News

Keer boedelprobleme so, raai kenner aan

Families kan ná ’n sterfte met ernstige onsekerheid, koste en toegangsprobleme gelaat word. Sonja Smith-Janse van Rensburg waarsku dat belangrike besluite betyds geneem moet word.

Die gebrek aan ’n geldige testament, lewenswil en georganiseerde digitale inligting kan families ná ’n sterfte met ernstige praktiese en emosionele probleme laat, sê Sonja Smith-Janse van Rensburg van Elite Funeral Group.

Die kwessie sal op 20 Augustus om 10:00 in die kerksaal van die Riviera-Jakaranda-kerk bespreek word tydens die Dapper Gesprekke-reeks wat deur die kerk aangebied word saam met die Vereniging vir Demensie en Alzheimer van Suid-Afrika.

Volgens Smith-Janse van Rensburg is ’n testament slegs een deel van behoorlike vooruitbeplanning.

Mense behoort ook vooraf besluite oor mediese sorg te dokumenteer, belangrike boedel- en persoonlike dokumente te orden en voorsiening te maak vir hul digitale nalatenskap.

Sy wys daarop dat een van die belangrikste onderskeide wat gemaak moet word, is tussen ’n Laaste Wil en Testament, en ’n Lewende Testament.

’n Testament bepaal wat ná ’n persoon se dood met sy of haar boedel moet gebeur.

’n Lewenswil-dokument bepaal daarenteen die persoon se wense oor mediese behandeling en sorg indien hy of sy nie meer self kan kommunikeer of besluite kan neem nie.

’n Lewende Testament kan volgens Smith-Janse van Rensburg onsekerheid, konflik en emosionele spanning vir families en gesondheidsorgpraktisyns verminder.

Hoewel dit tans nie deur spesifieke wetgewing in Suid-Afrika gereguleer word nie, word dit algemeen erken as ’n belangrike uitdrukking van ’n persoon se wense en selfbeskikkingsreg.

Sy waarsku dat familie nie noodwendig outomaties die regsbevoegdheid het om namens ’n persoon finansiële of sekere mediese besluite te neem wanneer daardie persoon nie meer bevoeg is nie.

Nog ’n algemene misverstand is dat ’n Lewenswil dieselfde as ’n Volmag is.

Volgens Smith-Janse van Rensburg verval ’n gewone Volmag wanneer die prinsipaal nie meer die nodige verstandelike bevoegdheid het nie. “’n Lewenswil is juis bedoel vir omstandighede waarin ’n persoon nie meer in staat is om oor sy of haar mediese sorg te kommunikeer of besluite te neem nie.”

Die kwessie kan veral belangrik wees vir families wat met Alzheimer se siekte of demensie te doen kry.

Smith-Janse van Rensburg sê mense moet ook ophou om boedelbeplanning as iets vir slegs ouer of welgestelde mense te beskou.

Sy meen dit behoort reeds deel van ’n volwassene se verantwoordelike persoonlike en finansiële beplanning te wees wanneer hy of sy die arbeidsmark betree, trou of kinders kry.

Vir ouers is voogdyskap vir minderjarige kinders ’n besondere oorweging. Dit is volgens haar uiters belangrik om ’n voog te benoem indien albei ouers gelyktydig sou sterf.

Die gevolge van geen geldige testament kan volgens haar direk raak aan wie uiteindelik erf.

“Mense wat jy nie wou hê moes erf nie, gaan dalk net jou intestate erfgename word,” sê sy.

Digitale nalatenskap is ’n verdere risiko wat volgens Smith-Janse van Rensburg toenemend aandag vereis.

E-posrekeninge, sosialemedia-profiele, aanlyn bankdienste, wolkberging, foto’s, video’s, dokumente, intekeninge, lojaliteitsprogramme, kriptogeldeenhede en domeinname kan alles deel van ’n persoon se digitale nalatenskap wees.

Die probleem is dat ’n wagwoord alleen nie noodwendig toegang verseker nie.

Verifikasiekodes kan na ’n selfoon of e-posrekening gestuur word, terwyl ’n verifikasie-toepassing of verdere toegangskode ook nodig kan wees.

Smith-Janse van Rensburg sê families kan ná ’n sterfte gevolglik vasgekeer word in ’n ketting van sekuriteitsmaatreëls.

“Na watter e-posadres is die verifikasiekodes gestuur?” vra sy. “Was daar ’n verifikasie-toepassing (Authenticator App) op die oorledene se selfoon?”

Sy sê die veilige bewaring van wagwoorde, Pin-kodes, wagfrases, herstelkodes en ander toegangsinligting behoort deel van vooruitbeplanning te wees.

Dit kan in ’n veilige Wagwoordbewaarboek of ’n geënkripteerde digitale kluis gestoor word, terwyl vertrouelinge moet weet hoe om toegang daartoe te verkry wanneer dit nodig word.

Boedeladministrasie kan ook vertraag word deur faktore wat mense nie noodwendig voorsien nie.

Smith-Janse van Rensburg beklemtoon dat voldoende kontant of likiede bates beskikbaar behoort te wees om skuld, belasting en boedelkoste te betaal, insluitend kapitaalwinsbelasting, boedelbelasting en eksekuteursfooie.

Sy waarsku ook dat ’n boedel selfs sonder skuld kan sloer weens vertragings met onder meer uitklarings van Jan Taks.

Sy beveel aan testamente moet jaarliks hersien word of wanneer ’n groot lewensveranderende gebeurtenis plaasvind, soos die dood van ’n eggenoot, egskeiding, die geboorte van ’n kind of kleinkind, of die aankoop of verkoop van vaste eiendom.

’n Testament moet ook behoorlik uitgevoer word. Smith-Janse van Rensburg sê dit moet gedateer en onderteken word voor twee getuies van 14 jaar en ouer wat in ’n hof kan getuig.

Persone wat erf of as eksekuteurs of trustees aangewys word, asook hul eggenote, behoort nie as getuies te teken nie.

“Jy kan nie die toekoms voorspel nie, maar jy kan jou geliefdes voorberei,” sê sy. “Moenie wag totdat siekte, ’n ongeluk of ouderdom jou dwing om besluite onder druk te neem nie.”

Smith-Janse van Rensburg sê haar ervaring van bykans 30 jaar in die begrafnisbedryf het haar oortuig dat die grootste probleme dikwels ontstaan omdat besluite nie betyds geneem word nie. “Vooruitbeplanning is uiteindelik ’n geskenk aan die mense wat eendag moeilike besluite namens jou sal moet hanteer.”

Sy raai mense aan om advies by ’n kundige finansiële adviseur te kry en om nie te wag totdat ’n krisis hulle dwing om besluite onder druk te neem nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button