News

Kenners sê: Prioritiseer moedetaalonderwys

Moedertaalonderwys, lees, identiteit en die rol van Afrikaans in kinders se ontwikkeling was onder die temas wat tydens die Afrikaans Taalraad se jaarlikse Vrouedagpaneelgesprek bespreek is.

Vroue met uiteenlopende agtergronde, ervarings en perspektiewe het tydens die Afrikaanse Taalraad se jaarlikse Vrouedagpaneelgesprek op 11 Augustus saamgesels oor die rol en invloed van vroue in huishoudings, gemeenskappe en werkplekke. Die besondere rol wat vroue speel in die behoud, groei en oordrag van Afrikaans is ook bespreek.

Die paneel het bestaan uit Mercia Eksteen, Maryna Besseling, prof. Marné Pienaar en Angelic Louw, met Sue Pyler-Slabbert as gesprekleier.

Die gesprek het verskeie temas aangeraak, waaronder moedertaalonderwys, lees, kinderontwikkeling, identiteit en die plek van Afrikaans in die samelewing.

Pienaar het as akademikus die belang van moedertaalonderwys beklemtoon en gesê kinders behoort toegang te hê tot onderwys in die taal waarin hulle die maklikste leer.

“Om nie toegang tot moedertaalonderwys te hê nie, is ’n sonde teen die mensdom. Lees is die grondslag van leer. Dit stel ’n behoorlike basis vir enige onderwys. Mens leer makliker in jou moedertaal as in enige ander taal. Kognitiewe vaslegging in ’n tweede of derde taal is eenvoudig moeliker.”

Volgens Pienaar kan die gebrek aan moedertaalonderwys ook ’n invloed hê op ’n kind se identiteitsontwikkeling en gevoel van waar hy hoort en behoort.

“Die gemiddelde kind wat nie toegang tot moedertaalonderwys het nie, kan ook hul sin vir identiteit verloor. Ek het self nie eers ’n persoonlikheid in Engels nie! Mens weet ook nie waar jy inpas as jy nie toegang tot moedertaalonderwys as ’n reg het nie.”

Die gehoor het aan die gesprek deelgeneem deur boeke en stories uit hul kinderjare op te roep, waaronder Vlooi, Thomas.net, Boet en Sus, sowel as ander tradisionele leerleesboeke soos Mossie en Baas en Sus en Daan.

Die hoofkarakters in die eersgenoemde was die seuntjie, Baas, en sy getroue klein mossie wat hom oral gevolg het. Sus en Daan was ook ’n absolute legende onder die ou Afrikaanse skoolleesboeke. Dit was deel van die bekende Silwerboomreeks waarmee duisende kinders in die 1950’s, 60’s en 70’s in Sub A (graad 1) en Sub B (graad 2) leer lees het.

Die baie bekende ou Afrikaanse primêre skool leesboekreekse ‘Baas en Mossie’ en ‘Sus en Daan’, waarmee baie mense in die vroeë jare leer lees het, is tydens die Afrikaanse Taalraad se besprekingsdag deur lede van die gehoor genoem as boeke wat hul leesgewoontes gevorm het. Die hoofkarakters in die eersgenoemde was die seuntjie Baas en sy getroue klein mossie wat hom oral gevolg het. Sus en Daan was ook ’n absolute legende onder die ou Afrikaanse skoolleesboeke.

Die paneel het verder kommer uitgespreek oor veranderende leesgewoontes in huishoudings.

Volgens die deelnemers lees ouers nie meer so gereeld hardop vir hul kinders soos in die verlede nie, en verlange is deur die panel uitgespreek na ’n tyd toe kinders nog op ’n ouer se skoot kon klim terwyl ’n gedrukte boek saam gelees is.

Die toenemende gebruik van skerms beteken volgens die paneel ook dat sommige kinders nie meer noodwendig eers meer weet hoe om deur ’n gedrukte boek te blaai nie.

Mercia Eksteen, ATKV-kommunikasiehoof, het die sukses van die organisasie se boekprogramme beklemtoon. Boeke in ’n kind se moedertaal kan volgens haar kinders en leerders anker en hulle selfvertroue gee.

Die ATKV se voorleeswerkswinkels vir ouers is deur haar as ’n belangrike inisiatief uitgelig.

Die gesprek rondom lees het beklemtoon dat ouers verantwoordelikheid moet neem vir hul kinders se leesgewoontes en ’n aktiewe rol in leesontwikkeling moet speel.

Die rol van vroue en hul verskillende identiteite was nog ’n belangrike tema.

Pyler-Slabbert het daarop gewys dat vroue oral waar hulle kom met verskillende rolle gekonfronteer word.

“Orals waar jy kom het jy ’n ander rol as vrou hetsy jy nou in jou tekkies of hoë hakskoene is.”

Maryna Besseling, kommunikasiehoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, het vertel hoe Afrikaans van jongs af deel van haar lewe was.

“Vandat ek klein is, het ek ook Afrikaans aktief geluister veral as ek weggekruip het onder die tafel om na die volwassenes se gesprekke aan tafel te luister en ook na die radio. Vandag is ek onbeskaamd Afrikaans.”

Besseling het Afrikaans beskryf as ’n belangrike deel van haar identiteit. “Afrikaans is die mens wat ek is al is ek ook gemaklik in Engels.”

Sy het verder gesê Afrikaans hoef nie op ander taalsprekers afgedwing te word nie. “Die taal is self so mooi, dit sal self harte bekoor.”

Sy het ook vertel dat dit vir haar besonders was om op ’n nuwe manier by die unie se werksaamhede betrokke te wees. Vanjaar moes die vakbond volgens haar saam met ander vakbonde vir mediese regte veg, iets wat sy saam met ander taalsprekers vanaf ’n verhoog in Afrikaans voor ’n gehoor van 3 000 moes doen.

Die paneelgesprek het uiteindelik een boodskap sterk na vore gebring: Vroue se stemme en hul invloed maak saak en die manier waarop hulle daardie invloed gebruik, maak ’n verskil aan gesinne en gemeenskappe.

Afrikaans het volgens die gesprek ’n lang pad van die kombuistafel tot die raadsaal gestap en speel deur vrouetaalgebruikers steeds ’n belangrike rol in die taal se voortbestaan en groei.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button