News

Moot-skrywer se Jan Alleman-karakters wag op hoop

In die denkbeeldige dorp, Sanniesherberg, kruis mense se lewens voortdurend, terwyl droogte, geheime, skuld en verlies deel van die daaglikse bestaan word. Martin van Rensburg vertel waarom sy blik op hierdie klein dorp en die mensdom lesers moet laat lag, nadink en stadiger oordeel.

Die beeld waarmee Moot-skrywer Martin van Rensburg lesers in sy boek Sanniesherberg wil agterlaat, is dié van ’n stoep waar mense wag op reën wat telkens elders val.

Die eerste ding wat besoekers aan die denkbeeldige dorp egter volgens hom moet raaksien, is die stof: in die strate, op die stoeptrappe, winkelvensters en mense se skoene.

In sy selfgepubliseerde boek speel liefde, verlies, skuld, genade en hoop ’n rol. Die karakters ken mekaar, maar verstaan mekaar nie altyd nie.

Die skrywer vertel hoe die denkbeeldige dorp, Sanniesherberg, ontstaan het en waarom die deurlopende tema in die boek van stof meer as net droogte verteenwoordig.

Sanniesherberg het nie met ’n dorp begin nie, maar met ’n karakter.

Volgens Van Rensburg, ook personeellid van Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria en vantevore ’n entrepreneur in die inligtingstegnologiebedryf, het die konsep vir die bundel ontstaan uit ’n vervolgverhaal wat hy jare gelede oor Hermientjie en haar kêrel, Piet Broekies, geskryf het.

“Sy was aanvanklik een van die karakters,” sê Van Rensburg.

Sanniesherberg is ‘n boek met universele karakters in ‘n dorp wat die skrywer Martin van Rensburg self opgemaak het. Foto: Elize Parker
Beskrywing: Boek

Hoewel Hermientjie vlugtig in Sanniesherberg verskyn, is haar verhaal nie in die bundel ingesluit nie.

Van Rensburg werk egter tans daaraan om die oorspronklike vervolgverhaal in ’n roman te omskep, omdat hy glo Hermientjie se verhaal behoort vertel te word.

Sanniesherberg self is doelbewus moeilik om op ’n kaart te plaas. Lesers verskil oor waar hulle dink die dorp geleë is. Sommige plaas dit in die Karoo, ander in Noordwes en sommige selfs in Namibië.

“Die waarheid is egter dat net twee partye werklik weet waar Sanniesherberg geleë is: ek, as skrywer, en elke leser in sy of haar eie verbeelding,” sê Van Rensburg.

Hy het die ligging bewustelik vaag gehou sodat die dorp bekend kan voel sonder om aan een bepaalde streek verbind te wees. Die geloofwaardigheid van Sanniesherberg lê volgens hom eerder in die besonderhede: die stof, winkel, kerk, herberg en inwoners wie se lewens voortdurend met mekaar kruis.

“Sanniesherberg bestaan nie op ’n kaart nie, maar ek hoop dit voel asof dit kan.”

Die mense van die dorp vorm die kern van die verhale.

Van Rensburg gebruik hulle om die gemeenskaplike menslikheid wat hy met lesers deel, te ondersoek. Die karakters is nie bedoel as volmaakte helde of heiliges nie, maar as gewone mense met gawes, tekortkominge, foute en soms absurde oortuigings.

“Ek dink daar is ’n bietjie Vark Visagie of Piet Pille in elkeen van ons. Dalk selfs ’n tikkie van Dominee Verster.”

Juis deur dit moontlik te maak vir die lesers om vir die karakters te lag, hoop Van Rensburg dat lesers later iets van hulself in hulle sal herken.

Hy verduidelik die inwoners word deur droogte en armoede gekonfronteer, maar hulle bly hardkoppig genoeg om aan te hou glo dat daar moontlik ’n reënwolk op die horison kan wees.

Die inwoners dra ook almal geheime, en volgens Van Rensburg is dit juis die geleidelike onthulling van die verlede wat lesers se nuuskierigheid prikkel.

Verhale waarin die verlede stadig ontvou, laat lesers volgens hom voel “asof hulle iemand stukkie vir stukkie leer ken”.

Elke geheim kan ’n bestaande indruk van ’n karakter verander en wys dat mense nie noodwendig is wat hulle aan die wêreld voorhou nie.

In die boek steun die inwoners dikwels op hul eie intuïsie en afleidings, en gebruik die weergawe wat hulle van ander mense skep soms om hul eie optrede te regverdig.

Die skarlakenvrou van Sanniesherberg en die oorspronklike herbergier is volgens Van Rensburg voorbeelde hiervan.

In albei gevalle verwerp die gemeenskap die feite ten gunste van ’n eenvoudiger weergawe van die waarheid wat by hul bestaande opvattings pas.

Die verskillende verhale in die bundel is verweef omdat die karakters dieselfde kultuur, opvoeding en omgewing deel. ’n Persoon wat in een verhaal slegs op die agtergrond verskyn, kan later die middelpunt van ’n ander verhaal word. Dieselfde gebeurtenis kan ook vanuit verskillende perspektiewe gesien word.

“Die kern daarvan lê in die ou gesegde dat elke storie drie kante het: myne, joune en die waarheid.”

Martin van Rensburg, skrywer. Foto: Elize Parker

Van Rensburg identifiseer tot ’n mate met al die karakters omdat elkeen volgens hom op sy eie manier ’n uitvloeisel van sy persoonlikheid is.

Hy het probeer om stereotipe kartonkarakters te vermy en aan elkeen hul eie foute, gawes en eiesoortighede te gee. Indien hy wel een moes kies, sou dit waarskynlik Horowitz, die dorp se winkelier, wees.

Uiteindelik hoop Van Rensburg dat lesers Sanniesherberg met ’n gevoel van herkenning sal lees. Hy wil hê hulle moet saam met die inwoners lag en seerkry, maar ook iets van hulself in dié mense raaksien.

Sy boodskap is dat lesers ná die laaste bladsy “’n bietjie stadiger sal wees om te oordeel en ’n bietjie vinniger om genade te betoon”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button