Local newsNews

Owerhede verskuif bejaardes tydelik uit Eersterust-tehuis

Provinsiale owerhede en die raad van ’n Eersterust-ouetehuis het hul verbintenis herbevestig om saam te werk om die woongerief vir bejaardes te herstel en te versterk.

Die raad van die Lodewyk P. Spies Tehuis in Eersterust in die Moot het bevestig dat werk reeds aan die gang is om probleme by die instelling aan te spreek.

Dit nadat die Gautengse Department van Maatskaplike Ontwikkeling aangekondig het dat 84 inwoners tydelik na ander geregistreerde versorgingsgeriewe verskuif sal word.

Die aankondiging volg op ’n moniteringsbesoek en betrokkenheidsessie wat op 2 Junie deur die departement, die raad en bestuur van die tehuis gehou is as deel van pogings om die regte, waardigheid, veiligheid en welstand van ouer persone te beskerm.

Die voorsitter van die raad, Ruth Lawrence, sê die raad werk reeds saam met die departement om toestande by die tehuis te verbeter.

“Werk is reeds aan die gang om die kwessies wat deur die departement geopper is aan te spreek en om toestande by die ouetehuis te verbeter,” sê Lawrence.

Die departement het aangekondig dat inwoners tydelik na befondsde en geregistreerde versorgingsgeriewe verskuif sal word terwyl operasionele uitdagings, nakomingsvereistes en opknappingswerk by die tehuis afgehandel word.

Volgens die departement sal die verskuiwingsproses met sensitiwiteit bestuur word om die veiligheid, gerief en voortgesette welstand van inwoners te verseker.

Geskikte geriewe is reeds geïdentifiseer en planne is in plek om te verseker om onderbrekings in sorg tot die minimum te beperk.

Die departement werk ook saam met gesondheidseenhede en ander belanghebbendes om te verseker dat inwoners gedurende die oorgangstydperk steeds die nodige mediese en ondersteuningsdienste ontvang.

Volgens die departement is mediese assesserings van inwoners reeds gedoen om individuele gesondheidsbehoeftes tydens die verskuiwing in ag te neem.

Familielede is van die verwikkelinge ingelig, en waar familielede nog nie bereik is nie, word huisbesoeke aanbeveel om voortgesette kommunikasie en ondersteuning moontlik te maak.

Die tehuis huisves tans 84 ouer persone uit Eersterust en omliggende gemeenskappe en lewer reeds vir baie jare residensiële sorg- en ondersteuningsdienste.

Een van die werknemers is reeds 34 jaar aan die instelling verbonde.

Tydens die besoek het die departement en die raad ooreengekom op onmiddellike en mediumtermyn-ingrypings om bedrywighede te versterk, nakoming te verbeter en die standaard van sorg te verhoog.

Die departement het ook die vordering erken wat die raad reeds gemaak het ten opsigte van nakomingsvereistes, veral rondom die goedkeuring van bouplanne.

Die goedkeuringsproses word as ’n belangrike stap beskou om ’n gesondheidsertifikaat te bekom, wat ’n vereiste vir toekomstige befondsing is.

Lawrence het ook gereageer op verwysings na ’n taakspan wat in sommige gesprekke en kommunikasie genoem is.

“Die taakspan waarna voorheen in sekere gesprekke en kommunikasie verwys is, is nooit amptelik saamgestel, gemagtig of deur die raad van direkteure of die department erken nie,” sê sy.

“As gevolg daarvan is enige inligting, bevindings of aanbevelings wat aan die taakspan toegeskryf word, nie onafhanklik geverifieer of formeel deur enige van die partye aanvaar nie.”

Volgens haar sal die departement en die raad intussen voortgaan met gesprekke met die metro oor die uitstaande huurooreenkoms rakende die eiendom waarop die tehuis geleë is.

Sy beklemtoon die oplossing van dié kwessie word as noodsaaklik vir die langtermyn-volhoubaarheid en operasionele stabiliteit van die instelling beskou.

Alle partye het verder ooreengekom dat die tehuis opknappings- en infrastruktuurverbeterings sal ondergaan om nakoming te versterk, lewensomstandighede te verbeter en die gehalte van sorg vir inwoners te verhoog.

’n Omvattende en gesamentlik gekoördineerde plan sal die tydelike verskuiwing van inwoners en hul uiteindelike terugkeer na die tehuis bestuur.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button