Sakevrou ploeg kennis terug in gemeenskap
Daleen Gouws vier tien jaar in die kommunikasiebedryf met ’n nuwe fokus op teruggee aan die gemeenskappe wat haar ondersteun. Sy deel ook sosiale media-opleiding met gemeenskappe en skole, met die doel om kennis, vaardighede en ondersteuning wyer te versprei.
’n Sakevrou van die Oos-Moot vier vanjaar ’n dekade in die kommunikasiebedryf met ’n stil soort dankbaarheid teenoor haar Skepper en ’n groeiende behoefte om terug te gee op verskeie maniere aan die gemeenskap wat haar gevorm het.
Vir Daleen Gouws is dit nie een groot projek wat die verskil maak nie, maar eerder verskeie kleiner maniere waarop sy en haar span hande kan uitreik na mense en ondernemings wat ondersteuning benodig.
Die jongste hiervan is ’n inisiatief waar Gouws en haar span van Edge Communications hul tyd en kundigheid gratis beskikbaar stel om bemarking en kommunikasie vir tien genomineerde klein besighede in die Pretoria-omgewing te ontwikkel.
Dit is egter nie die enigste manier waarop sy betrokke raak nie.
Sy het ook ’n meer gemeenskapsgerigte fokus begin ontwikkel rondom opleiding en bewusmaking.
Een van haar deurlopende projekte is ’n weeklikse sosiale media- en kommunikasie-inisiatief wat sy op Dinsdae om 18:00 aanbied – gerig op skole, leerders en ouers.
Die doel is om mense meer bewus te maak van hoe die digitale wêreld werk en hoe om dit verantwoordelik te gebruik.
“My boodskap is eenvoudig,” sê sy. “Wees waaksaam, wees versigtig, weet wie jy is en waar jy inpas.”
Sy glo veral dat jongmense toegerus moet word met praktiese kennis oor sosiale media, nie net as gebruikers nie, maar as kritiese denkers in ’n vinnig veranderende wêreld.
“Dit is vir my belangrik om iets terug te gee aan gemeenskappe,” sê sy. “As jy kennis het, moet jy dit deel.”
Gouws, wat oorspronklik van KwaZulu-Natal kom en op ’n plaas tussen Utrecht en Vryheid grootgeword het, sê haar idee van sukses het oor die jare verander. Vir haar gaan dit nou ook oor impak en toeganklikheid vir gemeenskappe.
“Dis belangrik vir my dat wat ons doen nie net in kantore bly nie,” sê sy. “Ons projekte en die van ons kliënte moet mense bereik en help waar hulle is.”
So is haar maatskappy betrokke by talle projekte wat hulle vir maatskappye sonder winsbejag ontwikkel soos Ons Tuis se resepteboek.
Haar eie onderneming het begin lank voordat sy ooit soos ’n sakevrou gevoel het. Voor haar studietyd op Potchefstroom het sy aanvanklik gedroom van grafiese ontwerp, maar uiteindelik op kommunikasiekunde as ’n rigting besluit. Dis ’n besluit wat haar loopbaan sou vorm.
Sy onthou ’n vroeë lewensles waarmee ’n familielid haar lewenskeuses beïnvloed het: dat werk iets moet wees waarvoor ’n mens soggens met ’n glimlag moet kan opstaan.
“Dit moet elke dag vir jou lekker wees om werk toe te gaan,” sê sy.
Haar eerste werkervaring as kommunikasiekundige was by die TLU SA se kantoor in Silverton, waarna sy later by Solidariteit Netwerk betrokke geraak het. Sy beskryf dié jare as vormend en belangrik in haar ontwikkeling.
Tien jaar gelede het sy haar eie maatskappy begin, ’n stap wat sy beskryf as beide opwindend en lewensveranderend. Dit is ’n getuigskrif vir haar bekwaamheid dat haar eerste kliënt haar eerste werkgewer was en steeds ’n kliënt is.
Mettertyd het sy ook begin verstaan hoe sentraal kommunikasie in alle besigheidsbesluite staan, selfs al word dit nie altyd so, veral in Suid-Afrika, erken nie.
“Dit gaan nie net oor mooi woorde of bemarking nie,” sê sy. “ Dit gaan oor maatskappye se reputasie.”
Sy verwys gereeld daarna dat ’n handelsmerk meer is as ’n produk of diens en wel ’n identifikasie van die ervaringe wat mense het regdeur elke aspek van jou maatskappy.
Benewens haar besigheid en gemeenskapswerk, maak Gouws ook tyd vir opleiding en kennisdeling. Sy doseer van tyd tot tyd by instellings soos Unisa en Akademia, iets wat sy as besonder betekenisvol ervaar.
“Wanneer studente die akademie kan toepas en die praktiese kant begin verstaan, verander hulle hele perspektief,” sê sy.
Vir haar is daardie oomblikke net so belangrik soos enige kliënteprojek.
“Ek het die voorreg om met wonderlike kliënte te werk, by wie ek elke dag iets leer. Maar ek het ook besef dat selfs in tye van groot uitdagings is daar een standvastige plek waar my krag vandaan kom: God Drie-enig.”
Tuis is sy ’n ma van twee dogters, Chrisni (10) en Danika (17), en die eggenoot van Philip.
Sy sê haar gesin bly haar anker, selfs te midde van ’n vol werkslewe en groeiende gemeenskapsverpligtinge.
Sy en haar man bestuur elk hul eie ondernemings, maar verstaan mekaar se uitdagings en ondersteun mekaar in hul onderskeie paaie.
Met haar tienjaar-mylpaal kyk sy nie net terug op groei in haar onderneming nie, maar ook op ’n verskuiwing in haar rol as kommunikasiekundige.
“As ons kan help, hoekom nie?”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
