News

Hof versterk kinderbeskerming in skole

’n Hofbevel verplig onderwysdepartemente om alle persone wat met kinders werk teen die Kinderbeskermingsregister te verifieer. Die SAOU verwelkom die stap, maar waarsku dat groter sistemiese veranderinge nodig is om leerders se veiligheid en beskerming te verseker.

Onderwysaktivisgroepe Die Teddiebeer-stigting en SECTION27 het ’n hofgoedgekeurde skikking verwelkom wat daarop gemik is om kinderbeskerming in skole te versterk.

Die skikking verplig die Departement van Basiese Onderwys en provinsiale onderwysdepartemente om alle werknemers teen 31 Maart 2027 teen die Nasionale Kinderbeskermingsregister te verifieer.

Die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het op 28 Julie ’n skikkingsooreenkoms tussen die partye goedgekeur en as ’n hofbevel bekragtig.

Die bevel vereis dat alle individue wat met kinders werk, nagegaan moet word teen die Kinderbeskermingsregister om te verseker dat persone wat nie geskik is om met kinders in kontak te wees nie, nie in sulke poste aangestel word nie.

Volgens die Teddiebeer-stigting en SECTION27 is die maatreëls daarop gerig om kinders se reg op veiligheid, waardigheid en basiese onderwys te help beveilig, terwyl dit ook groter aanspreeklikheid binne die onderwysstelsel moet bevorder.

Woordvoerder Gillian Pillay van SECTION 27 sê die stappe is noodsaaklik om die beskerming van kinders in skole te versterk.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) ondersteun die hofbevel teen die Departement van Basiese Onderwys en die verpligting dat alle opvoedkundige personeel wat kontak met leerders het, teen die Kinderbeskermingsregister geverifieer moet word.

Paul Sauer, uitvoerende hoof van SAOU, sê bewerings van seksuele wangedrag deur opvoeders dui op ernstige uitdagings in die Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Volgens hom is die beste belang van die kind die boublok vir die onderwysstelsel en moet skole veilige ruimtes bly waar die fokus op onderrig en leer val.

Sauer wys daarop dat die uitdaging rondom kinderbeskerming nie net deur registrasie en verifikasie opgelos kan word nie.

Volgens hom moet die proses ook aandag gee aan die sistemiese probleme wat kinders se veiligheid kan beïnvloed.

Die organisasie beklemtoon dat die gebrek aan kapasiteit by polisiestasies en die Departement van Justisie leerders ook in gevaar kan stel.

Volgens Sauer kan die onvermoë van ’n stelsel om oortreders behoorlik te ondersoek en te vervolg, daartoe lei dat sake oor seksuele oortredings vir lang tydperke uitgestel word.

“Die verbetering van die Kinderbeskermingsregister-verifikasieproses moet deel wees van ’n breër poging om die uitdagings binne die stelsel aan te spreek. Die ondersoek en opvolg van moontlike oortredings moet voldoende aandag geniet om te verseker dat kinders beskerm word,” sê Sauer.

Hy voer ook aan dat die verifikasieproses uitgebrei behoort te word na opvoeders wat die openbare onderwysstelsel verlaat, maar daarna in ander provinsies of in privaat onderwysstelsels begin werk.

Benewens die verifikasie van personeel, beklemtoon hy die belangrikheid van befondsing vir voorkomende programme.

“Ondersteuningstrukture vir emosionele welstand op skoolvlak, asook voldoende beskikbaarheid van maatskaplike werkers, moet voorop gestel word,” glo Sauer.

Hy beklemtoon dat die veiligheid en beskerming van leerders nie net die verantwoordelikheid van onderwysinstellings is nie, maar ook die betrokkenheid van die breër gemeenskap vereis.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button