News

Tshwane-raad keur begroting goed te midde van opposisie-protes

Die metro se goedgekeurde R58.5-miljard begroting het hewige politiese botsings ontketen, met die koalisieregering wat daarop aandring dat dit ’n groot finansiële ommekeer terwyl opposisiepartye dit as onrealisties en skuldgedrewe afmaak.

Opposisiepartye het die metro se goedgekeurde 2026/27-begroting as ’n ‘papieroefening’ bestempel wat ver verwyder is van die finansiële en diensleweringswerklikheid wat inwoners in die gesig staar.

Dit is ondanks die feit dat die metro daarop aandring dat die begroting ’n groot stap vorentoe is om die stad se finansies te stabiliseer.

Die Tshwane-raad het laas week Donderdag die metro se R58.5-miljard begroting vir die 2026/27-boekjaar goedgekeur, met die
ActionSA/ANC/EFF-geleide koalisie wat die meerderheidsteun stemme (110) ontvang het, terwyl opposisiepartye teen die begroting gestem het.

Die goedgekeurde begroting bestaan uit ’n R55.7-miljard bedryfsbegroting en ’n R2.8-miljard kapitaalbegroting, met die stad wat ’n R1.4-miljard bedryfvoordeel voorspel.

Tshwane adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Eugene Modise saam met Tshwane-burgemeester dr. Nasiphi Moya Foto: Argief

Volgens adjunkburgemeester Eugene Modise, wat ook as burgemeesterskomiteelid vir Finansies dien, weerspieël die begroting die tweede agtereenvolgende ten volle befondse begroting wat onder die huidige veelparty koalisieregering aangeneem is. Die Nasionale Tesourie het dit as voldoende aan die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) beoordeel.

“Hierdie mylpaal bevestig die veelparty koalisieregering se verbintenis tot verantwoordelike finansiële bestuur, versterkte bestuur, verbeterde fiskale dissipline en langtermyn finansiële volhoubaarheid terwyl dit Tshwane se finansies herstel, infrastruktuur moderniseer en dienslewering regoor die hoofstad verdiep,” het Modise gesê.

Hy het gesê die begroting is gevorm deur bekommernisse en prioriteite wat deur inwoners geopper is tydens die openbare deelnameprosesse wat die afgelope jaar regoor Pretoria uitgevoer is.

Die metro het gesê die begroting prioritiseer opgradering van water- en elektrisiteitsinfrastrukture, paaie en stormwaterstelsels, afvalbestuur, openbare veiligheid, interne munisipale kapasiteit-bou, menslike nedersettings en ekonomiese herlewing.

“Die ten volle befondsde status van die begroting bevestig dat die stad se verwagte inkomste voldoende is om beide die bedryfs- en kapitaalverpligtinge oor die mediumtermyn te finansier, terwy die stad se finansiële posisie beskerm word en volhoubare dienslewering ondersteun,” het Modise gesê.

Hy het bygevoeg dat die begroting die stad se strategie voortsit om uitgawes na infrastruktuurherlewing te herlei en interne munisipale kapasiteit te versterk.

Tshwane-burgemeester dr. Nasiphi Moya het gesê belegging in infrastruktuur bly een van die sentrale pilare van die begroting.

“Meer as R2.1-miljard is toegewys aan infrastruktuur-ontwikkeling en hernuwing,” het Moya gesê.

Sy het gesê water en sanitasie het die grootste kapitaaltoewysing in die begroting ontvang, met R715.8-miljoen in 2026/27 toegeken en meer as R3.1-miljard oor die medium termyn.

“Die befondsing sal opgraderings van afvalwaterbehandeling, reservoir uitbreidings, pypvervangingsprojekte en waterbesparingsmaatreëls ondersteun,” het sy gesê.

Moya het ook die stad se deurlopende skuldterugbetalingsooreenkoms met Eskom beklemtoon, wat in Desember 2024 geteken is.

Sy het beweer dat die huidige administrasie het reeds die stad ongeveer R700-miljoen in Eskom-rentekoste binne ’n paar maande gespaar het.

“Sedert ons aan bewind gekom het, het ons nog nooit briewe van Eskom ontvang waarin hulle dreig om toevoer af te sluit nie, want ons kom ons ooreenkoms na,” het Moya bygevoeg.

Opposisiepartye het egter die begroting sterk gekritiseer, en voer aan dat dit op onrealistiese inkomste-aannames steun en die verslegtende toestand van munisipale infrastruktuur en finansies ignoreer.

DA Tshwane-woordvoerder vir Finansies, Jacky Uys Foto: Argief

DA Tshwane se woordvoerder vir Finansies, Jacqui Uys, het die begroting ‘as goed op papier‘ beskryf maar dat dit ver verwyder is van die werklikheid.

“Dit is hoekom die burgemeester gedurende die begrotingstoespraak verdwyn het omdat sy geweet het dis nie geloofwaardig nie,” het Uys gesê.

“Die begroting is ’n papieroefening, met baie korttermynlenings en agterstallige skuld, terwyl die salaris-terugbetaling iets is wat die metro nie kan bekostig nie en die boekjaar met ’n kontanttekort van meer as R6.6-miljard sal afsluit, maak nie saak wat die administrasie sê nie.”

Uys het aangevoer dat inwoners steeds die prys betaal vir verswakkende infrastruktuur, stygende kragdiefstal en waterverliese.

