News

Wetstoepassing faal inwoners midde kabeldiefstalkrisis

Kabeldiefstal neem toe en wetstoepassing sukkel om doeltreffend op te tree. Stadige administrasie, gebrekkige samewerking en swak vervolging laat verdagtes vry en gemeenskappe sonder dienste, terwyl die probleem daagliks vererger en vertroue in owerhede verder afneem.

Inwoners van die Moot word toenemend op veelvuldige vlakke in die steek gelaat namate kabeldiefstal handuit ruk, terwyl wetstoepassing, administratiewe prosesse en die regstelsel sukkel om tred te hou met die groeiende krisis.

Wat eens as geïsoleerde voorvalle beskou is, het nou ontwikkel in ’n sistemiese probleem wat dienslewering knak, gemeenskappe ontwrig en vertroue in owerhede ondermyn.

Dit is die mening van DA-raadslid Leon Kruyshaar. Hy glo in Wyk 1 en omliggende gebiede in die Moot, het die situasie drasties versleg sedert die huidige koalisie-administrasie aan bewind gekom het.

Hy sê daar is ’n skerp toename in informele én formele herwinningsdepots, waarvan baie sonder behoorlike toesig funksioneer, dikwels in of naby informele nedersettings.

“Hierdie ongereguleerde groei in herwinningsaktiwiteite loop hand aan hand met ’n dramatiese toename in kabeldiefstal en infrastruktuurskade,” meen Kruyshaar.

Die impak hiervan word daagliks gevoel deur inwoners en ondernemings wat sonder elektrisiteit sit, internetverbinding verloor of met veiligheidsrisiko’s gekonfronteer word.

Kruyshaar verduidelik dat hy as wyksraadslid herhaaldelik betrokke was by ingrypings saam met gemeenskapspolisiëringsforums, private sekuriteitsmaatskappye en metropolisie.

In verskeie gevalle is verdagtes wel aangekeer, maar suksesvolle vervolging bly ’n groot struikelblok.

Hy wys daarop dat die polisie self dikwels nie met vervolging kan voortgaan indien ’n formele saak nie deur die metro self geopen is nie, veral wanneer munisipale infrastruktuur betrokke is.

“Hierdie administratiewe leemte lei daartoe dat verdagtes vrygelaat word, wat die indruk skep dat daar min of geen gevolge vir hierdie misdade is,” sê Kruyshaar.

Hy glo die probleem word verder vererger deur stadige reaksietye binne die munisipale stelsel.

In een onlangse geval het dit volgens Kruyshaar dae geneem en verskeie eskalasies vereis voordat ’n metro-amptenaar opgedaag het om gesteelde infrastruktuur te identifiseer.

Slegs ná ingryping deur senior bestuur is verdagtes weer in hegtenis geneem.

“Sulke vertragings ondermyn wetstoepassing en verswak die integriteit van die breër regsproses. Intussen gaan die misdaad voort,” sê Kruyshaar.

Die omvang van die probleem is kommerwekkend. In Wyk 1 alleen is byna 50 gevalle van gesteelde oorhoofse geleierkabels die afgelope paar maande direk aan Kruyshaar se kantoor gerapporteer.

Hierdie syfer sluit nie bykomende gevalle in wat direk by die polisie of die metro aangemeld is nie.

Sekere gebiede in die Moot het ontwikkel tot bekende brandpunte.

Langs Van der Hoffweg is daar, volgens Kruyshaar, sowat 20 voorvalle binne ’n kort tyd aangemeld. Hierdie herhalende patrone dui volgens hom op ’n gebrek aan volgehoue wetstoepassing en afskrikking.

Terselfdertyd is daar duidelike visuele bewyse van onwettige aktiwiteite regoor die gebied. Oop vure waarin kabels verbrand word om koper te onttrek, weggooiplekke vir kabel- omhulsels en ongereguleerde herwinningspraktyke het bykans alledaags geword.

Hoewel wetgewing die verandering van die vorm van koperkabels verbied, bly toepassing inkonsekwent.

Kruyshaar sê: “Gesteelde koper word dikwels vinnig gesmelt, wat dit bykans onmoontlik maak om die oorsprong daarvan op te spoor.”

’n Verdere terugslag vir wetstoepassing was die ontbinding van die stad se gespesialiseerde kabeldiefstal-eenheid.

