EntertainmentLifestyleNews

Solo-kunstenaar vind op 40 nuwe hoop met liedjie vir sy seun

Ná jare as sessiemusikant en ná die verlies van sy dogter, Mila, sing Jeremy James in sy nuwe liedjie oor ouerskap. Die kunstenaar sê sy seuntjie, Luke, se helder blou oë het die liedjie geïnspireer.

Op 40 het Jeremy James besluit dit is tyd om sy eie stem te laat hoor.

Ná jare as sessiemusikant in die orkeste van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars, het hierdie liedjieskrywer en sanger van Pretoria-Noord die besluit geneem om sy eie pad as onafhanklike kunstenaar te stap.

Vandag verdeel hy sy tyd tussen sy gesin van vier, die familie se konstruksieonderneming en sy groot passie: musiek.

“Ek was altyd net ’n sessiespeler,” sê James. “Maar deesdae skryf ek liedjies en sing ook self.”

Sy nuutste enkelsnit, My Liewe Kind, wat in Junie uitgereik is, is waarskynlik sy mees persoonlikste werk tot dusver.

Die lied is geïnspireer deur die verlies van James en sy eggenoot Rudine se dogtertjie, Mila, en die nuwe hoop wat sy seuntjie, Luke, weer in hul lewe gebring het.

“Die liedjie is geïnspireer deur my eie pad van verlies en nuwe vreugde,” verduidelik hy.

“Die lied herinner aan my dogtertjie, Mila, wat op vierjarige ouderdom oorlede is, maar ook aan die geluk en lig wat my seuntjie, Luke, ’n jaar later in ons lewens gebring het. Dit is ’n viering van liefde en hoop, bittersoet herinneringe, en die klein wonderwerke wat kinders in ons lewens bring.”

Die oorsprong van die lied lê in ’n eenvoudige oomblik wat James nooit sal vergeet nie.

“Ek het Luke op ’n dag so in sy groot blou ogies gekyk en was skielik oorweldig deur emosies en het geweet dis tyd vir my om ’n lied oor ouerskap te skryf; ’n lied wat die lewe vier.”

Daardie oomblik het hom laat besef dat die verhaal ná verlies nie noodwendig net een van hartseer hoef te wees nie.

Jeremy James, sanger, liedjieskrywer en musikant. Foto: Elize Parker

Vir James gaan My Liewe Kind nie net oor afskeid nie, maar ook oor die vermoë om weer vreugde raak te sien.

“Op moeilike dae herinner die lied ons dat al wat mens soms nodig het, is om in jou kind se oë te kyk,” sê hy. “Om weer die vreugde van die lewe te voel, trots te ervaar, en die lewe selfs in sy luisteraars te sien weerspieël. Kinders leef met ’n besondere intensiteit wat mens so vrylik in hulle oë kan sien.”

Hy glo kinders leer volwassenes om weer met verwondering na die lewe te kyk.

“Deur hulle kan ons die wêreld weer waardeer, met al sy hoogtepunte en laagtepunte. Die liriek ‘jou pad is lank, maar jou tyd is nou’ herinner ons aan die broosheid van die lewe, veral van ‘n kind wie se tyd te kort was, maar wie se nalatenskap altyd sal voortleef. Dit is ’n uitnodiging om daardie kosbare oomblikke vas te hou en die liefde en vreugde te koester wat julle gedeel het, selfs al is hulle nie meer by ons nie, hetsy vir ’n tyd of vir altyd.”

James is in 1984 op Grootfontein gebore en het in Pretoria grootgeword. Sy liefde vir musiek het reeds op skool begin toe sy ma hom aangemoedig het om kitaarlesse te neem.

In 2004 het hy formele musiekopleiding by Gerrie Pansegrouw begin, iets wat uiteindelik sy beroepspad sou bepaal.

“Ek het eintlik nooit geweet wat ek met my lewe wou doen totdat ek met musiek begin het nie,” vertel hy.

Hy het daarna ’n voltydse sessiemusikant geword en vir bykans ’n dekade saam met kunstenaars soos Bok van Blerk, Eden, Gerhard Steyn, Bobby van Jaarsveld en Karlien van Jaarsveld opgetree.

“Daardie eerste tien jaar op die pad was ongelooflik,” sê hy. “Nou vind ek myself liedjies uitdink wanneer ek bestuur. Die lied begin as ’n gedagte en soos ek ry, voltooi ek dit in my kop. Dit gebeur amper outomaties.”

Ná jare op die verhoog het hy ’n blaaskans geneem en by die familie se konstruksieonderneming aangesluit. Dit was ook in hierdie tyd dat hy sy vrou, Rudine, ontmoet het. Hulle is getroud en Mila is in 2018 gebore.

Toe sy in Januarie 2023 oorlede is, het sy wêreld onherroeplik verander.

“Toe Mila oorlede is, het ek besef dat ek so ’n ervaring moet deel in ’n gedeelte van my musiek om dit werklik te verstaan. Jy besef dat jy vandag dalk die pyn van verlies kan oorleef, maar daar sal ook tye wees wanneer jy nader aan die hemel voel, en ander tye wanneer jy net probeer asemhaal en aanbeweeg.”

Hy sê die ondersteuning van familie, vriende en ’n lojale gemeenskap het sy gesin deur die donkerste dae gedra. Hierdie ondersteuning is vir hom ’n faktor wat so ’n belangrike rol in die genesingsproses speel.

“Ons het moeilike tye beleef, maar ons familie en gemeenskap het ons gehelp om sterk te staan.”

Daardie ervaring het ook sy vorige enkelsnit, Tussen Hemel en Hel, gevorm, ’n lied wat handel oor die op- en afdraandes van die lewe wat soms soos hemel en soms soos hel kan voel.

“My liedjie My Liewe Kind verskil van Tussen Hemel en Hel,” sê James. “Daardie lied was oor die vasklou aan hoop tussen die hemel en die hel van ons daaglikse lewe. My Liewe Kind is ’n viering van die lewe tussen ouer en kind.”

Hoewel hy sy solo-loopbaan eers op 40 begin het, glo James dit is nooit te laat om ’n nuwe droom na te jaag nie.

Sy debuut-enkelsnit, Dans Vanaand, wat in 2025 uitgereik is, het die Top 20 op radiostasies gehaal en die grondslag gelê vir sy loopbaan as solo-kunstenaar.

Hy beskryf sy musiek as liedjies wat mense nader aan mekaar bring.

“Musiek is bedoel om ’n klankbaan vir die lewe se saamwees te wees,” sê hy. “Ek wil die soort liedjies skryf wat mense nader aan mekaar bring en herinneringe aan goeie tye uit die verlede, hede en toekoms oproep.”

Hy sê hy probeer ook elke dag leef volgens Mila se gunsteling-lewensmotto, wat haar nalatenskap geword het: “Always be kind, loving and caring, okay?”

Die okay aan die einde was tipies Mila se eie humor en is vandag steeds ’n kosbare herinnering aan haar.

Hoewel hy die veranderende musiekbedryf dophou en glo kunsmatige intelligensie het ’n plek as hulpmiddel, meen hy egte stories sal altyd die kern van goeie liedjies bly.

Vir James is dit uiteindelik hierdie ware stories waaruit hy inspirasie put. En elke keer wanneer hy in sy seuntjie Luke se oë kyk, word hy weer herinner waarom My Liewe Kind geskryf moes word.

“Want die lewe in al sy fasette is gemaak om gevier te word. Dit is God se geskenk aan ons.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button