Parool-ontwykers krisis veroorsaak hewige vuurwapenbeheer reaksie
Civil Society South Africa beskuldig die regering daarvan dat hulle nie beskermers beskerm het nie nadat verslae onthul dat ongeveer 28 000 parool-ontwykers landswyd nie opgespoor kan word nie.
Duisende parool-ontwykers wat skuldig is aan gewelddadige misdade, bly soek regoor Suid-Afrika terwyl die regering voortgaan om strenger vuurwapenbeheer vir wetsgehoorsame burgers aan te dryf, volgens Civil Society South Africa (CSSA).
Die organisasie het ’n sterk-bewoorde verklaring op 28 Mei uitgereik nadat verslae onthul het dat ongeveer 28 000 parool- ontwykers nie tans deur die Departement van Korrektiewe Dienste opgespoor kan word nie.
CSSA tree op as ’n kollektiewe organisasie van onderhandeling en samewerking wat verskeie nie-regerings, gemeenskapsgebaseerde en voorspraaksektore verteenwoordig in die vorming van nasionale sosio-ekonomiese beleid. Dit hou ook die regering aanspreeklik.
Ondersoeke deur Daily Maverick en amaBhungane het bevind dat 27 797 parool-ontwykers effektief vermis word, insluitend veroordeelde moordenaars, verkragters, ontvoerders en gewapende rowers.
Volgens die verslae, is 15 860 van hierdie oortreders reeds geklassifeer as ‘geargiveerde ontwykers’ wat kommer wek oor of daar nog aktiewe pogings aangewend word om hulle op te spoor.
Die verslae dui verder dat die swak koördinasie en integrasie tussen die SAPD en die Departement van Korrektiewe Dienste bydra tot mislukkings om oortreders op te spoor wat verdwyn het terwyl hulle onder parooltoesig was.
CSSA waarsku dat die situasie ernstige swakpunte in die land se strafregstelsel blootstel en ’n direkte bedreiging vir openbare veiligheid inhou.
“Suid-Afrikaners word weer eens aangesê om ’n sisteem te vertrou wat nie eens tred kan hou met veroordeelde gewelddadige oortreders wat reeds onder die staatstoesig is nie,” sê Reece Clark, CSSA se nasionale woordvoerder.
“Jy ontwyk nie parool omdat jy van plan is om ’n wetsgehoorsame burger te word nie. Hierdie is individue wat reeds gewys het dat hul die wet ignoreer, die voorwaardes van hul vrylating oortree en in die samelewing verdwyn.”
Die organisasie het die onthullings gekoppel aan voortgesette debatte rondom die voorgestelde Wetsontwerp op Vuurwapenbeheer (FCAB), wat poog om beperkings op wettige vuurwapenbesit in Suid-Afrika te versterk.
Clark voer aan dat die regering se prioriteite misplaas is in ’n tyd toe duisende veroordeelde gewelddadige oortreders buite die bereik van owerhede gebly het.
“Die prioriteite is heeltemal onderstebo. In plaas van om op elke beskikbare hulpbron te fokus om gewelddadige parool-ontwykers op te spoor, kriminele netwerke af te breek en die herstel van gevolge vir gewelddadige misdaad, bly die regering obsessief om wettige selfverdediging nog moeiliker te maak vir gewone burgers,” sê hy.
“Die Wetsontwerp op Vuurwapenbeheer is nie ’n oplossing vir openbare veiligheid nie. Dit is ’n direkte bedreiging vir die veiligheid en sekuriteit van wetsgehoorsame Suid-Afrikaners wat reeds onder uiterste vlakke van geweldsmisdaad leef.”
Die wetsontwerp het beduidende kritiek van wapenregte-groepe, burgerlike organisasies en sommige opposisiepartye ontketen sedert dit die eerste keer voorgestel is. Kritici voer aan dat strenger vuurwapenbeperkings wettige eienaars buitensporig sal beïnvloed, terwyl dit nie onwettige vuurwapens en georganiseerde misdaad kan bekamp nie.
Ondersteuners van die voorgestelde wysigings hou vol dat strenger vuurwapenregulasies kan help om vuurwapengeweld te verminder en openbare veiligheid te verbeter.
Clark sê die jongste onthullings rondom parool-ontwykers beklemtoon die breër mislukkings binne wetstoepassing en korrektiewe stelsels.
Hy voer aan dat daar toenemend van gewone Suid-Afrikaners verwag word om op staatsbeskerming te vertrou ondanks herhaaldelike mislukkings in polisiërings, ondersoeke en ootredersmonitering.
“Daar word herhaaldelik van Suid-Afrikaners verwag om praktiese maniere van selfbeskerming op te gee terwyl dieselfde staat sukkel om skuldigbevindings te verseker, doeltreffend gemeenskappe te polisieer, vuurwapenlisensies doeltreffend te verwerk of selfs gevaarlike oortreders binne die korrektiewe stelsel te monitor,” sê Clark.
“Die sosiale kontrak word verbreek wanneer die regering nie die mees basiese plig om burgers te beskerm kan uitvoer nie, maar terselfdertyd probeer om burgers se vermoë om hulself te beskerm, te verwyder.”
CSSA het sy teenkanting teen die wetsontwerp hervat en doen ’n beroep op die regering om die handhawing van geweldsmisdaad bo bykomende vuurwapenbeperkings te plaas.
Die organisasie sê groter klem moet geplaas word op die opsporing van parool-ontwykers, versterking van intelligensie-geleide polisiëring, verbetering van samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe en die herstel van aanspreeklikheid binne die strafregstelsel.
Die departement het nie gereageer op die kommer oor die skaal van parool-ontwykers nie. Die onthullings sal waarskynlik die ondersoek oor paroolmonitoreringstelsels en die samewerking tussen korrektiewe owerhede en polisie versterk.
Die kwessie dra ook by tot die groeiende openbare besorgdheid oor geweldsmisdaadvlakke en die vermoë van staatsinstellings om oortreders te bestuur sodra hulle weer onder toesig terug in gemeenskappe vrygelaat word.
Navrae is aan die departement gestel, maar geen antwoorde is teen druktryd ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
