Reinet-pop leef voort ondanks naampolemiek
Die beplande herdoop van Graaff-Reinet na Robert Sobukwe Town het ’n debat ontketen oor geskiedenis en identiteit. Terwyl die wetlike proses vorder, herinner die storie van die Reinet-pop in die bewaarkluise van die Erfenisstigting in Pretoria aan hoe gemeenskappe hul stories en kultuurerfenis oor generasies bewaar, iets wat geen naamsverandering sommer kan uitvee nie.
Die herdoop van die Karoodorp Graaff-Reinet na Robert Sobukwe Town veroorsaak tans verdeeldheid in die gemeenskap in die skadu van die Sneeuberge.
Die dorpsgemeenskappe worstel met debatte rondom die verlies van identiteit, terwyl verhale oor die dorp, soos dié storie van die Reinet-pop in ’n bewaarkluis van die Erfenisstigting in Pretoria, herinner aan die ryk geskiedenis van die dorp wat oor 240 jaar opgebou is en nie maklik vergeet kan word nie.
Op die dorp staan meer as 200 historiese geboue, wat dié dorp ’n unieke skatkis van die geskiedenis maak.

Dit is ook ’n geval van klein begin, groot gewin.
In ’n nederige huis in Donkinstraat 16, Graaff-Reinet, het ’n tuisgemaakte pop in 1916 die hart van ’n gemeenskap gesteel.
Anne Laubscher het die pop vir haar niggie gemaak toe ingevoerde speelgoed uit Europa skaars was.
Met linne en sorgsame handwerk het die pop ’n engelagtige gesiggie gekry, geklee in rokke en skoentjies wat elke kind se verbeelding aangegryp het.
Wat begin het as ’n liefdevolle gebaar, het vinnig ’n landswye vraag geskep en werk vir 50 vroue geskep, en selfs kinders in Namibië, Zimbabwe en Kenia beïndruk.
Die Reinet-poppe is sowat 38cm lank. Hul arms en bene kon beweeg, hul klere kon aan- en uitgetrek word, en hulle kon selfs regop sit. Eindelik is tot 200 poppe per week met die hand vervaardig.
Jurie Laubscher het ’n gebou opgerig en met trots ’n bord op die gewel vertoon: Graaff-Reinet Poppenfabriek.
Toe die Eerste Wêreldoorlog eindig, het ingevoerde poppe die winkels oorstroom. In 1927 het Laubscher die moeilike besluit geneem om die fabriek te sluit.
Die rye naaimasjiene het stil geword. Die Reinet-pop het uit die winkels verdwyn, maar nie uit die gemeenskap se geheue nie.
Die Reinet-pop is in Maart digitaal ‘lewend’ gemaak deur die personeel betrokke by die Liewe voorwerp-projek van die Erfenisstigting in Pretoria, en illustreer hoe klein artefakte groter gemeenskapsidentiteit dra.
Die Reinet-pop is een van 4 000 onvervangbare stukke, wat deur die gebruik van moderne tegnologie, insluitend 3D-skandering en digitale narratiewe, stories uit die verlede toeganklik maak vir leerders, navorsers en geskiedenisliefhebbers.

Dié dorp is vernoem na goewerneur Cornelis Jacob van de Graaff en sy vrou, Reynet, na wie die pop vernoem is.
Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting, sê: “Dis tegnologie met ’n siel. Van ’n bloedbevlekte Voortrekkerkappie tot ’n voorlaaiergeweer, leef voort danksy die presisie van ’n kurator en die stem van ’n aktrise. Dis ’n tydsame proses, maar die waarde is onmeetbaar.”
Terwyl die Reinet-pop gemeenskapslewens gevorm en geskep het, toon die huidige debat oor die naamsverandering hoe sensitief identiteit kan wees.
Sommige inwoners steun die besluit as erkenning van historiese regstelling, terwyl ander bekommerd is dat koloniale geskiedenis en kulturele erfenis in die proses verwyder word.
Die geskiedenis en gemeenskap van die dorp word nou op die proef gestel met die beplande herdoop van Graaff-Reinet na Robert Sobukwe Town.
Dit is een van 21 naamsveranderinge wat in die Staatskoerant gepubliseer is en kom ná meer as 1 500 geografiese naamsveranderings wat reeds sedert 1994 ingestel is.
Dit is die vierde oudste dorp in Suid-Afrika en staan sedertdien as simbool van koloniale geskiedenis, Voortrekker-nalatenskap en Karoo-identiteit.
Die Reinet-pop se nuwe 3-D-relevansie en verhaal illustreer dat wat mens se hande skep en wat ’n gemeenskap koester, nie sommer in die vergetelheid verdwyn omdat ’n naam verander nie, glo die stigting.
“Min dinge lê so swaar op ’n gemeenskap se hart as wanneer ’n plek sy naam verloor,” sê Danie Langner, voorsitter van die Erfenisstigting. “Nie omdat die naam of grond heilig is nie, maar omdat ’n naam ’n storiedraer is van herinnerings, mense, opoffering en drome.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
