Aanvaller vlug ná gewelddadige tolhek-aanval
’n Man soek steeds antwoorde nadat hy by die Zambesi-tolhek aangeval is. Sy aanvaller het spoorloos verdwyn, terwyl hy beweer dat beide Bakwena en die polisie hom min hulp of terugvoer oor die ondersoek bied.
’n Inwoner van Pretoria-Noord, Gerald Kroukamp, is steeds op soek na antwoorde nadat hy middel-April by die Zambesi-tolhek op die N1 in ’n skokkende voorval aangeval is.
Sy aanvaller het glo spoorloos verdwyn sonder dat enige identifiserende besonderhede vasgelê is.
Ten spyte van ’n saak wat by die polisie aangemeld is, en herhaalde pogings om hulp te kry, sê die slagoffer hy word geensins bygestaan in sy soektog na sy aanvaller nie. Daar is min sigbare vordering in die ondersoek van beide die tolpadoperateur en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Die voorval het op 14 April omstreeks 16:10 by die besige tolplaza plaasgevind.
Volgens Kroukamp het ’n motorfietsryer sonder ’n nommerplaat sy voertuig naby aan die tolhek beskadig. Nadat hy uitgeklim het om ondersoek in te stel, het die situasie vinnig in ’n fisiese aanval ontaard, waarna die aanvaller met sy motorfiets weggejaag het.
Kroukamp het beserings opgedoen wat mediese behandeling vereis het en ook skade aan sy voertuig gely.
Wat die saak verder vir hom ontstellend maak, is die feit dat die vermeende aanvaller daarin geslaag het om van die toneel te vlug sonder dat enigiemand, hetsy personeel of ander motoriste, kritieke besonderhede vir ’n beskrywing of CCTV-materiaal kon verskaf.
Hy beweer verder dat daar geen onmiddellike ingryping of hulp van tolpersoneel tydens die aanval was nie.
Kroukamp beskryf die ervaring as traumaties en ontstellend. Hy sê hy voel in die steek gelaat deur die instansies wat veronderstel is om padgebruikers te beskerm.
“Gedurende die aanval het niemand my gehelp nie. Die personeel van die toloperateur het eenvoudig verdwyn en geen poging aangewend om die situasie te ontlont of hulp te ontbied nie,” sê Kroukamp. “Ná die tyd was daar ook geen ondersteuning nie. Geen noodhulp en geen verslag wat opgeneem is nie. Dit voel asof ek heeltemal aan my eie lot oorgelaat is.”
Hy voeg by dat hy sedertdien gesukkel het om enige betekenisvolle terugvoer of bystand te kry van beide die polisie en die tolpadoperateur.
“Ek kan nie die aanvaller opspoor nie, want daar is geen inligting nie. Ek het gehoop die kameras by die tolhek sou iets wys, maar ek kry nêrens antwoorde daaroor nie.”
Volgens hom is dit veral kommerwekkend dat ’n voertuig sonder ’n nommerplaat toegang tot die tolhek kon kry. Hy meen dit dui op ernstige sekuriteitsgapings.
“As veiligheid werklik ’n prioriteit is, hoe word onidentifiseerbare voertuie toegelaat? Daar moet tog basiese kontroles wees,” sê hy.
Kroukamp verduidelik dat hy telkens beide die polisie en tolpadoperateur genader het om van die beeldmateriaal te bekom, maar dat die operateur hom meegedeel het dat hy deur die polisie moet werk. Hy beweer dat die polisie nog geen poging aangewend het om die materiaal te bekom ten spyte van verskeie versoeke deur hom nie.

Bakwena Platinum Corridor Concessionaire, die operateur van die betrokke tolpad, het bevestig dat hulle bewus is van die voorval en dat ’n interne ondersoek tans aan die gang is.
Volgens hul woordvoerder, Charmaine van Wyk, word alle voorvalle ernstig opgeneem.
“Die veiligheid van alle motoriste wat die N1/N4 Bakwena-roete gebruik, is en was nog altyd ’n prioriteit en ’n nie-onderhandelbare doelwit vir Bakwena,” sê Van Wyk. “Ons is bewus van die voorval by die Zambesi-tolplaza en kan bevestig dat ’n interne ondersoek tans aan die gang is.”
Sy verduidelik dat die maatskappy oor kameras by hul tolplazas beskik, maar dat besonderhede oor dekking en beeldmateriaal nie met die publiek gedeel kan word nie.
“Vir die veiligheid van ons personeel en die integriteit van ons operasies maak ons nie spesifieke inligting oor kamerastelsels bekend nie,” sê sy.
Van Wyk beklemtoon ook dat Bakwena hul volle samewerking aan die polisie bied.
“Enige relevante inligting of beeldmateriaal word aan wetstoepassingsowerhede beskikbaar gestel wanneer daar ’n formele versoek met ’n geldige saaknommer is. Ons stel nie sulke materiaal direk aan die publiek beskikbaar nie.”
Sy voeg by dat interne voorvalverslae deel vorm van hul standaardprosedures, maar dat hierdie dokumente vertroulik bly.
“Ons gebruik hierdie verslae om ons bedrywighede en protokolle deurlopend te verbeter,” sê Van Wyk.
Intussen sê die polisie die ondersoek is nog nie afgehandel nie. Kaptein Johan van Dyk het bevestig dat die saak steeds aktief ondersoek word.
“Die saak is nie gesluit nie en bly onder verdere ondersoek,” sê Van Dyk.
Vir die slagoffer bring hierdie versekering egter min troos. Hy sê die gebrek aan sigbare vordering laat hom voel asof geregtigheid stadig, of glad nie, sal geskied nie.
“Ek verstaan ondersoeke neem tyd, maar intussen sit ek met die nagevolge, fisies, emosioneel en finansieel,” sê hy. “Ek wil net hê iemand moet aanspreeklik gehou word.”
Hy voel ook die voorval werp lig op breër vrae rondom veiligheid by tolhekke en die vermoë om vinnig en effektief op noodgevalle te reageer.
“Vir nou bly my aanvaller op vrye voet, en ek wag steeds op antwoorde.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
