News

Stad se plan onder skoot, inwoners moet praat

Die konsep geïntegreerde ontwikkelingsplan vir 2026/27 het skerp kritiek ontlok, maar is tog vir openbare deelname oopgestel. Inwoners kan nou hul behoeftes en voorstelle indien voordat die finale plan later vanjaar goedgekeur word.

Die Tshwane metro se konsep geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) vir die 2026/27-boekjaar is op 26 Maart aan die raad voorgelê en op 1 April oopgestel vir openbare deelname.

Die dokument, wat die metro se strategiese prioriteite, infrastruktuurbeplanning en diensleweringsdoelwitte uiteensit, dien as die grondslag vir hoe die stad oor die volgende jare sy hulpbronne wil aanwend en projekte wil prioritiseer.

Met die besluit om die konsepplan vir kommentaar beskikbaar te stel, word inwoners nou genooi om hul behoeftes en voorstelle formeel aan die metro oor te dra voordat die plan finaal aanvaar word.

Die openbare deelnameproses begin op 1 April en sluit streekvergaderings in wat fisies sowel as aanlyn gehou sal word.

Volgens Vanessa de Sousa, woordvoerder van die Speaker se kantoor, sal inwoners hul kommentaar skriftelik moet indien en sal die proses op 4 Mei om 16:00 sluit.

Die IDP is ’n sleutelbeplanningsinstrument wat elke vyf jaar hersien word en jaarliks bygewerk word om by veranderende omstandighede aan te pas.

Die jongste konsepplan plaas sterk klem op finansiële stabiliteit, die herstel en opgradering van verouderde infrastruktuur, asook die verbetering van dienslewering.

Volgens sensussyfers het die stad se bevolking van 1 118 827 in 2011 tot 4 040 315 in 2022 gegroei, wat die druk op paaie, waternetwerke, elektrisiteitsinfrastruktuur en sosiale dienste aansienlik verhoog het.

Tydens die raadsvergadering het die DA en Vryheidsfront Plus (VF Plus) aangedui dat hul partye nie die konsepplan in sy huidige vorm steun nie.

Mari Joubert van die VF Plus het daarop gewys dat daar volgens haar steeds talle gemeenskapsprojekte in die Moot is wat sterker in die plan beklemtoon kan word, soos die verbetering van die Adcock-parkie op die hoek van Johan Heyns- en Adcockstraat.

Sy pleit vir die uitbreiding van die Moot se gemeenskapsopbou- en vennootskapsprojekte in die GOP en die groter betrokkenheid van inwoners by die openbare deelnameproses.

Volgens haar moet die metro doelbewus meer sulke projekte skep en inwoners aanmoedig om aktief deel te neem aan openbare konsultasieprosesse om seker te maak dat beplanning hiervoor ook werklik by die behoeftes van gemeenskappe aansluit.

ActionSA-raadslid Japhta Modiba het daarenteen die besluit om die konsepplan vir openbare deelname oop te stel, verwelkom.

Volgens hom is dit noodsaaklik dat inwoners die geleentheid kry om hul stem te laat hoor voordat belangrike finansiële en infrastruktuurbesluite gefinaliseer word.

Nick Pascoe van die VF Plus het die konsep-IDP skerp gekritiseer en gesê: “Die Tshwane-metro se 2026/27-geïntegreerde ontwikkelingsplan is niks meer as ’n herverpakking van vorige planne nie en weerspieël drie jaar se strategiese agteruitgang en institusionele verlamming.”

Hy het verder aangevoer dat die metro kritieke infrastruktuurbehoeftes ignoreer en terselfdertyd erken dat nuwe projekte nie meer befonds word nie.

Pascoe het ook die toestand van die stad se elektrisiteitsnetwerk uitgelig en gesê: “Die meeste kragdepots het minder as 5% van personeel wat gemagtig is om aan hoëspanningslyne te werk. Omdat die metro weier om eksterne kundigheid in te roep, sit inwoners dikwels dae lank sonder krag.”

DA-proporsionele raadslid Adriana Randall het beklemtoon dat baie van die versoeke wat vir insluiting in die konsepplan van Moot-inwoners ontvang is, op basiese dienslewering betrekking het.

“Op die wenslys van inwoners in die vasstelling van behoeftes was die herstel van straatligte en nogmaals straatligte, en dit ontstel my, want dit moet nie eers deel wees van ’n langtermyn-ontwikkelingsplan nie. Dit is normale dienslewering en moet op die standaardlys van die metro wees,” het sy gesê.