“Tshwane verdien ’n burgemeester wat nie met ’n befondse begroting spot nie. Tshwane verdien ’n regte burgemeester wat inwoners se bekommernisse sal hanteer,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat die metro misdaadbekampingsmaatreëls soos CCTV-stelsels, hommeltuie en gewapende reaksie-ingrypings moet prioritiseer.

Mark Surgeon, VF Plus-raadslid. Foto: Verskaf

Vryheidsfront Plus (VF+) raadslid Mark Surgeon het ook die begroting verwerp en sê dit weerspieël nie die metro se ware finansiële toestand nie.

“Ons ondersteun nie die begroting nie, want dit is ’n dokument wat uit voeling is met die werklikheid. Die administrasie hou aan om op té positiewe inkomsteinsamelingsprojeksies staat te maak, terwyl dit faal om betekenisvolle hervormings toe te pas om die metro se finansies te stabiliseer,” het Surgeon gesê.

Hy het gewaarsku dat onopgeloste verkryging en probleme met voorsieningskettingbestuur groot bekommernisse bly.

“Jare van korrupsieskandale, twyfelagtige kontrakte en ’n gebrek aan aanspreeklikheid het die publiek se vertroue erg geknou. Inwoners verdien die versekering dat openbare gelde verantwoordelik en deursigtig spandeer word,” het hy gesê.

Surgeon het verder aangevoer dat die begroting polities gemotiveerd voorkom in stede daarvan dat dit gefokus is op volhoubare bestuur en dienslewering.

“Die metro moet ’n praktiese oplossingsgedrewe, terug-na-die-basiese benadering aanneem. Dit sluit in om inkomsteinsameling te versterk, voorkomende instandhouding van infrastruktuur, aanspreeklikheid te herstel, finansiële beheer te verbeter en dienslewering bo politiesgedrewe projekte te prioritiseer.”

Die debat het ook hoogs polities geraak tydens raadsverrigtinge, met Modise wat ’n aanval teen voormalige DA-geleide administrasies en opposisieraadslede geloods het.

“Die mense van Tshwane moet weet dat die gemors waarin die stad gedompel is, is deur talle mislukte DA-burgemeesters, soos Cilliers Brink, se toedoen. Dit was die DA-administrasie wt die Rooiwal-tender aan Edwin Sodi toegeken het en alle planne om veilige en skoon water aan Hammanskraal-gemeenskappe te lewer, vernietig het,” het Modise gesê.

Hy het verder vorige DA-administrasies daarvan beskuldig van die weiering om salarisse aan te pas vir munisipale werkers en het beweer dat dit die stad uiteindelik meer gekos het.

“As die DA-burgemeesters die werknemers geëer het, kon ons die stad miljoene gespaar het,” het hy gesê.

Hy het ook Uys direk tydens die raadsvergadering gekritiseer.

“Al waarvoor sy goed is is om op TikTok te wees, maar wanneer dit by syfers kom, siestog, sy is baie sleg, baie swak. Ek dink Uys moet finansiële rekenkundige klasse bywoon sodat sy beter ingelig kan wees,” het hy gespot.

ActionSA-raadslid Japhta Modiba Foto: Facebook

Japhta Modiba van ActionSA het die begroting verdedig en daarop aangedring dat dit behoorlik deur die Nasionale Tesourie beoordeel is.

“Ons begroting is geloofwaardig en is deur gekwalifiseerde professionele mense goedgekeur,” het Modiba gesê.

Hy het die DA daarvan beskuldig dat hulle sosiale mediaveldtogte inspan om die koalisieregering te diskrediteer.

“Die stad se finansies kan nie deur sosiale media opgelos word nie maar deur aksie. Die DA moet verantwoording doen vir die gemors waarin hulle Tshwane gelos het, en moet aanspreeklik gehou word vir die gebrek aan water in Hammanskraal. Hulle wil hê ons moet misluk, maar hierdie begroting weerspieël die prioriteite van ’n verantwoordelike, vooruitdenkende regering. Hierdie administrasie glo in dienslewering en diens aan die mense.”

Intussen, het die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa, gesê die metro se finansiële herstel demonstreer hoe die koalisieregering besig is om om die stad na jare van finansiële afname te stabiliseer.

Mabotsa het gesê toe die huidige koalisie aan bewind gekom het, het Tshwane R1.5-mijard aan Rand Water en R6.7-miljard aan Eskom geskuld.

“Vandag, net 20 maande later, is Suid-Afrika se hoofstad terug in die swart en het sy tweede suksesvolle volle befondse begroting ter tafel gelê,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat die stad se finansiële verbeterings ook deur internasionale graderingsagentskappe soos Moody’s en GCR Ratings erken is.

Mabotsa het daarop gewys dat die hervestiging van die Tshwane Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap van duur gehuurde kantore na opgeknapte kantore in stadsbesit in Centurion een voorbeeld is van kostebesparingsmaatreëls.

“Hierdie skuif het die koste van kantoorhuur meer as gehalveer, wat beteken dat ons Tshwane-inwoners miljoene rande elke jaar spaar,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat sommige van die besparings word herlei na infrastruktuurbeleggings en pogings om water- en elektrisiteitsverliese regoor die metro te verminder.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Itumeleng Mokoena

Itumeleng Mokoena is a skilled journalist with experience in investigative reporting, interviewing, photography, and writing accurate news. Based at Pretoria Rekord East, he covers various beats and is dedicated to informing and educating the community. With a diploma from Tshwane University of Technology and previous experience at Lowveld Media, he is a passionate and hardworking journalist.
Back to top button