News

'Anties' bring hoop deur kuns landwyd

’n Groep Pretoria-vroue keer terug met ’n uitgebreide kuns- en hooptoer deur 17 dorpe. Die Anties Bring Hoop-projek gebruik kreatiwiteit om vroue in landelike gebiede te bemoedig, verbind en herstel. Met nuwe roetes, groter deelname en gemeenskapsborgskappe groei die beweging vinnig regoor Suid-Afrika.

In ’n land waar droogte, afstande en ekonomiese druk dikwels swaar op plattelandse gemeenskappe weeg, het ’n klein groep vroue van Pretoria-oos, Centurion en Benoni in 2025 ’n stil maar merkbare beweging begin.

Onder die naam “Die Anties Bring Hoop” het hulle besluit om nie net kuns te skep nie, maar om dit as ’n instrument van genesing te gebruik.

Wat as ’n eenvoudige uitreikprojek begin het, het binne drie weke verander in ’n landswye reis van hoop wat 902 vroue in 13 dorpe bereik het.

Oor ’n tydperk van 21 dae het die span in 2025 meer as 4 700 kilometer afgelê, van stofpaaie tot klein gemeenskapsale, waar vroue van afgeleë plase dikwels meer as 200 kilometer gereis het om deel te wees van ’n enkele dag se kreatiewe samekoms.

Die fokus was eenvoudig: om ruimte te skep waar vroue kan asemhaal, skep en weer hul eie stem hoor.

In elke dorp het plaaslike gasvroue die sessies geanker, vroue bymekaar gebring en ’n atmosfeer geskep waar gesprek, verf, lag en nadenke mekaar natuurlik aangevul het.

Die impak was nie net sigbaar in hul kunswerke nie, maar in die manier waarop gemeenskappe en inwoners van die platteland en plase weer begin verbind het.

Mariëtte Beukes, kunstenares en stigterslid van die projek, beskryf die dryfveer agter die inisiatief as iets wat dieper as organisasie of logistiek lê.

“Ek doen dit omdat dit diep in my hart lê. Ek kan nie anders nie. Ek sien vroue raak, regtig raak, en ek weet hoe dit voel om net ’n bietjie hoop en ruimte om asem te haal nodig te hê. Kuns was nog altyd vir my ’n plek van genesing en vreugde, en ek wil dit gaan deel waar dit die nodigste is,” sê sy.

Volgens Beukes is die uitreik meer as ’n projek; dit is ’n wederkerige ervaring.

Sy beskryf hoe elke reis beide gee en ontvang aan almal betrokke.

“Elke keer as ek my tassie pak vir ’n uitreik, voel ek dis nie net ’n reis nie… Dis ’n roeping. Ek gaan nie om iets te gaan gee nie, ek gaan ook om self soveel te ontvang.”

Die 2025-toer het talle stories opgelewer wat steeds in gemeenskappe weerklink.

Een van die mees aangrypende ervarings was dié van ’n vrou wat stil en teruggetrokke aan die begin van die dag deelgeneem het, maar geleidelik oor haar gevoelens oopgemaak het namate die kreatiewe proses ontvou het.

Teen die einde van die sessie het sy haar kunswerk vasgehou en in trane gedeel dat sy lanklaas weer só ‘raakgesien’ gevoel het.

Kunstenaar en stigterslid van Die Anties Bring Hoop, Mariëtte Beukes, glimlag tydens ’n uitreiksessie waar sy saam met vroue in ’n plattelandse gemeenskapsaal skep en gesels. Haar werk fokus op kuns as genesing en verbinding, met werkswinkels regoor Suid-Afrika wat vroue ruimte gee om hoop, stories en kreatiwiteit te herontdek. Foto: Elize Parker

Beukes sê dit is juis hierdie oomblikke wat die projek se waarde definieer.

“Ek sal nooit daardie spesifieke oomblik vergeet nie. Die vrou het heelagter gesit, baie stil, amper onseker om deel te wees van die groep. Teen die einde het sy haar kunswerk vasgehou met trane in haar oë. Dis daardie oomblikke wat mens bybly.”

Die span bestaan saam met Beukes uit Andri Potgieter, Yolande Stevenson, Caylee Beukes en Tyler Beukes.

Elkeen bring ’n unieke bydrae, maar saam vorm hulle ’n dinamiek wat volgens deelnemers die atmosfeer lig en toeganklik maak.

Wat die aanbieders veral opgeval het tydens hul reise, is die veerkragtigheid van vroue in landelike gebiede.

Beukes beskryf dit as ’n mengsel van krag en stille volharding.

“Wat my die meeste tref, is hul ongelooflike deursettingsvermoë. Hulle dra swaar, maar hulle dra dit met soveel geloof en waardigheid. Ek sien hoe hulle aanhou, al is dit moeilik, al is die grond droog en die toekoms onseker.”

Sy voeg by dat die behoefte aan ligter oomblikke, waar mense net weer kan skep en lag, duidelik sigbaar is.

Vanjaar se toer bou voort op hierdie ervaring en word beplan as ’n groter en meer uitgebreide uitreik.

Die span gaan oor 21 dae 17 dorpe besoek, met die doel om 1 000 vroue te bereik.

Die roete strek deur verskeie dele van die land, insluitend Potchefstroom, Hartswater, Britstown, Vosburg, Victoria-Wes, Loxton, Sutherland, Matjiesfontein, Merweville, Prince Albert, De Rust, Oudtshoorn, Riversdale, Willowmore, Nieu-Bethesda, Bethulie en Kroonstad.

Die projek word hoofsaaklik ondersteun deur borge en gemeenskapsbydraes, met ’n sterk fokus op klein, direkte impakte. Vir slegs R100 kan ’n kunspakkie voorsien word wat ’n vrou in staat stel om deel te neem aan die sessies. ’n Skarefondsveldtog op BackaBuddy is reeds geopen om die 2026-uitreik te ondersteun.

Volgens Beukes lê die hart van die projek nie net in die kuns self nie, maar in die verbinding tussen vroue wat dit skep.

“Jou ondersteuning, hetsy deur borgskappe, logistieke hulp of bloot deur die boodskap te deel, maak dit moontlik om afgeleë dorpe te bereik en vroue te herinner dat hulle nie alleen is nie.”

Sy nooi die publiek, besighede en gemeenskappe uit om deel te word van die reis, hetsy deur finansiële ondersteuning of deur bewusmaking.

Om die projek te ondersteun, kontak Mariette Beukes: 082 085 9492

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button