Haas Das vier 50 jaar met poppemeesters se sprankelende opvoering
Met die nuwe verhoogproduksie van Haas Das se Nuuskas word die trotse erfenis van almal se gunsteling haas voortgesit. Ou gunstelinge keer terug, nuwe liedjies word bekendgestel en ’n nuwe geslag kry die kans om kennis te maak met die nuuskierige haas wat reeds vyftig jaar lank stories vertel.
Vyftig jaar nadat Haas Das die eerste keer Suid-Afrikaanse TV-kykers gegroet het met “Goeienaand dames en here…”, kry die geliefde haas weer nuwe lewe op die verhoog.
Die poppeteater-opvoering Haas Das se Nuuskas maak ’n draai op 15 en 16 Julie by die AfriForum Teater.
Vir die gehoor wag daar nie net ’n nostalgiese terugblik nie, maar ook splinternuwe liedjies en bekende karakters wat al geslagte lank deel van Afrikaanse kindervermaak is. Saam met Haas Das verskyn onder meer Bettina Bobbejaan, Moeder Raaf en Piet Muis.
Die produksie word gedra deur twee mense wat hul lewens aan poppeteater gewy het: die ervare teatermaker Dulinda Taljaard wat Piet Muis speel en die jong poppemeester Imile Wepener wat die rol van Haas Das inneem.

Vir Taljaard is die wêreld van handpoppe al dekades lank haar tuiste.
Sy het drama aan die Universiteit van Pretoria studeer en wou van die begin af in kinderteater spesialiseer. Op 22-jarige ouderdom het sy haar eerste poppeteatervertoning in Bronkhorstspruit aangebied en kort daarna haar eie teatermaatskappy, EnterActive Productions, gestig.
Meer as twee dekades later is sy steeds besig om gehore te vermaak en op te voed.
Taljaard onthou die goue jare van Afrikaanse teater in die Staatsteater gedurende die vroeë negentigerjare. Toe dié era egter teen die draai van die eeu tot ’n einde kom, moes sy belangrike besluite neem.
“Ek moes die pot aan die kook hou en ’n keuse maak: wil ek ’n aktrise wees of ’n gesinsmens en ma van twee seuns? Ek het op opvoedkundige teater besluit,” sê sy.
Daardie besluit het gelei tot ’n loopbaan waarin sy duisende kinders bereik het deur middel van stories, handpoppe en lewenslesse.
Haar betrokkenheid by Haas Das strek terug tot 2008 toe sy die vertoning vir die eerste keer verhoog toe geneem en vertolk het.
Die verhoog- en TV-weergawe is deur Louise Smit geskryf, die skepper van TV-programme Wielie Walie en Miena Moo. Smit woon deesdae in Duitsland.
Benewens Haas Das se Nuuskas bring Taljaard en haar span ook opvoerings van Martie Preller se geliefde Babalela-verhale gereeld na gehore.
Vir haar bly handpoppe ’n unieke manier om mense te bereik.
“Poppekuns maak mense gesond omdat handpoppe grense tussen mense kan oorskry. Kinders raak kwaad vir ’n handpop byvoorbeeld as hulle ontsteld is tydens ’n vertoning en nie vir ’n mens nie. Dit help hulle om van gevoelens ontslae te raak,” sê sy.
Volgens Taljaard is die aantrekkingskrag van Haas Das steeds net so sterk.
“Haas Das word ’n stem in jou kop en vir talle kykers het die stem gebly lank nadat die program nie meer gebeeldsaai word nie,” sê sy.
Sy glo ook dat poppeteater lank nie net vir kinders bedoel is nie.
By EnterActive Productions, waar meer as 500 handpoppe in die voortdurende ontwikkelende Die Sonnekas-produksie wag om ’n rol te speel, leef ’n skatkis van karakters voort. Bekendes soos Sonnetjie en Blommetjie bly gewild, terwyl nuwe stories voortdurend ontwikkel word om by hedendaagse uitdagings aan te pas.

Onlangs is ’n produksie op versoek geskep om die waarde van respek by leerders tuis te bring. Die karakter Spekkie is deur Taljaard geskep en is is gebaseer op die bekende spekbome.
Taljaard sê poppe bied ook ’n veilige manier om moeilike onderwerpe aan te spreek.
“Met handpoppe kan jy moeilike goed op ’n maklike manier verduidelik.”
Temas soos lewensvaardighede en selfs die invloed van sosiale media word gereeld in opvoedkundige produksies aangeraak.
Wepener is ’n jong kunstenaar met ’n diep liefde vir die kuns van poppespel. Hy het van kleins af in die wêreld van teater en poppe grootgeword.
Sy ouers en Taljaard ken mekaar reeds sedert hul dae by Laerskool Kruinsig in Kempton Park.
Hoewel hy gemaklik is met tradisionele handpoppe, lê sy grootste passie by die vervaardiging van poppe uit hout. Hy beplan om binnekort na Ysland te reis om meer oor dié kunsvorm te leer en sy vaardighede verder te ontwikkel.
Wepener het ook opleiding ontvang in die kuns van marionette en het by die bekende Tobie van Eck meer oor die outydse kunsvorm geleer.
Sy betrokkenheid by die nuwe Haas Das-produksie bring vars energie na ’n karakter wat al vir ’n halfeeu deel van die Afrikaanse kultuurlandskap vorm.
Die regie en verhoogproduksie word deur Taljaard gedoen. Die rolverdeling is soos volg: Dulinda Taljaard speel Piet Muis; Monique Barnard is Betina Bobbejaan en Boeboe; Wessel Craukamp vertolk Bakkies en Moeder Raaf, Leila Roos is Kleinstinkie Muishond en Imile Wepener is die stem agter Haas Das, Koning Leeu en Grootoomflapoor Olifant.
Die herdenking is besonder betekenisvol omdat Haas Das nie net ’n gewilde karakter is nie, maar ook ’n belangrike deel van Suid-Afrikaanse TV-geskiedenis.
Die eerste episode van Haas Das se Nuuskas is op 8 Januarie 1976 uitgesaai toe Suid-Afrikaanse TV amptelik begin het. Die program was die heel eerste program wat kykers te siene gekry het.
Oor die jare het Haas Das veel meer as bloot ’n TV-persoonlikheid geword. Vir baie mense is hy deel van hul kinderjare en ’n karakter wat van geslag tot geslag oorgedra word.
Taljaard beskryf hom as volksbesit. “Die diere van Diereland waaroor hy berig beeld ook die foute, gierigheid en maniere van regte mense uit en dit opsigself maak Haas Das en sy vriende tydloos.”
– Kliek hier vir ’n blik op Haas Das en Piet Muis se manewales:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel
