Geen kragineenstoring nie, metro verwerp bewerings
Tshwane se burgemeesterswoordvoerder Samkelo Mgobozi erken dat die metro tans met personeeltekorte en verouderde infrastruktuur sit, maar sê dat eksterne kontrakteurs sal duurder wees as om sy interne kapasiteit te versterk.
Die Tshwane metro het die stand van sy kragnetwerk en personeelkapasiteit verdedig en onthul dat die verlies van geskoolde personeel weens bedankings, aftredes en beter werksgeleenthede, ’n is uitdaging vir die hele bedryf.
Die metro erken dat daar ’n tekort aan bestaande vaardighede binne sy Departement van Energie en Elektrisiteit is, maar dring daarop aan dat maatreëls toegepas word om die tegniese kapasiteit te versterk en die netwerk te stabiliseer.
Dit volg nadat die Vryheidsfront Plus (VF Plus) gewaarsku het dat inwoners ’n ‘geleidelike tegniese ineenstorting’ van die kragnetwerk ervaar, wat die hele metropool in gevaar stel.
Daar is slegs 26 hoëspanningspersoneel om 55 substasies aan die gang te hou, volgens VF Plus-raadslid Nick Pascoe.
Pascoe sê die metro se Kliënteverhoudingsbestuur (CRM) verslag vir die tweede kwartaal van die 2025/26 boekjaar bied ’n té optimistiese beeld van die situasie.
“Terwyl die metro se CRM-verslag ’n 92%-reaksietempo op openbare navrae beweer, vertel die werklike data ’n heeltemal ander storie,” sê hy.
Pascoe beweer dat die Departement van Energie en Elektrisiteit se voltooiingskoers vir kragfoute tot slegs 37% geval het, met meer as 12 000 tegniese versoeke wat na bewering vir langer as 90 dae uitstaande is.
Hy beweer verder dat die metro 55 substasies op sy 132kV-netwerk bedryf word, wat streke 5 en 7 uitsluit, maar net 26 gekwalifiseerde tegnici wat gemagtig is om op die hoëspanningsnetwerk te werk.
“Hierdie tekort maak dit fisies onmoontlik om foute betyds op te los, wat inwoners vir dae sonder krag laat,” sê Pascoe.
Hy waarsku dat die gebrek aan geskoolde arbeid gevaarlike werksomstandighede kan skep as ongemagtigde werkers genoopword om hoë-risiko elektrisiteitswerk uit te rig.
Pascoe kritiseer ook die metro omdat dit na bewering groot infrastruktuurprojekte prioritiseer terwyl dit die instandhouding van verouderde infrastruktuur en die ontwikkeling van tegniese vaardighede afskeep.
Hy doen ’n beroep op die metro om dringend spesialiste uit die privaatsektor aan te stel om te help om die agterstand en tegniese druk wat die netwerk in die gesig staar, aan te spreek.
“Sonder onmiddellike ingryping, sal Tshwane se kraginfrastruktuur verder agteruitgaan.”
Die burgemeesterswoordvoerder, Samkelo Mgobozi, sê egter dat soos in enige bedryf, natuurlike uitputting en beter aanbiedinge, insluitend aftrede, tot die verlies van geskoolde personeel lei.
“Die stad erken die bestaande vaardigheidsgaping, wat ’n groter uitdaging binne die bedryf weerspieël wat munisipaliteite en nutsdienste regoor die land raak.”
Mgobozi sê die toenemende kompleksiteit van die netwerk, verouderde infrastruktuur en groeiende diensvereistes plaas aansienlike druk op die stad se tegniese bedrywighede.
Hy sê die stad betwis egter aspekte van die kritiek en sê dat die kragnetwerk deur ’n breër bedryfstelsel bestuur word as wat voorgestel word.
Mgobozi sê Pretoria het 80 primêre substasies en dat ingenieurs en elektrisiëns nie aan individuele substasies toegewys word nie.
“Meeste van hierdie substasies word van ’n afstand deur SCADA [Toesighoudende Beheer en Dataverkryging] gemonitor en dat spanne deur werkskaarte uitgestuur word om instandhouding toe te pas in ooreenstemming met statutêre vereistes,” verduidelik hy.
SCADA is ’n industriële beheerstelsel wat hardeware en sagteware kombineer om industriële prosesse te monitor en te kontroleer.
Hy bevestig dat die stad tans agt gekwalifiseerde hoëspanningstegnici in diens het wat toegewy is aan die bestuur van die 132kV-netwerk terwyl die sub-oordragspan 18 elektrisiëns insluit.
“Hierdie gespesialieseerde hulpbronne vorm deel van die bedryfskapasiteit wat verantwoordelik is vir die bestuur en stabilisering van kritieke kraginfrastruktuur regoor Tshwane,” sê Mgobozi.
Hy erken dat personeelbeperkings reaksietye en instandhoudingsiklusse beïnvloed, veral gedurende erge weersomstandighede en tydperke van hoë foutvolumes.
“Huidige personeelbeperkings plaas bedryfsdruk op die netwerk, aangesien beperkte tegniese hulpbronne benodig word om oor ’n groot en toenemende komplekse elektrisiteitstelsel te reageer,” sê hy.
Mgobozi sê dat ondanks die uitdagings, die metro steeds prioriteit aan kritieke foute verleen terwyl dit geteikende ingrypings deur sy Elektrisiteitstabiliseringsplan toepas.
“Die plan sluit in die vul van kritieke tegniese vakatures, die uitbreiding van opleidingsprogramme en versterking van bedryfskapasiteit regoor hoë-, medium- en laespanningsbedrywighede.
Hy sê die metro stel aktief die werweing van gespesialiseerde tegniese personeel binne die Energie en Elektrisiteitsbesigheidseenheid eerste, terwyl hulle terselfdertyd doelgerigte opleiding- en vaardigheidsontwikkeling-inisiatiewe bevorder om interne kapasiteit te versterk.
Mgobozi sê werwingsprosesse vir kritieke vakatures tydens die 2025/26-boekjaar is tans reeds aan die gang.
Hy verdedig ook die stad se benadering tot die gebruik van private kontrakteurs en sê dat die uitkontraktering van alle bedryfsfunksies nie finansieel volhoubaar sal wees nie.
“Eksterne kundigheid word gebruik waar nodig, veral vir grootskaalse en kapitaal-intensiewe infrastruktuurprojektessoos nuwe substasies en groot opgraderings,” sê hy.
“Die handhawing van ’n permanente kontrakteur op bystand vir deurlopende bedryfsvereistes soos ’n 24-uur foutreaksie is egter aansienlik duurder as om die interne tegniese kapasiteit te versterk.”
Hy dring verder daarop aan dat streng gesondheids- en veiligheidsmaatreës in plek bly gedurende instandhouding- en herstelbedrywighede.
Mgobozi sê die metro gaan voort om belegging tussen nuwe infrastruktuurprojekte en die instandhouding van verouderde sisteme te balanseer deur substasie-opgraderings, opknappingsprojekte, voorkomende instandhoudingsprogramme en inisiatiewe vir netwerkversterking.
Huidige opgraderings is tans onderweg by substasies insluitend Kwagga, Rosslyn, Monavoni, Mooikloof en Wapadrand.
“Die stad bly daaraan verbind om betroubaarheid van elektrisiteit te verbeter en te verseker dat infrastruktuurbeleggings omgeskep word in meer stabiele dienslewering vir inwoners en besighede regoor Tshwane,” sluit Mgobozi af.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
