Local newsNews

‘Vrot’ geboue, kontantkrisis en stilstaande projekte knou metro-behuising

Die Ouditeur-Generaal se bevindings en die behuisingsmaatskappy van Tshwane se gewysigde sakeplan skets ’n ontstellende prentjie van vervalle woongeboue, finansiële druk en onontwikkelde grondprojekte. Die VF Plus waarsku dat die entiteit se probleme belastingbetalers en inwoners duur te staan kan kom.

Die Tshwane metro se behuisingsentiteit, Behuisingsmaatskappy van Tshwane (BT), verkeer volgens die Vryheidsfront Plus (VF Plus) in ’n diep finansiële en operasionele krisis.

Die verslag van die Ouditeur-Generaal (OG) en die entiteit se gewysigde 2025/26-sakeplan het ernstige tekortkominge in finansiële bestuur, batebestuur en dienslewering blootgelê.

Die bevindings volg nadat die OG se terugvoerverslag oor die behuisingsmaatskappy se algemene jaarvergadering aan die raad aan die einde van Mei voorgelê is, terwyl die gewysigde sakeplan terselfdertyd nuwe besonderhede oor die entiteit se finansiële uitdagings aan die lig gebring het.

Volgens VF Plus-raadslid Lenor Janse van Rensburg, toon die dokumente dat die entiteit nie bloot met administratiewe probleme worstel nie.

Lenor Janse van Rensburg, Vryheidsfront Plus-stadsraadslid. Foto: Elize Parker

“Die jongste ouditeurverslag en sakeplanbepalings bewys dat die metro se behuisingsentiteit, beheer oor sy kernportefeulje verloor het,” sê Janse van Rensburg.

Een van die mees kommerwekkende bevindings handel oor die toestand van residensiële geboue wat deur die stad bestuur word.

Die OG het sewe woongeboue geïnspekteer en bevind dat hulle nie aan gesondheids- en veiligheidsvereistes voldoen nie.

Die inspeksies het strukturele krake binne en buite geboue, daklekkasies, rou riool rondom woonkomplekse, afskilferende verf en algemene strukturele agteruitgang blootgelê.

Al sewe geboue is ingevolge artikel 12(1) van die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde formeel as nie-nakomende strukture verklaar.

Janse van Rensburg beskryf die situasie as meer as bloot ’n ouditbevinding.

“Die gesondheids- en veiligheidsbevinding verteenwoordig ’n humanitêre krisis, nie bloot ’n ouditbevinding nie. Die stad kan nie toelaat dat inwoners voortgaan om in ‘vrot’ geboue met rou riool, strukturele krake en daklekkasies te woon terwyl hulle 12 tot 18 maande vir hofverrigtinge wag nie.”

Die sewe geboue is: Blesbok (Arcadia), Bosbok (Arcadia), Nuwe Stalshoogte (Arcadia), Ou Stalshoogte (Arcadia), Die Heuwel (Pretoria-Wes), Groenveld (Pretoria-Wes) en JJ Bosmanhuis (Pretoria-oos.)

Almal toon ernstige tekens van verval, insluitend strukturele krake, lekkende dakke, uitgebreide vormgroei en opeenhoping van rou riool.

Volgens die verslag hou die toestande ’n direkte risiko vir inwoners se veiligheid in. Pogings om inwoners te hervestig het egter op regsweerstand afgekom.

Veiligheids- en ontruimingsplanne wat in 2025 voorgelê is, is deur inwoners verwerp, waarna regspanne aangestel is om die prosesse te betwis.

Die gevolg is dat al sewe geboue tans in hofprosesse vasgevang is wat na verwagting tussen 12 en 18 maande kan duur, terwyl die strukturele en gesondheidsrisiko’s grootliks onveranderd bly.

Die situasie herinner Van Rensburg aan Schubart Park in die middestad, waar jare van verwaarlosing tot soortgelyke veiligheids- en gesondheidsgevare gelei het.

In 2011 is inwoners van Schubart Park ontruim, maar die proses het later in die Konstitusionele Hof geëindig nadat bevind is dat die stad nie voldoende alternatiewe verblyf voorsien het nie.

Die toestand van die geboue het ook ’n direkte invloed op die entiteit se finansies.

Die behuisingsmaatskappy moes huurinkomsteteikens by sekere behuisingskemas vir selfversorgende bejaardes laat vaar nadat inwoners verskuif moes word en geboue onbewoonbaar geraak het.

Die finansiële posisie van die entiteit wek kommer, volgens Janse van Rensburg.

Die gewysigde sakeplan toon dat die entiteit se bedryfslaste oorskry sy bedryfsbates met meer as R25-miljoen.

“Hierdie is nie ’n tegniese glipsie nie; dit is ’n ernstige statutêre oortreding. Die behuisingsentiteit vernietig plaaslike kontrakteurs en klein ondernemings deur te versuim om betalings binne die wetlik voorgeskrewe 30 dae te vereffen weens swak kontantvloeibestuur,” sê Janse van Rensburg.

Nog ’n aspek van behuising wat onder die vergrootglas gekom het, is die metro se hantering van groot ontwikkelingsprojekte.

Die sakeplan toon dat projekte soos Chantelle en Timberlands van die behuisingsentiteit se projeklyste verwyder is omdat finansiering nie beskikbaar was nie.

Vir die VF Plus dui dit op swak beplanning. “Mens kan nie huise met leë beloftes bou nie,” sê Janse van Rensburg.

Terwyl diensleweringsdoelwitte afgeskaal word, toon die verslag dat uitgawes aan gekontrakteerde dienste met 68% toegeneem het, ’n styging van meer as R20-miljoen.

Die koste hou hoofsaaklik verband met sekuriteitsdienste en noodherstelwerk.

Volgens Janse van Rensburg betaal belastingbetalers toenemend vir noodingrypings terwyl bestaande infrastruktuur steeds verswak.

Die OG-verslag plaas ook die kollig op grondverkrygings deur die metro wat oor meer as ’n dekade strek.

Sedert 2011 het die stad sowat R516-miljoen bestee aan grondpersele van meer as 1 000 hektaar.

Verskeie van die projekte bly egter na jare steeds in die beplanningsfase.

Voorbeelde sluit in Zithobeni Heights in Pretoria-oos, wat reeds in 2013/14 aangekoop is maar steeds as ’n beplande gemengde ontwikkeling gelys word, asook Derdepoort 326-JR oos van East-Lynne in die Moot wat tien jaar ná dit aange koop is nog nie ontwikkel is nie.

Die Chantelle X39-perseel in Pretoria-Noord (Akasia), waarvoor R48-miljoen betaal is, se beplande sosiale behuisingsprojek is intussen gestaak.

Volgens die VF Plus weerspieël hierdie projekte ’n patroon waar grond aangekoop word sonder dat ontwikkeling binne redelike tydraamwerke volg.

Die party eis dat maandelikse vorderingsverslae oor die sewe onveilige geboue voortaan aan die betrokke komitee voorgelê word totdat inwoners veilig hervestig is.

Dit sê die kombinasie van vervalle geboue, swak huurinvordering, finansiële druk, stygende uitgawes en langdurige onontwikkelde grondprojekte dui op ’n behuisingsentiteit wat volgens hulle dringende strukturele ingryping benodig.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button