’n Musiekman wat vir niks stuit nie
Wayne Hayden het al diep spore in die musiekbedryf getrap, nie net plaaslik nie maar ook oorsee. En sy storievertelkuns sluit meer as net liedjies in.
Om in gesprek met Wayne Hayden te tree is iets wat jou laat besef dat talent nie gekoop kan word nie – jy het dit of jy het dit nie. En hierdie man het dit – met woorde, met musiek, met liriek… hy kan nie vasgepen word met net een etiket nie.
Hierdie beskeie man – boorling van Welkom in die Vrystaat – is al jare lank ’n Pretorianer van die Moot. En wanneer hy sy lewenservaring met jou begin deel, kan jy nie help om te dink hoe die lewe se teenspoed in voorspoed omgedraai kan word nie. Hy is ’n voorbeeld hiervan.
Hayden is byna blind gebore met katarakte op albei oë, met ongeveer 10% sig. Tot op vierjarige ouderdom het hierdie nadeel hom ’n agterstand gegee, maar operasies op beide sy oë het hom in staat gestel om ’n normale lewe te lei. Later in sy lewe het ’n besering weer sy een oog se sig aangetas. Maar hy laat hom nie afsit nie.
Sy liggaamlike probleme was egter nie al wat sy kinderjare versuur het nie. Fisiese mishandeling van ’n baie erge graad, het gesorg dat hy selde of ooit vrede geken het. Die gevolg was stories. Elke keer as hy moes wegkom van ’n probleemsituasie het hy in sy kop begin stories maak. En, sê hy: “In my stories was ek nooit koud, honger of geslaan nie.”
Jare later het hy sy storievertellersinstink omgesit in musiek-storievertellings. Tans het hy ’n katalogus van meer as 800 liedjies wat volledig musikaal verwerk is.
Hayden het vir vier jaar lank koor gesing. Maar, aldus hom, is hy nie ’n sanger nie. Wat hy wel is, is ’n komediant. Pretorianers sal altemit die verhoognaam Boetie Brouwer ken. Hy het ‘stand up comedy’ die Afrikaanse benaming ‘Penorent Poefprater’ gegee, want die man is gesteld op sy taal. Afrikaans is ’n groot liefde, en so met die gesels, kom sy ander liefde ook na vore: geskiedenis.
Hy was dan ook ’n stigterslid van die Afri-Indies saam met Rea le Roux, en was tot 2023 nog aktief daarby betrokke as direkteur.
Die liedjieskrywery het gegroei uit sy komedie-vertoning, toe hy vyf liedjies geskryf en vervaardig het as deel van die vertoning.
Hayden staan vir niks terug nie. Hy het ’n unieke rekenaarprogram geskep waarmee hy musiek skep sonder enige kunstenaars se insette. En nee, dis nie ‘AI’ nie. “Ek gaan wel nie vertel hoe dit werk nie, maar dat dit uniek is, kan nie betwis word nie.”
Hy vertel dat sy mark grotendeels oorsee is, dat hy al agtergrondmusiek vir rolprente geskryf en vervaardig het, met meer musiek op sy kerfstok as wat ooit genoem kan word. Op die Afrikaanse musiektoneel is hy nie ’n vreemdeling nie. Van die kunstenaars wat al van sy liedjies opgeneem het, is Le Roux en Elme Churr en meer as ’n handvol liedjies vir die opkomende groep Nova, van sy mees onlangse werk.
Hy is so pas in kennis gestel dat sy liedjie “Oupa praat nie Brits nie” begin spore trap in die FAK Skryf’it liedjieskryfkompetisie. Ons wag om te sien hoe die liedjie vaar.
As mens sy Youtube-kanaal besoek (https://www.youtube.com/channel/UC7v2bYMsi-f8tQE1HIq8leg) vind jy hy kan in ’n verskeidenheid genres werk, hoewel hy sy voorliefde vir country aan sy ouma toeskryf. Maar country is ’n klein mark, gee hy toe. Daarom het hy hom voorgeneem om nie net in een genre te werk nie.
Hoe begin hy ’n liedjie skryf? Inspirasie kom hom nie kort nie. Dit word duidelik met die gesels. Hy vertel hoe hy besluit het om sy kop kaal te skeer, en toe hy sien hoeveel knoppe hy op sy kop het, toe dink hy: “Elke knop vertel ’n storie” en hieruit vloei toe die liedjie Padkaart van my lewe.
Bespeel hy ’n instrument? ’n Lang vertelling volg waarin hy vertel wat dit geverg het om sy kitaar einde ten laaste te leer bespeel. Hy speel ook mondfluitjie, en skryf ook in Engels.
Op my vraag antwoord hy dat daar twee kunstenaars is vir wie hy graag ’n liedjie sou wou skryf: Celine Dion en plaaslike sanger Monique Steyn.
Die digkuns van menswees is wat hom opgewonde maak oor liedjieskryf, vertel Wayne. “Daar is so ’n rykdom van stories, ook in ons eie Afrikaanse geskiedenis, wat in musiek oorvertel kan word.”
En as mens dan oor geskiedenis en Afrikaanse taal begin praat, word sy passies duidelik. Hy noem ook sommer gou Etienne le Roux se Toorberg as een van sy drie gunstelingboeke – die ander twee is I am David en Animal Farm.
Hy is tans besig met ’n graad in Videospeletjies Ontwikkeling. Met sy werk, sy studies en sy musiek, staan Zoey en hulle twee hondekinders almal in sy lewensirkel. Hou maar dop: hy is nog lank nie waar hy heen op pad is nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
