News

Stad se toerismebedryf blink uit by reis-indaba

Ons toerismebedryf het sy merk gemaak by vanjaar se Africa’s Travel Indaba in Durban, waar samewerking, nuwe vennootskappe en die bevordering van plaaslike ervarings sentraal gestaan het. Die Tshwane Toerisme-vereniging neem nou die harde werk verder en het ’n oproep gedoen aan die bedryf om in te skryf vir die 2026-toerismetoekennings voor 30 Mei.

Pretoria se toerismebedryf het die derde week in Mei goeie verteenwoordiging geniet tydens die 2026 Africa’s Travel Indaba by die Durban International Convention Centre.

Gauteng se toerisme-aanbieding is onder die tema ‘One Pavilion, One Story’ aan plaaslike en internasionale kopers bekendgestel.

Rolspelers vanuit die hoofstad het onder meer saam met Gauteng Toerisme, Discover Tshwane en die Dinokeng Toerisme Organisasie aan strategiese gesprekke, handelsbetrokkenheid en bestemmingsbemarking deelgeneem om Pretoria verder as ’n sakereis- én ontspanningsbestemming te posisioneer.

Volgens die voorsitter van die vereniging, sakevrou en gastehuiseienaar, Susan Marais, het die geleentheid gewys hoe belangrik samewerking binne die bedryf geword het.

“Dit is meer as net ’n toerisme-uitstalling. Dit gaan oor verhoudings, vennootskappe en die mense wat elke dag help om Pretoria as bestemming te bou. Ons sien toenemend dat toerisme kollektief gedryf word en nie deur een organisasie alleen nie,” sê Marais.

Marais sê die fokus skuif nou na opvolgwerk en die omskakeling van gesprekke in werklike ekonomiese groei vir die stad en provinsie.

“Die toekoms van toerisme is inklusief en samewerkend. Tshwane is gereed daarvoor,” glo Marais.

Die blootstelling by Africa’s Travel Indaba kom terwyl die vereniging ook ’n oproep op die bedryf in Pretoria gemaak het om in te skryf vir die Vereniging se Tshwane Toerismetoekennings 2026.

Die toekennings, wat vanjaar 25 jaar van ‘Welcoming the World to Tshwane’ vier, erken uitnemendheid in die plaaslike toerisme- en gasvryheidsbedryf.

Die gala-aand vind op 22 Augustus by Batter Boys Village plaas.

Marais sê die toekennings fokus nie bloot op gewildheid nie, maar op werklike impak, groei en samewerking binne die bedryf.

“Dit is ’n viering van die mense wat elke dag besoekers verwelkom en betekenisvolle ervarings skep. Toerisme word deur ’n hele gemeenskap gebou en hierdie toekennings erken daardie kollektiewe poging,” sê sy.

Nuwe kategorieë vir vanjaar sluit in Kok van die jaar, Toergids van die Jaar en Township Toerisme Ervaring van die Jaar.

Een van verlede jaar se gewilde wenners was Jaco Robbertse van Ulysses Tours and Safaris, wat as Toeroperateur van die Jaar aangewys is.

Robbertse sê die erkenning was besonder betekenisvol aangesien sy onderneming in 2025 sy 30ste bestaansjaar gevier het.

“Ek ondersteun graag enige toerisme-inisiatief en neem graag deel aan die jaarlikse toerismetoekennings. Om dit te wen in 2025 was die perfekte begin van ons 30 jaar-feesvieringe,” sê hy.

Hy meen toeriste soek toenemend unieke en egte Suid-Afrikaanse ervarings.

“Ons ervaar ’n neiging waar toeriste meer ervarings wil beleef en tradisionele kos wil beproef. Ons het dit ingesluit by ons pakkette, in onder meer Pretoria en Soweto, wat tans ons gewildste toere is,” sê Robbertse.

Verlede jaar se ander wenners sluit in Bill Harrop’’s Original Balloon Safaris as Toeriste-aantreklikheid van die Jaar, Menlyn Boutique Hotel as Hotel van die Jaar, Noxolo Guesthouse as Gastehuis van die Jaar en Kwalata Game Lodge as Lodge van die Jaar. Daarby ook het Capital Craft Beer Academy, Kievits Kroon Gauteng Wine Estate, Mangwanani Spa, The Capital Hotel School and Training Academy en eCom het in aanmerking gekom.

Inskrywings vir die Tshwane Tourismetoekennings 2026 sluit op 30 Mei. Om in te skryf, kliek hier: Tshwane Tourism Association Awards 2026 – Celebrating Excellence in Tourism

– Kliek hier om Susan Marais oor die indaba te hoor gesels: https://www.facebook.com/reel/1455907129170204

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button