Nuwe gids vir kwesbare gesinne nou beskikbaar
Die Centurion Gemeenskapsforum het ’n gratis oorlewingsgids vir gesonde gesinne bekendgestel om ouers, onderwysers en voogde te help om kinders beter te ondersteun te midde van egskeiding, trauma, geweld en toenemende druk op huishoudings in die gemeenskap.
Kinderbeskermingsmaand word jaarliks gedurende Mei en begin Junie in Suid-Afrika gevier om bewusmaking te skep oor die veiligheid en welstand van kinders te midde van toenemende geweld en gesinsdruk.
Vanjaar se tema, “Werk saam om geweld teen kinders te beëindig,” plaas die kollig op die verantwoordelikheid van gesinne, skole, gemeenskappe en organisasies om kinders beter te beskerm. Die veldtog kom te midde van kommerwekkende statistieke.
Volgens die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling is byna 9 000 gevalle van kindermishandeling reeds in die huidige boekjaar aangemeld, waarvan meer as 3 200 seksuele misbruik behels het.
Terselfdertyd wys navorsing dat kinders toenemend blootgestel word aan trauma wat met egskeiding, huishoudelike konflik, geweld en emosionele onsekerheid gepaardgaan.
Organisasies en skole regoor die land gebruik daarom Kinderbeskermingsmaand om praktiese ondersteuning, bewusmaking en hulpbronne beskikbaar te stel om kinders veiliger en emosioneel gesonder groot te maak.
Die Centurion Gemeenskapsforum het op 20 Mei by Industrial Works in Centurion ’n nuwe praktiese oorlewingsgids vir gesonde gesinne bekend gestel in reaksie op die toenemende druk waarmee gesinne en kinders in die gemeenskap gekonfronteer word.
Die gids fokus spesifiek op die ondersteuning van kinders wat deur egskeiding, saamgestelde gesinne, enkelouerskap, trauma en konflik geraak word.
Dit is gratis beskikbaar en is saamgestel deur verskeie organisasies en kundiges met die doel om ouers, voogde, onderwysers en kinders praktiese hulpmiddels te gee om veiliger en meer stabiele gesinsomgewings te skep.
Volgens Zane Babinszky, maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand, toon navorsing onder die Centurion-gemeenskap dat geskeide gesinne, saamgestelde huishoudings en enkelouerskap van die grootste uitdagings is waarmee kinders tans leef.
“Die werklikheid is dat baie kinders vandag tussen verskillende huise, ouerrolle en emosionele lojaliteite moet beweeg. Gesinne het nie altyd ’n tekort aan liefde nie, maar dikwels ’n tekort aan praktiese riglyne, taal en ondersteuning. Hierdie gids wil juis daardie leemte help vul,” sê Babinszky.
Hy sê die behoefte aan praktiese ondersteuning het al dringender geword namate meer kinders met spanning, onsekerheid en emosionele uitdagings in huishoudings moet saamleef.
Die gids fokus daarom nie net op tradisionele gesinne nie, maar ook op huishoudings waar kinders tussen verskillende ouers, stiefouers en skole beweeg, of waar trauma en konflik reeds deel van die gesinsdinamiek geword het.
Dr. Leandie Bräsler, skolenetwerkbeampte van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, sê die gids is daarop gemik om gesinne te help om sterker verhoudings en gesonder kommunikasie te bou.
“Elke gesin is uniek. Tog deel almal dieselfde wens: om kinders groot te maak wat veilig en geliefd voel en emosioneel gesond is. Hierdie praktiese oorlewingsgids vir gesonde gesinne is saamgestel om gesinne en onderwysers in Centurion te help bou aan ’n sterk, gelukkige, funksionele gesinslewe – ongeag hoe die gesin lyk of watter uitdagings daar is,” sê Bräsler.
Sy sê die veranderende samestelling van gesinne beteken dat kinders toenemend in uiteenlopende omstandighede grootword, wat unieke emosionele uitdagings kan meebring.
“Sommige kinders word groot by biologiese ouers wat steeds getroud is, terwyl ander in enkelouer- of saamgestelde gesinne grootword. Hierdie verskillende strukture bring unieke behoeftes, onsekerhede en emosies mee,” sê Bräsler.
Volgens haar wys ervaring dat kinders beter funksioneer wanneer daar stabiliteit, konsekwente ondersteuning en oop kommunikasie in die huis bestaan.
“Kinders floreer wanneer daar sterk verhoudings, goeie kommunikasie, duidelike grense en emosionele ondersteuning in ’n gesin is. Dan leer hulle om hulself te vertrou, beter met ander oor die weg te kom en uitdagings gesonder te hanteer,” sê Bräsler.
Die gids plaas ook ’n sterk fokus op skole en die rol wat onderwysers speel om kinders te ondersteun wat by die huis swaarkry.
Bräsler sê skole het oor die jare ’n veel groter rol begin speel as bloot akademiese onderrig.
“Onderwysers sien dikwels eerste wanneer iets nie reg is nie. Wanneer ’n kind skielik teruggetrokke raak, huilerig is, kla van maagpyn of hoofpyn of sukkel om te konsentreer. In baie gevalle is die skool die enigste plek waar ’n kind konstante ondersteuning, struktuur en positiewe leiding ervaar,” sê sy.
Volgens Elana Kriel, opvoedkundige sielkundige by Akademia, moet ouers en ander volwassenes doelbewus tyd maak vir gesprekke met kinders.
“Gesonde verhoudings by die huis en skool word nie net deur groot oomblikke gevorm nie, maar veral deur die daaglikse klein en groot keuses oor doelbewuste optrede en gesprekke met ouers en ander volwassenes. Volwassenes moet hierdie gesprekke met hul kinders prioritiseer en inisieer,” sê Kriel.
Die gids bevat onder meer wenke oor kommunikasie tussen ouers en kinders, emosionele ondersteuning, die hantering van trauma en egskeiding, samewerking tussen skole en ouers en die tekens waarna volwassenes moet oplet wanneer kinders emosioneel swaarkry.
Daar is ook inligting oor waar professionele hulp verkry kan word en hoe gevalle aangemeld kan word wanneer kinders of gesinne ondersteuning benodig.
Babinszky sê die uiteindelike doel van die projek is om die gemeenskap beter toe te rus om kinders te beskerm en te ondersteun.
“Die doel is eenvoudig: om gesinne en onderwysers toe te rus met praktiese hulpmiddels, hoop en handevat-strategieë sodat ons saam ’n gemeenskap kan bou waar kinders veilig, geliefd en sterk grootword,” sê hy.
Die gids beklemtoon dat kinders floreer wanneer daar veiligheid, emosionele ondersteuning, goeie kommunikasie en duidelike grense in die huis bestaan.
Dit fokus op die emosionele behoeftes van kinders in verskillende ouderdomsfases, asook die belangrike rol wat ouers, skole en gemeenskappe speel in hul ontwikkeling. Praktiese raad word gegee oor konflikhantering, dissipline, medeouerskap, trauma-ingeligte ondersteuning en die bestuur van tegnologie en sosiale druk.
Die gids bevat ook wenke vir onderwysers om waarskuwingstekens van emosionele nood raak te sien en gepas op te tree. Daarby sluit dit kontakbesonderhede, aanmeldingsprosesse en ’n werkboek met praktiese oefeninge en strategieë in om gesinne te help om sterker, veiliger en meer veerkragtig te funksioneer.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
