News

Kleurvolle Vollas-konvooi sorg vir komberse-donasie

Altesaam 103 komberse is op Moedersdag ingesamel. ’n Beroep word nou gedoen op skole, gemeenskapsorganisasies en die publiek om ook betrokke te raak.

Meer as 100 komberse is onlangs tydens ’n besonderse gemeenskapsinisiatief by die Voortrekkermonument ingesamel.

Dié komberse is nou op pad na tehuise, pleeghuise en ander kwesbare gemeenskappe regoor Pretoria waar die winterkoue reeds begin byt.

Die projek is gesamentlik aangepak deur Solidariteit Helpende Hand, die Jacaranda Beetle Club en MachKnitz-vrywilligers wat komberse gebrei en gehekel het.

Altesaam 103 komberse is ingesamel en op Moedersdag (10 Mei) met 32 Volksies in ’n indrukwekkende konvooi van Dastek af na die Voortrekkermonument geneem. Vier-en-twintig van die voertuie was van die Jacaranda Beetle Club en agt van die publiek wat ook deel wou wees van die inisiatief.

“’n Inisiatief soos dié maak ’n mens opgewonde oor gemeenskapskrag. Die mooiste prentjie was toe al die Volksies saam ingery kom, getooi in die mooiste gebreide en gehekelde komberse, elkeen ’n simbool van omgee,” sê Liani Louw, Helpende Hand se streeksorganiseerder vir die Groter Centurion-streek.

Volgens Louw neem versoeke vir komberse vanuit Pretoria se gemeenskappe daagliks toe, met byna 2 000 komberse wat tans benodig word.

“Wanneer ’n gemeenskap hand opsteek om saam iets te doen, gebeur iets besonders. Dít is waar hoop begin leef.”

Gebreide en gehekelde komberse het Volksies versier tydens Solidariteit Helpende Hand, die Jacaranda Beetle Club en MachKnitz se besondere gemeenskapsinisiatief by die Voortrekkermonument. Foto: Verskaf

Die organisasie doen nou ook ’n beroep op skole, gemeenskapsorganisasies en die publiek om betrokke te raak by verdere projekte om komberse in te samel vir die winter.

“Dit gee hoop wanneer organisasies, instellings en gemeenskappe bymekaarkom om ’n verskil te maak. Elkeen se bydrae lyk dalk klein, maar saam verander ons lewens.”

Die Jacaranda Beetle Club, wat vanjaar sy 40ste bestaansjaar vier, is volgens die klub die oudste bestaande Volksie-klub in Suid-Afrika. Die klub is op 9 Februarie 1986 gestig deur vyf passievolle Volkswagen Volksie-entoesiaste, waarvan twee stigterslede, Werner Alker en Gunther Baggerohr, steeds aktief betrokke is. Alker dien tans steeds as klubpresident.

Volksies van die Jacaranda Beetle Club en lede van die publiek het op Moedersdag in ’n indrukwekkende konvooi vanaf Dastek na die Voortrekkermonument gery as deel van ’n kombersinsamelingsinisiatief ten bate van kwesbare gemeenskappe in Pretoria. Foto: Verskaf

Die klub se sowat 66 lede en ongeveer 40 aktiewe deelnemers hou maandeliks byeenkomste en uitstappies waar lede hul liefde vir die ikoniese motors deel.

“Die grootste verskil word gemaak wanneer mense besef hulle hoef nie alleen te help nie. Saam kan ons warmte, hoop en menswaardigheid teruggee aan ’n gemeenskap,” sê Louw.

Mense wat by Helpende Hand se kombersprojekte betrokke wil raak, kan die organisasie kontak by diens@helpendehand.co.za of komberse by hul naaste Helpende Hand-tak of Ons Winkel skenk.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button