Randall het daarop gewys dat talle inwoners versoeke gerig het vir die herstel of vervanging van waterpype, onder meer in Trumperstraat en gevra het dat die hele Moultonlaan se pypnetwerk vervang moet word.

Moot-inwoners het die regmaak van Moultonlaan se teeroppervlak uitgelig as ‘n projek op hul wenslys vir die geïntegreerde Ontwikkelingsplan. Foto: Elize Parker

Sy het gesê dit is problematies dat sulke basiese instandhoudingskwessies as projekte in ’n strategiese ontwikkelingsplan moet verskyn, aangesien dit volgens haar aandui dat die metro nie sy basiese pligte nakom nie.

Inwoners het ook gevra dat geld op die begroting geoormerk word om kragonderbrekings in die Moot te voorkom deur beskermingsmaatreëls teen kabeldiefstal te versterk.

Verskeie versoeke het betrekking gehad op die herstel van straatligte en die verbetering van beligting in parke, wat volgens gemeenskappe ’n direkte invloed op veiligheid en lewensgehalte het.

Dis veral rondom Pieter Humanpark dat verskeie behoeftes van die gemeenskap uitgelig is soos patrollies om dit veiliger te maak vir bejaardes van Huis Vergenoeg wat die park vir oefening gebruik, beter beligting en omheining.

Die konsep-IDP soos goedgekeur bevat egter ook ’n lys van groter infrastruktuur- en ontwikkelingsprojekte wat oor verskeie jare deur raadslede, wykskomitees en inwoners aan beplanners voorgelê is.

In die Moot-gebied sluit dit projekte in soos die beplande taxi-staanplek op die hoek van Van der Hoff- en Centrestrate, die opgradering van waterinfrastruktuur in Mountain View, die Mootstraat weer teer, John Sidney-rylaan en Moultonlaan, asook die opgradering van die Koedoespoort-, Blesbok- en Queenswood-substasies.

Verskeie substasies se herstel en herbeplanning is op Moot-inwoners se wenslys vir die geïntegreerde ontwikkelingsplan. Foto: Elize Parker

Ander projekte wat in die konsep vervat is, sluit die rehabilitasie van die Hartbeesspruit in Kilnerpark, die opgradering van die Heliumlaan-reservoir en die restourasie van die Jan Niemandpark-stadion in.

Sommige van hierdie projekte is reeds vir jare op die beplanningslys en word volgens die metro geleidelik in departementele begrotings en strategieë ingewerk soos wat finansiële befondsing beskikbaar raak.

Die konsep IDP-verslag gee ook ’n oorsig van die vorige beplanningsiklus van 2022 tot 2026 en wys daarop dat baie projekte oor verskeie jare geskeduleer word weens finansiële beperkings en administratiewe kapasiteit.

Die metro se hoë skuldlas, swak invordering van dienste en die verval van infrastruktuur word as belangrike struikelblokke in die verslag geïdentifiseer wat die tempo van inwerkingstelling vertraag.

Vir inwoners van Pretoria en omliggende gebiede beteken die oopstelling van die konsepplan dat hulle nou die geleentheid het om hul prioriteite en plaaslike behoeftes direk aan die stad oor te dra.

Deur die streekvergaderings en skriftelike kommentaar kan gemeenskappe projekte voorstel, bestaande planne bevraagteken en druk uitoefen vir vinniger dienslewering. Die finale IDP, wat later vanjaar aanvaar sal word, sal uiteindelik bepaal watter projekte finansiering ontvang en watter probleme eerste aandag geniet.

Streekvergaderings sal sowel in persoon as aanlyn gehou word om inwoners die geleentheid te gee om meer oor die konsepplanne te wete te kom en vrae te stel. Alle kommentaar moet skriftelik ingedien word.

Inwoners kan hul insette oor die hersiene konsep-geïntegreerde ontwikkelingsplan per e-pos stuur na idpcomments@tshwane.gov.za of dit persoonlik inhandig in die kommentaarhouer by die ontvangs op die grondvloer van Tshwane House, Madibastraat 320, Pretoria.

Die sperdatum vir die indiening van kommentaar is 4 Mei om 16:00.

Die IDP-verslag sal vanaf 1 April op die Tshwane metro se webblad beskikbaar wees sodat inwoners dit vooraf kan deurlees en hul insette betyds kan voorberei.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button