Krone vir omgee
Jonk en oud het vanjaar aan die skoonheidskompetisie deelgeneem. Gemeenskapsgees en glans het hand aan hand gegaan toe die vyfde Mej, Mev en Mnr Moot-kompetisie nie net nuwe wenners gekroon het nie, maar ook waardevolle steun aan die President Kruger Kinderhuis gebied.
Die vyfde Mej, Mev en Mnr Moot-skoonheidskompetisie is op 30 Mei in 24ste Laan, Rietfontein, aangebied.
Die President Kruger Kinderhuis in Pretoria was vanjaar die amptelike liefdadigheidsorganisasie. Elke deelnemer in die agt kategorieë het, as deel van hul inskrywingsfooi, van die kinderhuis se mees benodigde items geskenk. Die donasies help die kinderhuis om in die basiese behoeftes van 63 kinders te voorsien.
Gemeenskapsbetrokkenheid was die hoofdoel van die kompetisie – en die gemeenskap hét betrokke geraak. Kosstalletjies, wat deel gevorm het van NG Kerk Rietfontein-Noord se jaarlikse wintermark, het gesorg vir verversings vir deelnemers en ondersteuners.
Plaaslike ondernemings het ’n magdom pryse geskenk, terwyl ’n indrukwekkende groep hoofborge gehelp het om die geleentheid moontlik te maak. As deel van die inisiatief het skole van deelnemers ook finansieel gebaat, met ’n gedeelte van die opbrengs wat terugvloei na die onderskeie skole.
Die 44 deelnemers het die beoordelaars beïndruk met hul persoonlikhede, selfvertroue en loopplankvaardighede. Volgens die beoordelaars was die standaard besonder hoog, wat die aanwys van wenners geen maklike taak gemaak het nie. Deelnemers tussen die ouderdomme van 4 en 47 jaar het hul beste gegee.

Die wenners was: Lara Venter (Miss Petite), Leandi Bender (Miss Junior), Stoffel Smit (Mr Junior), Hes-Marie Erasmus (Miss Pre-Teen), Wynand Boshoff (Mr Pre-Teen), Laruchelle Erasmus (Miss Teen), Reshoketsoe Monare (Miss Moot) en Jani Tait (Mrs Moot).
Die organiseerders, Nadine Barkhuizen en Cindy Wolmarans, was aangenaam verras deur die belangstelling in die plaaslike kompetisie. Hulle is trots op die groei wat die kompetisie oor die afgelope vyf jaar getoon het.
“Die wyse waarop plaaslike besighede en individue sonder aarseling na vore getree het om hierdie doel te ondersteun, maak ’n mens trots om deel van die Moot-gemeenskap te wees,” het Wolmarans ná afloop van die geleentheid gesê.
Die twee organiseerders is reeds besig met beplanning vir die 2027-kompetisie en hoop om nóg meer ondersteuning vir plaaslike gemeenskapsprojekte te genereer.
Die hoofborge van die geleentheid was GrieQ Clothing, RealNet Rainmaker, SkinPHD Queenswood, JAJ Motors, Dongfeng Pretoria en FA-CUP Booster Drinks.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel
