newspaper, and the South African Press Association (SAPA), where she built a strong foundation in news reporting. In her free time, Corné enjoys spending time with her family outdoors, embracing life and creating lasting memories with her loved ones.
Back to top button