Local newsNews

Moot word brug vir brug verfraai

’n Gemeenskapsgedrewe projek in die Moot verander verwaarloosde brûe in kleurvolle kunswerke wat trots en veiligheid bevorder. Die Queenswood-brug is die nuutste voorbeeld van hoe inwoners, kunstenaars en borge saamwerk om stedelike vernuwing prakties toe te pas en misdaad deur omgewingsorg hok te slaan.

Die herlewing van Pretoria se Moot-gebied kry sigbare momentum en dit gebeur letterlik brug vir brug – of dit nou ’n treinbrug of ’n motorbrug is.

Wat eens grys, verwaarloosde betonstrukture was, word nou omskep in kleurvolle kunswerke wat nie net die estetika van die omgewing verbeter nie, maar ook ’n dieper doel dien: gemeenskapsherstel en misdaadbekamping.

Die jongste projek, die motorbrug aan die Queenswood-kant van CR Swartrylaan, is ’n sprekende voorbeeld van hoe buurtvernuwing in praktyk lyk.

Volgens medestigter van die Moot-projek, Johan Oberholster, is die projek basies voltooi, met finale afrondingswerk wat tans deur kunstenaars Hetta Pieterse en Wim Myburgh gedoen word.

Hierdie unieke benadering, waar kuns, identiteit en omgewing saamvloei, vorm deel van ’n groter visie wat deur die Moot-projek gedryf word.

Die projek-inisiatief, wat deur Oberholster en medestigter Hennie Mostert gelei word, fokus daarop om openbare ruimtes te verfraai en terselfdertyd ’n gevoel van eienaarskap onder inwoners te kweek.

Projekleier en kunstenaar Hetta Pieterse het die visuele ontwerp gehelp vorm nadat gemeenskapsverteenwoordiger Brink Oosthuizen terugvoer gelewer het oor wat inwoners graag in die kunswerk wou sien.

Hetta Pieterse, projekleier van die kunsprojek op die motorbrug in CR Swart-rylaan. Foto: Verskaf

Volgens Pieterse was dit belangrik dat die ontwerp iets van Queenswood se identiteit weerspieël.

“Omdat dit aan die Queenswood-kant is, wou ek beslis iets insluit wat na ¹n koningin soos Koningin Elizabeth verwys, wat Suid-Afrika drie keer tydens haar lewe besoek het,” verduidelik Pieterse. “Maar ek wou ook die idee van ’n woud daarmee versoen, en so het ons in die middel van die brug ’n samestelling van ’n woud en ’n kroon geskep.”

Vir haar moes die brug ook ’n speelse, toeganklike karakter hê. “Ek het dit ’n strokiesprent-aanslag gegee met elemente soos sterre wat vonke wys. Dit beeld vir my die motoriste uit wat so vinnig oor die brug verbyry terwyl ons besig is om te verf,” sê sy.

Pieterse beklemtoon dat sulke projekte die gemeenskap moet dien en weerspieël.

“As kunstenaar voel ek so ’n projek moet die gemeenskap se karakter in ag neem soos die fietsryers en drawwers wat jy daagliks sien. Selfs katte speel ’n rol in die ontwerp, want daar was duidelik ’n katliefhebber wat gereeld kom inloer en handjie bygesit het.”

Sy voeg by dat die aard van openbare kuns ook unieke uitdagings bied.

“Hierdie tipe verfwerk stel ander eise aan ’n kunstenaar as werk binneshuis. Jy is dikwels op jou eie buite in die son en ’n sonhoed is noodsaaklik. Ek het gou bekend geword as die tannie met die pienk hoed wat die brug verf,” vertel sy laggend.

Oberholster wys daarop dat die projek nie net oor estetika gaan nie, maar ook oor veiligheid.

“Dis ’n toepassing van die bekende ‘Broken Windows’-teorie, wat wys dat misdaad afneem wanneer mense hul omgewing versorg en in stand hou,” sê hy. “Wanneer ’n plek netjies en versorg lyk, stuur dit ’n boodskap dat die gemeenskap omgee en dit ontmoedig misdadige gedrag.”

Die Queenswood-brug oor CR Swartrylaan, wat sowat 45 meter lank is, is tot dusver een van die grootste projekte van sy soort in die Moot. Maar wat dit werklik besonders maak, is die manier waarop dit tot stand gekom het.

“Wat besonders is van al die brugverfprojekte tot dusver, en ook hierdie een, is dat elke kunstenaar en helper sonder enige vergoeding kom help het,” sê Oberholster. “So was dit ook met hierdie reuseverfprojek.”

Hy spreek sy dank uit aan die talle individue wat hul tyd en talent ingesit het.

“Baie dankie aan veral Hetta Pieterse, die dryfveer van die projek, en Wim Myburgh wat baie hard gewerk het. Baie dankie ook aan Riana Willemse en Madeleine Hale wat deurlopend kom hand bysit het.”

Die projek het ook ondersteuning van plaaslike organisasies ontvang.

“Dankie ook aan Community Response Group wat deurlopend tydens die projek ’n veiligheidsoorsig kom doen het, en Queenswood se inwoners onder leiding van Brink Oosthuizen, die Moot-projek se areaverteenwoordiger in Queenswood, wat verfkoste en voorbereiding geborg het,” voeg Oberholster by.

Hierdie samewerking tussen inwoners, kunstenaars en organisasies is, volgens Oberholster, die sleutel tot die projek se sukses.

Die muurkunsprojek op die motorbrug in CR Swart-rylaan aan die Queenswood-kant wat naby aan voltooiing is. Foto: Verskaf

Die brugprojek in Queenswood is nie ’n alleenstaande poging nie.

Oor die afgelope paar jaar het die Moot-projek verskeie brûe in die gebied omskep in kunswerke wat geïnspireer is in die style van bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Pierneef, Walter Battiss, Irma Stern, Peter Clarke en Esther Mahlangu.

Hierdie projekte het nie net visuele aantrekkingskrag geskep nie, maar ook ’n gevoel van trots en identiteit onder inwoners versterk.

“Van gewone grys beton na kunswerke wat karakter en lewe bring,” sê Oberholster. “Hierdie projekte wys wat moontlik is wanneer ’n gemeenskap saamstaan om iets besonders te bou.”

Terwyl die laaste verfstrepe aan die Queenswood-brug voltooi word, is die boodskap duidelik: buurtvernuwing hoef nie altyd van bo af geinisieer te word nie.

Soms begin dit met ’n kwas, ’n visie en ’n gemeenskap wat bereid is om saam te werk.

En in die Moot, gebeur dit brug vir brug.

– Kliek hier om meer van die CR Swart-rylaan se skilders aan die werk te sien: https://www.instagram.com/reels/DX2JJVJlID3/

 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

 

A post shared by Duane Seymore (@mrseefrikinmore)

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button