Volgens Kruyshaar is ervare personeel herontplooi, wat ’n beduidende leemte in kundigheid en operasionele vermoëns gelaat het.
Hy meen ook onlangse oorplasings van vaardige ondersoekers wek verdere kommer oor leierskap in hierdie area van wetstoepassing van die metro.

Kabels wat herwin is.
Foto: Tshwane metro

Hy verduidelik samewerking tussen rolspelers bly ook gebrekkig.

Pogings om met staatsentiteite soos Prasa en Transnet saam te werk, het volgens Kruyshaar min vrugte afgewerp. Die stad se jurisdiksie oor spoorlyne is beperk, en ondersteuning van hierdie entiteite skiet ver te kort.

Operasies soos Operation Shanela bied wel tydelike verligting, maar word dikwels as kortstondig beskou.

Kruyshaar meen sulke operasies behoort weekliks plaas te vind om werklik ’n impak te hê.

Nog ’n bron van spanning, volgens hom, is die rol van lisensiëring en sonering van herwinningsdepots.

“Baie herwinningsdepots beskik nie oor die nodige soneringsgoedkeuring ingevolge die stad se verordeninge nie. Tog word permitte steeds uitgereik sonder voldoende oorweging van hierdie vereistes of enige openbare deelname,” wys Kruyshaar uit.

Intussen bly sosiale uitdagings in die buurt wat bydra tot die probleem soos haweloosheid en besoedeling onopgelos.

Volgens Kruyshaar is daar reeds op hoë vlak opdrag gegee dat geraas- en omgewingsbesoedeling dringend aangespreek moet word, maar oop vure is steeds snags sigbaar en die probleem van rondlopers neem toe.

Vir inwoners beteken dit ’n daaglikse werklikheid van onsekerheid, swak dienslewering en toenemende frustrasie.

Elektrisiteitsonderbrekings beïnvloed huishoudings en besighede, terwyl infrastruktuurskade miljoene rand kos om te herstel, geld wat elders in die stad benodig word.

Kruyshaar beklemtoon dat kabeldiefstal nie as ’n geringe oortreding beskou moet word nie. Dit is volgens hom ekonomiese sabotasie wat kritieke infrastruktuur teiken en die stad se funksionering direk raak.

Hy stel ’n reeks dringende ingrypings voor om die situasie te stabiliseer. Dit sluit in beter toerusting en hulpbronne vir handhawingspanne, sowel as die herinstelling van ’n toegewyde kabeldiefstal-eenheid met die nodige kundigheid.

Hy pleit ook vir strenger en duideliker verordeninge om die herwinningsbedryf te reguleer, insluitend die verbod op oop verbranding naby sulke fasiliteite en dat sake-eienaars vir omgewingskade aanspreeklik gehou moet word.

Verder word daar gevra vir ’n meer gestruktureerde lisensiëringsproses waarin die metro ’n beslissende rol speel, asook vir verpligte infrastruktuur binne geregistreerde herwinningspersele om onwettige verwerking te beperk.

Samewerking tussen die polisie, metropolisie, private sekuriteit en gemeenskapstrukture moet volgens hom geformaliseer en versterk word deur gereelde gesamentlike operasies en inspeksies.

Hy wys ook daarop dat verdagtes, waar toepaslik, ingevolge strengere wetgewing soos die Kritieke Infrastruktuurwet aangekla moet word, eerder as vir gewone diefstal, wat nie die erns van die misdaad weerspieël nie.

Volgens Kruyshaar is opleiding van polisiebeamptes noodsaaklik sodat hulle kabelverwante oortredings korrek kan identifiseer en toepaslike aanklagte kan formuleer.

Interne aanspreeklikheid binne staatsinstellings bly ook vir hom ’n kritieke faktor. Amptenare wat versuim om op te tree of die wet toe te pas, moet volgens hom aanspreeklik gehou word.

Hy stel ook voor dat die metro die moontlikheid ondersoek om beheerde, voldoenende herwinningspersele te vestig wat omgewingsvriendelik bestuur word en as ’n wettige alternatief vir informele herwinnaars kan dien.

Vrae is aan die metro sowel as die polisie gestel maar antwoorde is nog nie teen publikasie ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button