News

Internasionale Katdag: Katwelsyn verg verantwoordelikheid

Op 8 Augustus word Suid-Afrikaners aangemoedig om verantwoordelike keuses oor katteversorging te maak deur aanneming, sterilisasie en lewenslange sorg te prioritiseer. Tshwane Dierebeskermingsvereniging en Four Paws waarsku dat onverantwoordelike eienaarskap bydra tot die groeiende uitdaging van verwaarloosde, rondloper- en wilde katkolonies.

Tydens Internasionale Katdag op 8 Augustus word Suid-Afrikaners aangemoedig om verantwoordelik op te tree teenoor katte deur aanneming, sterilisasie en lewenslange versorging te prioritiseer.

Die Tshwane Dierebeskermingsvereniging (DBV) en ’n internasionale dierewelsynsorganisasie waarsku dat onverantwoordelike troeteldiereienaarskap bydra tot die groeiende uitdaging van rondloperkatte, gemeenskapskatte, vrylopende katkolonies en katte wat nie die nodige sorg ontvang nie.

Vrylopende katte sluit katte in wat verlate gelos is, wildgeworde of wildgebore katte sowel as rondloperkatte sonder ’n eienaar.

Sulke katte is ’n groot probleem vir die Tshwane DBV, volgens Jeanine Greatorex-Nieman, direkteur van die organisasie.

Sy sê vrylopende katkolonies word dikwels deur katbesorgdes sonder enige formele organisasie-struktuur, ingryping en sterilisasieplanne gevoer, wat veroorsaak dat meer katte na dieselfde gebiede beweeg omdat hulle maklik toegang tot kos kry.

“Dan kan plaagbeheer by sulke voerplekke oftewel beheerde voersentrums ’n probleem raak, want die katte vang nie die rotte nie. Die sentrum kan dan nie sy oudit as beheerde voerpunt slaag nie, want sulke sentrums mag nie enige vorm van plaagprobleme hê nie,” sê Greatorex-Nieman.

Volgens haar word sulke kolonies gewoonlik ook deur een persoon gevoer en is daar baie selde ’n rugsteunplan indien iets met daardie persoon gebeur.

Sy sê sulke kolonies moet deeglik gedokumenteer word met foto’s en volledige inligting oor elke kat deur die versorgers.

Die dokumentasie moet, volgens Greatorex-Nieman, besonderhede bevat soos wanneer die kat by die kolonie aangesluit het, of die kat gesteriliseer en ingeënt is, asook of die dier ’n mikroskyfie het.

Elke kat benodig ’n veilige en liefdevolle tuiste, en dit begin by eienaars wat bereid is om verantwoordelikheid vir die dier se hele lewe te aanvaar. Foto: Verskaf

Sy waarsku dat sulke katkolonies klein gehou moet word en dat onbeheerde voortplanting die probleem verder kan vererger.

Volgens haar, kan ’n wyfiekat reeds vanaf ongeveer 4 tot 6 maande oud dragtig raak en kan 2 tot 3 werpsels per jaar hê, met gemiddeld 4 tot 6 katjies per werpsel.

Volgens haar gebeur dit soms dat klein katjies uit kolonies verwyder en verkoop word sonder om gesteriliseer te word, waarna die katte weer aanteel en nuwe probleme veroorsaak.

“Mense moet asseblief hulle diere steriliseer. Katte wat nie gesteriliseer word nie, raak dikwels ons vereniging se probleem,” sê sy.

Greatorex-Nieman sê die organisasie ontvang gereeld oproepe van mense wat nie meer vir groot getalle katte kan sorg nie.

“Ons kry talle kere ’n oproep dat hulle het nou omtrent 30 plus katte en kan hulle nie meer voer nie. Ons word dan met die katte belas. Al wat ons vra is om asseblief katte, ook die in kolonies, te laat steriliseer.”

Sy doen ook ’n beroep op mense wat nie meer vir hul kat kan sorg nie om die dier eerder na hul organisasie te bring as om dit bloot by ’n beheerde katkolonie-projek af te laai.

“Dit is wreed om ’n huiskat net aan homself oor te laat, aangesien die dier moontlik nie in die buitelug sal oorleef nie,” sê sy.

Sy waarsku dat sulke katte gevaar loop om raakgery te word of aan siektes dood te gaan indien hulle nie ingeënt is nie.

Intussen beklemtoon internasional dierewelsynsorganisasie, Four Paws, tydens Internasionale Katdag die belangrikheid van verantwoordelike aanneming en versorging.

‘n Wyfiekat kan reeds vanaf ongeveer 4 tot 6 maande oud dragtig raak en kan 2 tot 3 werpsels per jaar hê, met gemiddeld 4 tot 6 katjies per werpsel. Daarom word sterilisasie, veral in vrylopende katkolonies, sterk aanbeveel. Foto: Verskaf

Die organisasie sê Suid-Afrika moet ook aandag gee aan die groot aantal rondloperkatte wat nie aan huishoudings behoort nie.

Nuwe Statistiek SA-data toon dat ongeveer 2 miljoen katte deur 1.3 miljoen Suid-Afrikaanse huishoudings besit word.

Four Paws waarsku egter dat hierdie syfer nie die groot aantal rondloperkatte insluit nie, wat beteken dat die werklike dierewelsynsuitdaging groter is.

Fiona Miles, direkteur van Four Paws Suid-Afrika, sê katte word dikwels as maklike troeteldiere beskou, maar dit is nie die volle werklikheid nie.

“Hulle is onafhanklike diere, maar hulle benodig steeds geselskap, versorging en ’n veilige, stimulerende omgewing om gesond en gelukkig te leef.”

Miles sê die besluit om ’n kat te kry moet nie bloot op gerief gebaseer wees nie. Katte het ingewikkelde gedragsbehoeftes, benodig ’n verrykende omgewing en vorm sterk bande met hul eienaars.

Volgens haar is die aanneming van katte uit skuilings ’n belangrike stap om die druk op dierewelsynsorganisasies te verminder.

Die organisasie sê daar is reeds talle ongewenste katjies en volwasse katte wat huise benodig.

“Daar is eenvoudig geen dierewelsynsregverdiging vir die teel van meer katte wanneer skuilings reeds oorlaai is nie. Deur aanneming te kies, gee jy nie net vir ’n kat ’n tweede kans nie, maar help jy ook om die las op oorlaaide reddingsorganisasies te verminder,” sê Miles.

Sterilisasie is volgens Four Paws een van die doeltreffendste maniere om ongewenste werpsels en lyding te voorkom. Dit geld vir katte wat binnenshuis woon sowel as katte wat buite leef.

“Sterilisasie is een van die doeltreffendste maniere om ongewenste werpsels te voorkom en lyding te verminder. Dit verbeter ook katte se gesondheid en help om gedragsprobleme te beperk,” sê Miles.

Sy beklemtoon ook die rol van gemeenskappe in die ondersteuning van beide huiskatte en rondloperkatte.

“Regoor Suid-Afrika sien ons ongelooflike medelye van mense wat gemeenskapskatte versorg, dikwels met baie beperkte hulpbronne. Hierdie pogings moet ondersteun word deur opvoeding, toeganklike veeartsenydienste en sterilisasieprogramme,” sê Miles.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button